Geseënd is dié wat die gawe het om vriende te maak, want dit is een van God se grootste geskenke. (Anoniem)
Liewe vriendin, ek bid vir jou, ek bid vir volkome genesing na liggaam, siel en gees te midde van ‘n onverwagse kanker diagnose, te midde van die feit dat die mat onder jou uitgepluk is en jy vervaard gryp na geloof, na Hom en hoop.
Ek bid vir jou vriendin, vir genade, die genoeg-genade waarvan Paulus praat. Die genade wat inskop wanneer jou krag min is, wanneer jy swak en verganklik voel.
Ek bid vir jou vir rus en herstel onder die vleuels van Vader, ek bid vir jou vir krag om jou kindertjies styf vas te hou, vir genoeg genade om elke minuut van elke uur van elke dag moed te hou.
Here, laat U hand van genesing rus op hierdie kosbare vriendin, mag die son van redding oor haar skyn, die son van redding met genesing in sy strale. (Mal. 4:2)
Here, maar vandag bid ek veral dat U wil vir hierdie vriendin na aan my hart se lewe sal geskied. (Matt. 6:10) Ek bid ook dat U die goeie werk wat U in haar begin het, end-uit sal voer en voleindig tot op die dag wanneer Christus Jesus kom. (Filip. 1:6)
Liewe stukkende-hart vriendin, ek bid vir jou… Here so baie vriendinne se huwelike lê aan skerwe by hul voete, hulle stap die bittere pad van egskeiding, alleen, eensaam en verstote. Here, en ek weet in hulle harte voel ‘n deeltjie bietjie gebreek, ‘n deeltjie onbemind, maar die grootste gedeelte van hulle gebroke harte voel nie goed-genoeg nie.
Here, ek bid vir my vriendin vir HOOP, ‘n uitsien na wat gaan kom. Here, want ek weet U planne vir haar lewe is mooi en goed, U beplan vir haar voorspoed, nie teenspoed nie. U wil vir ‘n haar HOOP gee, ‘n toekoms. (Jer. 29:11)
Ek bid vir jou vriendin vir ‘n self-liefde, want jy is waardig… jou Pa in die hemel sê so. Hy wat jou bitterlik lief het, sê jy is genoeg. Hy wat jou in die moederskoot gevorm het verklaar jy is vir Hom kosbaarder as goud.
Here ek bid… genees haar stukkende hart, verbind haar wonde. (Ps. 147:3) Sy wat haar sorge by U voete laat, ek weet dat U haar nimmer as nooit in die steek sal laat nie! (Ps. 55:23) Here, dankie dat U haar hart hoor, elke smeekgebed vehoor, dankie dat U luister wanneer sy U aanroep. (Ps. 116:1-2) Here, U is haar sterkte, aan U behoort sy vir altyd. (Ps. 73:26)
Here, ek bid vir my vriendin wat ‘n stryd voer om die donker weg te hou! Here, hierdie stryd is ‘n daaglikse stryd, na liggaam en gees, ‘n ewigdurende stryd teen moedeloos voel en oorweldig en hopeloos, verlate en alleen…
Here, ek bid… buig af na my vriendin en hoor haar hulpgeroep. (Ps. 40:2) Gaan haar vooruit, wees by haar. Dankie Here, dat U haar nooit alleen laat nie, al voel dit vir haar soms so.
Here ek bid dat U wat die bron van HOOP is, haar deur haar geloof in U sal vervul met vreugde en vrede, sodat haar HOOP al sterker sal word deur die krag van U Heilige Gees. (Rom. 15:13) Here, U weet, sy gaan soms deur donker dieptes, laat haar nie bang wees nie, want U is by haar, in U hande, dis waar sy veilig is. (Ps. 23:4)
Ek bid vir jou, my gekroonde vriendin, jy wat ouderdom dra met wysheid en onderskeiding. Ek bid vir jou, vir genoeg krag, elke dag. ‘n Vars porsie, om jou dag se takies met blymoedigheid te kan doen.
Ek bid dat jy elke oggend doelgerig sal opstaan, met passie en vrede in jou hart. Jou werk hier op aarde is nog nie klaar, nie tot Hy so besluit nie, jou man, jou kinders, jou kleinkinders maak staat op jou gebede wat soos ‘n kleinood in God se skoot val. Jou gebede dra hulle, hou hulle veilig, versterk hulle…
Liewe Vriendin, ek bid vir jou, ongeag waar jy jou tans bevind, watter berg voor jou is wat oorkom moet word, bid ek vir jou dat jy in jou hart sal weet dat die Here jou vooruitgaan. Dat jy sal voel en glo dat Hy by jou is. Vriendin, hierdie God van my en jou sal jou nimmer as te nooit in die steek laat nie, nog minder sal Hy jou alleen laat in die lewensstorm waarin jy tans vasgevang is. Moenie bang wees nie, moenie skrik nie. die Here is jóú Herder… jy kom niks kort nie.
Here, ek bid vir my vriendinne, die wat ek goed ken, die wat ek net-net ken, die wat ek nie ken nie…
Lord, when she had nothing, desperate and defeated, she cried out to You nd You heard her, bringing Your miracle-deliverance when she needed it most. The angel of Yahweh, your angel, stooped down to listen as she prayed, encircling her, empowering her, and showing her how to escape. (Ps. 34;6-7 TPT)
Lord thank you for healing her wounds, every piece of her shattered heart. (Ps. 147:3) Lord, she has learned through all the heartache and pain to leave all her cares and anxieties at your feet, and time and again your measureless grace has strengthened her. (Ps. 55:22)
Lord, you are forevermore all she needs to feel whole and loved again. (Ps. 73:26)
AMEN
https://youtu.be/pPEMw-UCtyw?si=v7Y17-S7hlc_lBA3