Sjoe! Ek moet bieg. Ek het ernstig gewik en geweeg of ek hierdie stukkie moet skryf. Party onderwerpe is hopeloos te sensitief en meestal iewers bo-oor my kop en my verstandelike vermoëns, maar so gebeur dit dat twee mense my in een week kontak, bekommerd oor die einde van die wêreld, of meer akkuraat die Wederkoms.
Een ding weet ek verseker… vandag is ons nader aan die wederkoms as wat ons gister was… en dit klink soos ‘n gevatte opmerking… dit is nie. Dis ‘n sagte herinnering vriendin. Is ek en jy een van die verstandige meisies met oorgenoeg olie in ons lampies? Of gaan ons soos die onverstandige meisies op 99.9 rondskarrel opsoek na olie vir ons lampies om kort daarna voor dooiemansdeur te staan te kom?
Ek het al bietjie gedink aan die verstandige meisies, die 5 wat genoeg olie gehad het, kon hulle nie maar net so bietjie van hulle eie olie afgestaan het nie? Die slim mense sê die olie in die lampies verteenwoordig die Heilige Gees. Hier is die ding, wanneer die dag aanbreek en jou lampie is leeg, kan ek nie van my olie vir jou gee nie, want ek kan nie die Heilige Gees vir jou wees nie en nog minder kan ek die Heilige Gees vir jou gee. Die Heilige Gees van God daag nooit ongenooid op nie. Hy kom slegs op uitnodiging… het jy Hom al uitgenooi? Ingenooi liefste vriendin? Ek vra, want dis belangrik om te weet!
Jy kan nie die Heilige Gees in iemand anders in bid nie. Dis elke man vir homself. Elkeen moet die besluit neem… As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. (Rom. 10:9) Dis ‘n bely en glo met die hart wat jou red.
Jesus die Bruidegom, ons Bruidegom, het vooruitgegaan om plek vir ons te gaan voorberei by Sy Vader, maar ook my en jou Vader se huis. Jesus sê: “En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na my toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En julle ken die weg na die plek waar Ek gaan.” (Joh. 14:1-4)
Vriendin en as jy vervaard dink maar wat is die weg? Waar is die weg? Lees net twee versies aan: “Ek is die WEG en die WAARHEID en die LEWE. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur MY nie. (Joh. 6:14)
2 Petrus 3:10-13:
Die dag van die Here kom soos ‘n dief in die nag…
Leef vroom en toegewy aan God…
Leef in verwagting…
Ons leef met ‘n verwagting en ‘n belofte van God van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde waar die wil van God sal heers.
Hoe moet ons wag? Hoe moet ons intussen optree en leef? Vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom. (2 Petrus 3:14)
Wat jy wel moet weet is: Jy moet altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat jy dit nie verwag nie. (Matt. 24:44) Die gereed wees is belangrik, die datum nie!
Om te leef op ‘n gereedheids grondslag beteken om waaksaam te bly, omdat jullle nie weet watter dag julle Here kom nie. (Matt. 24:42) Dit beteken om weg te draai van sonde, om absoluut in afhanklikheid en ‘n onwankelbare geloof in Hom te leef. Om elke dag te leef met die besef dat Jesus vir my persoonlik gesterf het en wanneer ek sondig, wanneer ek val, dat ek sal opstaan, afstof en by die genadetroon om vergifnis sal smeek. Ons kan nie bly voortploeter in ons sondigheid en hoop en bid dat Hy net nie vandag… net nie nou kom nie.
En vrees, moet ons nie so bietjie bang wees ook vir die wederkoms nie? Vrees kom nie van die Here af nie, so ek gaan raai as jy met ‘n klomp vrese in plaas van vrede leef oor die hele einde van die wêreld besigheid dan moet jy dalk vinnig en ernstig jou hart ondersoek. (God het ons tog nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing. 2 Tim. 1:7 [2020])
God is geduldig met ons. Hy wil regtig nie hê dat enige iemand verlore gaan nie, maar ons moet pasop om geduld en genade met mekaar te verwar. Goeie werke sal nie maak dat Hy meer geduldig is met jou nie. Goeie mense gaan nie hemel toe nie, geredde mense gaan hemel toe.
Wanneer kom Hy? Hoe sal ons weet…? Daar is weer ‘n paar datums wat die ronde doen hoor ek so tussen-in. Daar was in die verlede ook ‘n paar uitgewerkte datums wat ‘boodskappers van die Here’ wyd en syd verkondig het. Ek glo wat die Woord van God sê… niks meer nie… en verseker niks minder nie. Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. (Matt. 24:36) Nou vra ek myself af, as Jesus, die Seun van God nie die spesifieke datum ken nie, Hy wat aan die regterhand van die Vader sit, wat by Hom in die hemel is… hoe sal ons dan ons ore uitleen vir allerhande voorspellings wat elke keer uitloop op niks. Jy hoef nie te weet nie… dis nie nodig om te weet nie, wat ek en jy kan doen is om gereed te wees… altyd gereed te wees.
Ek en jy is afgesonder vir Hom, en so moet ons leef. Ons kan nie toelaat dat die wêreld ons korrup, of deur die hier en nou verlei te word nie. God moet die middelpunt van jou en my bestaan wees, Hy moet belangriker wees as enige iets anders hier op aarde, dit sluit jou kinders, jou huwelik en jou aardse besittings in. Ons moet tyd maak vir God en God se dinge, God kan nie deel raak van ons prioriteitslysie nie, God moet ons alles wees. Die rede hoekom jy asemhaal, die rede hoekom jy bestaan. Deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. (Hand. 17:28)
Maranata- Kom Here Jesus…
Amen. Jesus wil nie hê dat een van Sy kinders moet verlore gaan nie. Ons moet Hom elke dag eerste stel in ons lewens. Kies die ware lewe. Baie dankie vir al die spesiale stukkies.
Verseker wil Jesus nie dat enige iemand verlore gaan nie… as mense dit net sal verstaan!♥
Ek wil elke dag meer en meer lees en leer
Wanner ‘n kind van God die WOORD van God lees,
word hy tot eer van God deur die GEES van God na die
beeld van God verander.
(Anoniem)