Ek staan vanoggend op en sien my selfoon is in die rooi, dis nou die battery. Ek sê nogals vir manlief, dis nou interessant. My selfoon is pap-pap en eintlik het dit die hele nag herlaai! Hy sê droogweg dis nie só interessant nie, want ek het nooit die prop in gedruk nie, net die selfoon gekoppel. Nou ja toe. Dan is my blonde oomblik vir die dag opgebruik, of was dit gister se blonde-oomblik. Ons sal maar sien hoe vandag verloop né!
En onmiddellik herinner Vader my aan die belangrikheid van ingeprop bly by Hom, maar ons weet dit eintlik… maar vanoggend se lessie was nie die ingeprop deel nie, maar die feit dat ons onder die indruk leef dat ons ingeprop is, maar nie noodwendig so ingeprop soos ons dink nie.
Miskien wil jy ook soos die Psalmdigters jou eie lot bekla voor die Koning van die heelal: My hart jaag, my krag het ingegee, ek kan nie eers meer sien nie. (Ps. 38:11) Ek kwyn weg van kommer, skenk my krag soos U in u Woord beloof het. (Ps. 119:28)
Wanneer dink jy kom ons agter ons was nooit volkome ingeprop in Sy krag nie? Dis wanneer die lewe fel raak, wanneer ons struikel en val en sukkel om uiteindelik regop te kom, dan kom die besef, my krag is op laag, pap, want ek was nie ingeprop in die ware kragbron nie. Ek is leeg, moeg en moedeloos. My battery is pap!
Miskien moet ons net vir mekaar sê die beste plek om die Here die heel meeste te vertrou is wanneer dit pikdonker om ons is. Hoekom? Alhoewel jy nie kan sien nie, sien Hy alles en Hy sal voorloop en jou uit die donkerte na die lig lei.
Die krag van God het die hele Skepping tot stand gebring met Sy Woord. Hy het gespreek, en dit was so. Dit is die Here wat met sy krag die aarde gemaak het, wat met sy wysheid die wêreld gevestig het en met insig die hemel oopgesprei het. (Jer. 10:12) Die krag van God is onskatbaar, oneindig groot. Is dit nie dieselfde krag wat in my en jou woon nie? Is dit nie dieselfde krag wat my en jou regop hou nie?
Paar maniere hoe mens die krag van God skoon kan mis. Jy vergeet om in te prop, of jy dink jy is ingeprop, jy is amper seker jy is, maar die lewe is so vinnig, ‘n gejaag na wind dat ons vergeet om seker te maak en dan kom ons eendag op ‘n reëndag agter ons is moeg, moedeloos, leeg…of miskien, en die is ‘n klip in die bos, ons het die Here lief, ons weet hierdie baie dinge van Hom, dat Hy goed is, groot is, alomteenwoordig is, vol majesteit en krag is, is daar dalk ‘n klein deeltjie van ons wat sukkel om oor te gee, om 100% volkome op Hom te vertrou. Om in afhanklikheid van Hom te leef? Ons is mos maar net mens, gemaak van stof, feilbaar…
Die ding van krag wat opraak en uitgeput raak, wanneer jy net so duskant moedverloor se vlakte sit, wanneer jou krag dan uiteindelik op is het ek en jy geen ander keuse as om terug te val op die krag van ons Heer en Meester nie, want Hy is my krag en my beskerming. (Ps. 118:14) Wanneer my krag op is, kom klop die oorbekende versie in 2 Korintiërs 12:9 altyd aan die deur van my hart. Fokus vriendin, kan jy hoor wat Hy vandag vir jou sê? “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”
Dis in kragteloosheid en magteloosheid wat jy juis die aangesig van jou Verlosser die helderste sien. Wanneer jy broodnodig het om die diepste in Sy oë te kyk. Wat jy met alle mag en krag wil uitreik en Hom aan Sy soom beetkry om net nooit weer te laat gaan nie. Wanneer jou krag op is… het jy Hom die nodigste. Is dit nie die kosbaarste plek om te wees nie? Ongemaklik, dog kosbaar!
Soms wanneer ons krag op is en ons weet nie diekant toe of daaikant toe nie dan moet ons nooit vergeet nie: Ek en jy is nie ‘n eiland nie! Ons is nie stoksielalleen nie. God het mense in ons lewens gesit om ons te help en te ondersteun. Selfs Moses, wat ‘n vriend van God genoem is, het nodig gehad dat Aäron en Hur sy arms hoog in die lug ophou. Ek en jy het ook nodig om wanneer ons krag aan die min kant is, mense toe te laat om ons arms in die lug op te hou.
Hoor bietjie wat God sê oor my en jou krag:
Liewe kragtelose kind naby My hart, My mag sal jou ondersteun, en My krag sal jou sterk maak. (Ps. 89:22) Keer op keer ontvang jy nuwe krag… (Ps. 84:8) Ek is die bron van jou krag. (Ps. 23:3) Ek gee die vermoeides krag, Ek versterk jou wat nie meer kan nie. (Jes. 40:29) Ek maak die moedelose weer vol moed. (Jer. 31:25) My krag is ewigdurend. (Rom. 1:20) Jou geloof is nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op My krag. (1 Kor. 2:5)
Vriendin, wat ‘n wonderlike troos, terwyl ek die versies so deurlees besef ek ‘n belangrike ding, ons word nie by geboorte met ons porsie krag uitgereik, en wanneer dit op is, is dit op. Nee, ons kry krag soos ons dit nodig het. Splinternuwe, broodnodige, Goddelike krag word uitgedeel, nie verdienstelike krag nie, maar genade-krag van die Ewigdurende Kragbron!
Soms is al wat oorbly om te roep na die Een wat my en jou geskape het. Om te roep na Hom wat luister, hoor…
Toe ek na U geroep het, het U my gebed verhoor en my nuwe krag gegee. (Ps. 138:3) Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind. (Ps. 84:6) U omgord my met krag, dis U wat my pad voorspoedig maak. (2 Sam. 22:33) U is my krag en my beskerming. (Ps. 118:14) U, my Here en my God, is met krag omgewe, U laat deur U krag die berge vas bly staan. (Ps. 65:7) Laat my vas staan ten midde van donkerte en ‘n tekort aan krag.
Aan U behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid. (Openb. 1:6) U is my krag en my beskerming. (Jes. 12:2) As dit gaan oor krag is U die sterke. (Job 9:19) U krag is groot, Here, u trou is oral! (Ps. 89:9) AMEN
Dankie dat jy ons so bemoedig en herinner wie ons kragbron is . Dankie .