A positive attitude gives you power over your circumstances instead of your circumstances having power of you. (Joyce Meyer)
Ek stem, ek moes nou self ‘n oomblik vat en dit net mooi laat insink. Gesindheid is ‘n tawwe toffie en dis meer as net ‘n woord, ‘n houding. Dis ‘n gemoedstoestand, ‘n uitkyk op die lewe of op ‘n spesfieke situasie of selfs teenoor ‘n spesifieke persoon.
Ek post vroeër die week die Spreuke versie op FB: die Here toets die gesindheid. (Spr. 21:2), maar heeltyd loop ek met die vae suspisie in my hart dat God eintlik baie direk met my praat oor gesindheid. Dis baie maklik om ‘n goeie gesindheid te hê, solank alles net volgens plan verloop, solank my appelkar net nie kantel en omval nie, solank niemand my hok skud nie, dan is mooi, goeie, christelike gesindheid nooit ooit my probleem nie.
As ma van 1/2 of ‘n hele spul kindertjies, ‘n vrou vir haar man en ‘n klomp ander rolle moet ons soms goed doen waarna ons regtig nie uitsien nie, moet ons op plekke wees waar ons regtig eerder nie wil wees nie. Dit veroorsaak ‘n ongemaklikheid wat grens aan opstandigheid. En dis wanneer my gesindheid nie altyd so positief daarna uitsien nie. Ek werk daaraan… Ek dink ook nie ek is die enigste een nie, ek weet jy weet presies waarvan ek praat!
Ek het besluit gesindheid kort ‘n glyskaal van 1 tot 10 soos pyn ‘n glyskaal het. Waar nil, gits nee, jy kan nie nil kry nie, dan is daar iewers ‘n versteekte diagnose of jy is reeds dood en verlore, 1-4 is ‘n vrot gesindheid, 5-7 probeer jy hard, maar val so nou en dan van die bus af, 8-9, jy is naby aan ‘n ‘saint’ wees, jy het dit al amper heeltemal vervolmaak, en 10 reserveer ons vir Jesus. Net Hy kan 10 kry. Jy kan jou 10 in die hemel loop kry!
Soms is my gesindheid so mooi en goed en reg en lekker, maar ander dae wanneer ek iets moet doen waarvoor ek regtig egtig nie lus is nie, raak die glyskaal ‘n glyplank en ek moet behoorlik vasskop om nie heeltemal van die skaal af te gly verkeerde kant toe nie. Probleem met my en jou is meermale dink ons, ons gesindheid is mooi en goed na buite, maar as mens na die gesigsuitdrukking, en die liggaamshouding kyk, vertel dit ‘n storie van onwilligheid en ‘n minder mooi gesindheid.
Die ergste van alles, ons kan mense bedrieg, hulle laat glo, met aangeplakte vriendelikheid, dat ons gesindheid reg is, maar vir God kan ons nie lieg, bedrieg of ‘n vrot gesindheid wegsteek nie. All the ways of man are clean and innocent in his own eyes [and he may see nothing wrong with his actions], But the Lord weighs the motives and intents [of the heart and knows the truth]. (Prov. 16:2 AMP)
Ons strewe na ‘n karakter soos Jesus, ‘n gesindheid soos Syne. And consider the example that Jesus, the Anointed One, has set before us. Let His mindset becomes your motivation. (Phil. 2:5) Ek dink sommer onwillekeurig aan Jesus in Getsemane, ek dink aan die vrees en die angs, en die bloeddruppels wat op die grond drip en insypel tussen klip en sand… ek kan myself nie eers indink nie. Hy sê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.” Dan smeek Hy God: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan…” Dit vra Hy twee keer in een aand. (Matt. 26)
In Lukas 22 vers 44 staan: Hy het in doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val. Sy gesindheid op die pad van pyn en lyding is nie ‘n selfbejammerde, arme-ek houding nie.
Te midde van die pyn, lyding en doodsangs is Hy bekommerd oor die mense om Hom. Smeek Hy Sy Vader… vergeef hulle, hulle wat besig is om my te vermink en te vermoor, want hulle weet nie wat hulle doen nie. Johannes, kyk asb na My ma, sy is nou jou ma.
Maar vriendin, as Sy gesindheid soms soos joune en myne moet lyk sou die gesprek tussen Vader en Seun anders gelyk het: “Vader hoekom moet ek instaan-sterf vir hulle almal? Ek is onskuldig, sonder sonde. Ek is dan U enigste Seun! Hulle is net aangenome kinders. Ek wil dit nie doen nie, Ek hoef dit nie te doen nie! Ek gaan dit nie doen nie! ” En dan uiteindelik sterf Hy, onwillig vir my en jou met ‘n gesindheid wat wat sê?
Maar Sy gesindheid is vol liefde, omgee, vrede, verstaan… genade, te midde van die trauma, dood… staan Sy liefde vas vir my en jou deur die eeue heen. Bly sy gesindheid onwankelbaar, terwyl Hy in die dood se afgryslike gesig staar.
Gratitude and attitude are not challenges; they are choices. (Robert J. Braathe)
‘n Goeie gesindheid is alles en ‘n keuse. So vriendin, ek werk kliphard aan hierdie struikelblok in my lewe. Ek probeer om reg te kies, om ‘n goeie gesindheid bo ‘n vrot ene te kies.
Ek dink ook gesindhede behoort juis gemeet te word buite gemaksones, daar waar die appelkar op sy, sy lê en dit net appels is waar jy kyk! Gesindhede behoort gemeet te word wanneer ons daar is waar ons nie wil wees nie, wanneer ons dinge doen meer uit plig en minder uit plesier. Laat vaar al julle oortredings en kry ‘n nuwe gesindheid, ‘n nuwe gees. (Eseg. 18:31)
Ek weet nou nie waar jy is op die glyskaal nie, maar laat ons elke dag met hernude ywer probeer om ‘n standvastige, goeie gesindheid te kweek, om nader en nader aan 10 en Hom te beweeg. Ek los jou vandag met hierdie stukkie kosbare wysheid:
A great attitude becomes a great mood
Which becomes a great day
Which becomes a great year
Which becomes a great life.
(Mandy Hale)
Baie Dankie 💝