Ek al gesê ek hou van tee, ek dink dalk selfs meer as lekker koffie. As ek MOET kies, kies ek tee. Nie tee met allerhande volksvreemde bestandele soos blomme, kruie en speserye nie. Gewone tee. Joko of amper sê ek Rooi Rose. Ek bedoel 5 Rose. Ek drink so nou en dan rooibostee, maar ek verkies swarttee bo rooibostee.
Ons het ‘n oggend roetine wat tee insluit net na die wekker ons met ‘n skril geluid uit die land van vergetelheid terugskok in die hede in. Sjoe! Hande op! Wie haat ‘n wekker?Haat is sekerlik ‘n té sterk woord, hou minder van dan eerder? Nog geen wysie van enige wekker was al vir my aanvaarbaar nie, ek soek nog!
Iedergeval ek strompel die oggend dikoog kombuis toe… dis die eerste probleem as ek strompel beteken dit my beterhelfte is uitstedig en daar is niemand om tee aan te dra bed toe nie. Die tweede probleem is my oge is nie verniet dik en krapperig nie, want slaap het my ontwyk, wegkruipertjie gespeel die hele nag. So ek is effe iesegrimmig en omgekrap. Ek verlang! Gewoonlik help tee darem so klein bietjie…
Ek kook die ketel… en glo nou maar vir my, daar het ek ‘n gebreekte sakkie beet en dis net tee blare waar jy sien. Nou moet ek keuse maak, of ek gooi die hele spulletjie uit en los maar die eerste, belangrikste koppie tee van die dag, of ek krap in die kas vir die teesiffie wat ek weet iewers is, maar nie presies waar nie. Of ek kook net weer die ketel en maak vars tee met ‘n toe, heel teesakkie. Ek weet die ketel was gekook, probleem is, ek kook altyd net presies genoeg, so daar is nie ekstra water vir tweede probeerslae nie.
Nou kan jy glo dat een koppie tee soveel hoofbrekens kan veroorsaak? Gebeur dit nie soms so in ons lewens nie, dat ons moet keuses maak, groter keuses en probleme as geskeurde teesakkies? Ek praat ook nou nie noodwendig van besluite wat ons vanaand eet, of waar ons die naweek kamp nie. Ek praat van besluite met gewig.
Een ding van besluite het ek nou half en half vir myself uitgemaak na al die jare, wanneer dit kom by besluite, en ek praat nou ook nie van besluite of jy moet sonde doen of nie. Net gewone, moeilike besluite, die tipe wat jou grys hare gee. Moet ons trek, of bly ons? Hoërskool A of Hoërskool B? Vat ek die werk, of hang ek nog so bietjie vas… Daar is nooit ‘n besluit wat so verkeerd is wat sal maak dat God gaan terugstaan en by die vurk in die pad gaan sê: “Goed, dis nou hier waar ons paadjies skei nie!”
Wat jy ookal besluit, God gaan jou nie soos ‘n warm patat los, jou net daar in die steek laat nie! Nee Sy belofte is, en staan vas: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” (Heb. 13:5) Onthou altyd die volgende versie as die ongemaklikheid en onsekerheid aan jou knaag.
Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie. (Ps. 15:8)
Soms is mens in ‘n wagperiode vasgevang, wat jy wag vir leiding van Bo, “Vra dan, en vir jou sal gegee word, soek, en jy sal kry, klop, en vir jou sal oopgemaak word.” (Matt. 7:7) Vra, klop en soek is nie ‘n eenmalige handeling nie. Dis ook goed om in tye van wag op ‘n antwoord Filippense 4: 6 in jou hart rond te dra. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. Weereens, gebed, smeking en danksegging is nie ‘n eenmalige handeling nie.
Soms gebeur dit dat mens so deurmekaar is dat jy geen besluite neem nie, en eerder besluit om op die draad te bly sit vir ‘n rukkie. Besluite wat oorhaastig, en op die nippertjie geneem word is ook nie altyd van die wysste van besluite nie, oom Angus sê altyd: “When in doubt, don’t!” Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou (Ps. 37:7), want hoe kosbaar is Sy trou (Ps. 36:8) teenoor jou?
Jou hart en jou lewe is in Sy kosbare hande so vertrou op Hom (Ps. 37:5), vertrou Hom vir leiding. Bid-smeek wysheid af van Hom, want God gee aan ALMAL wat vra wysheid sonder voorbehoud en sonder verwyt. (Jak. 1:5)
Maak wysheid jou metgesel (Spr. 4:6), dan sal verkeerde besluite moeiliker gebeur en die regte besluite makliker. Wyse mense hou hulle ore oop vir kennis. (Spr. 18:15) Vriendin, en as jy op die oomblik met jou hande in jou hare verstrengel sit en jy weet eenvoudig nie hoe of wat die besluit moet wees nie, vra dan soos Dawid. Maak my U wil bekend, Here, leer my U paaie. Laat U waarheid my lei. (Ps. 25:4) Hierdie pad waarna ons vra is die pad van waarheid, en eerlikheid, en opregtheid.
Within your heart you can make plans for your future, but the Lord chooses the steps you take to get there. (Prov. 16:9 TPT)
A man’s mind plans his way [as he journeys through life], But the Lord directs his steps and establishes them. (Prov. 16:9 AMP)
Die Here sal vir my alles goed laat afloop (Ps. 138:8), al is dit soms moeilik, en ongemaklik en die twyfel verniel jou siel. Onthou: Ook vir jou sal God alles ten goede laat meewerk, (Rom. 8:28) ongeag die besluit wat jy dalk vandag of môre moet neem.
So inspirerend, en mooi. Baie dankie, sal graag elke dag se stukkie wil ontvang
Sjoe….ek moet die stukkie weer … en weer…. en nog n paar keer lees. Voel asof dit só presies vanaand vir my( ons) , en my man bedoel is. ‘ n Boereman, n passievolle boer , wat met sy hande in sy hare sit, trane in sy oë, van ” weet nie meer watter besluite om te neem” of WAT IS PLAN B , C of D nie.
DANKIE!
Liewe Estha! Ek bid vir julle!♥