Ek en jy is afhanklik van God, die teenoorgestelde is egter ver van die waarheid af. God is God. Hy het my en jou nie nodig nie. Nie nodig om Sy werk namens Hom te doen, nie nodig om namens Hom te veg nie. Hy is immers die Aanvoerder van die leërskare.
God claims the world as HIS! Everything and everyone belong to HIM! (Ps. 24:1 TPT)
Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur U wil het alles onstaan en is dit geskep. (Openb. 4:11) Die aarde en alles wat daarop is, behoort aan U! (Ps. 50: 12)
Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat almal lewe en asem en alles gee… want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. (Hand. 17: 25, 28)
Hy is die Skepper en ek en jy deel van die Skepping. Die Maker en die maaksel. Hy onverganglik, ek en jy is soos grassade in die wind, vandag hier, môre net ‘n herinnering.
Wie kan die Gees van die Here peil. Wie kan Sy raadgewer wees? Vir wie raadpleeg Hy dat dié Hom tot insig sou bring Hom sou leer wat om te doen? Die nasies is vir Hom soos ‘n druppel aan ‘n emmer, soos ‘n stoffie op ‘n skaal. Met wie kan julle God vergelyk? (Jes. 40:13, 15)
God het ons nie nodig nie, maar Hy wil ons verseker hê… met my en jou begeer Hy ‘n intieme verhouding. Hy wil Sy liefde en Sy hart aan ons openbaar. Hy het my en jou, die druppel aan die emmer lief, té lief, so lief dat Hy die prys vir ons betaal het. Ons losgekoop het. Jy verstaan vriendin, hoe bitterlik groot Hy is en hoe klein en onbeduidend ek en jy in werklikheid is.
I am not needed by God. but the glorious truth is I am wanted by God and growing to understand the depth of what that means is one of the greatest needs of my life. (Shane Pruitt)
As God my nie nodig het nie, wat presies is dit wat Hy van my soek, wat verwag Hy van my? Hy wil hê dat ons Hom sal liefhê met liggaam, siel en verstand. (Deut. 6:5) Dis ook nie al nie liewe vriendin, Hy wil ook hê dat ons ander sal liefhê, soos onsself. In Johannes 15:17 The Passion Translation sê: Love one another deeply!
Wanneer ons God en ander waaragtig begin lief hê dan vloei goeie dade en goed te wees vir ander uit ons uit soos ‘n stroom wat geen keer het nie. Dan wil ons Sy hande en voete op aarde wees! Dit kan nie anders nie… daar is nie ‘n keuse of eers ‘n wilsbesluit by betrokke nie. Ons doen goed, want Hy is goed. So goed-goed vir my en jou. Jou doen sal in liefde geskied, uit dankbaarheid. Liefde moet die aanmoediger wees, liefde moet in elke goed doen van jou en my opgesluit wees. Liefde moet die produk wees van alles wat jy doen en sê… dan sal ander God in jou raaksien, want wanneer alles in liefde geskied dan is God daar, want die essensie van my en jou God is pure liefde!
Het dit nie tyd geword om te reageer op die aanhoudende klop aan jou hart se deur nie? Is dit nie tyd om die deur van jou hart wawyd oop te gooi nie? Om in oorgawe en gehoorsaamheid te buig voor die God van die hemel en aarde nie? Ek en jy moet in gehoorsaamheid leef, ons moet binne die wil van God leef, Sy wil vir ons lewe, want dan sal ek en jy vrede ervaar te midde van lewensstorms wat om ons woed.
God wil hê ons moet meer en meer soos Sy Seun lyk, wees en optree. For he knew all about us before we were born, and he destined us from the beginning to share the likeness of his Son. This means the Son is the oldest among a vast family of brothers and sisters who will become just like Him! (Rom. 8:29 TPT)
God het nie jou geld nodig nie, alles op die aarde en die hemel behoort in elk geval aan Hom. Jou gawes kom van Hom. Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van bo. (Jak. 1:17) Wie en wat jy is, kom van Hom, Hy wat jou geskape het, aan Hom kom die lof en die eer toe! Maar deur die genade van God is ek wat ek is. (1 Kor. 15:10) Dis ‘n genade-ding. Dis ‘n kyk-hoe-lief-het-Hy-my-en-jou ding.
Hoor Sy hart as Hy uitroep. Ek het jou uitgekies, Ek kies jou oor en oor, weer en weer. (Joh. 15:16) Ek kies om jou te koester, en te bemin en lief te hê tot die dood ten spyte van die feit dat jy slegs ‘n druppel is aan ‘n emmer!
Mens, die Here het aan jou bekend gemaak wat goed is:
Hy vra jou dat jy reg sal laat geskied,
Dat jy liefde en trou sal bewys,
Dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.
Miga 6:8