Soms Voel Ek soos ‘n Boetebessie.

Ja, is dit nie net die mooiste afrikaanse woord nie? As jy wonder, dis ‘n vroulike verkeersbeampte, beslis beter as die woord spietkop. Het jy al ‘n boetebessie in aksie gesien tydens ‘n kragonderbreking met ‘n te-veel fase robot. Sy moet kophou soos ‘n dronk weerluis. Dis ‘n diepe konsentrasie besigheid. Sy kan nie aan alllerhande dinge staan en dink nie. Sy moet konsentreer en doplet (dis nou dophou en oplet). Die oomblik as sy misbeduie of net vir ‘n oomblik aan ander dinge dink, dan kom daar groot ongelukke.

Nou vriendin, soms voel ek so bietjie soos ‘n boetebessie. Met al die baie emosies wat mammas en vrouens elke dag moet hanteer, en meermale in die regte rigting stuur. Jy probeer ook jou bes om die verkeer in die huishouding te bestuur, jy probeer jou bes om ongelukke te vermy en te voorkom, maar soms met twee meisiekinders in die huis wat party dae net uit hormone en emosies bestaan, en jy wat 100% vrou is ook uit emosies gemaak, raak dit soms ‘n onbegonne taak.

Jy sien die arme boetebessie daar in die middel van die kruising kan nie net vir almal stop wys en nou vat sy ‘n welverdiende breuk vir welke rede ookal nie. As sy ophou beduie en wys- ongeluk. Sy moet op haar pos wees en haar werk doen, dis dit.

Probleem is wanneer jy ander mense se emosies bestuur en heeltyd moet troos, moed inpraat en rigting beduie, steek jy jou eie emosies weg in die diepste kamers van jou hart. En soms gebeur dit dat teen die tyd dat jy ‘van diens af is’ dan het jy eenvoudig nie die krag of die lus om jou eie emosies aan te spreek en te sorteer nie.

Jy het slaap nodig en baie daarvan… en party het wyn nodig… ek hou maar by koffie. Dis soms moeilik om ‘n ma te wees. Wat alles moet weet. Wat die regte ding op die regte tyd moet sê of nie sê nie. Wat moet troos, en moed inpraat. Wat gereed moet wees te alle tye met oop arms en ‘n oop hart om te ontvang. En soms raak die boetebessie in elke mamma se hart so bietjie moeg.

Soms kom mens net op die punt dat jy besef jy het ‘n breek nodig, ‘n dag met ‘n goeie boek, hope tee en rus en vrede vir jou siel of soms het jy net nodig om ‘n afspraak met jouself te maak en ‘n lekker huilsessie in te pas. Daar waar geen mens jou kan sien nie, waar dit net jy en jou Pa is. Waar jy maar kan lelik-huil, snot en trane kan huil. Wanneer woorde min is en trane jou gebede word.

My ellende het nie ongemerk by U verbygegaan nie, U het op my trane gelet. In U boek staan hulle opgeteken. Die dag wanneer ek na U roep om hulp, val my vyande terug. Dít weet ek God is aan my kant. (Ps. 56:9-10)

En ek besef, die krag van ‘n biddende ma (eintlik ouers) is onbeperk, niks kom daarby nie. Wanneer bekommernis oor ‘n kind jou siel verniel, is gebed nie die enigste iets wat oorbly om te doen, maar dit is die enkele doen wat berge versit en lewens verander.

Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. (Ps. 121:1-2)

Niks kom by ‘n biddende moeder nie, waar sy met betraande wange in die troonkamer insluip en net die Vader verstaan haar angs oor hierdie kind van haar. Net die Vader verstaan… want moes Hy nie toekyk hoe Sy Enigste Seun verniel, vermink en vermoor word nie?

Daar is niks wat ‘n moeder-hart so ontstel soos die wete dat jou kind nie okay is nie, die magteloosheid wanneer jy besef jou help is nie help nie. Maar jou bid vriendin, dis hulp. Jou bid is dit wat die deurbraak gaan gee. Ek en jy moet onsself net herinner dat gebede beantwoord word in God se tyd, nie my en jou tyd nie. God se tydsberekening is perfek, en Hy is altyd betyds.

Soms is my gebede ook  soos joune: Toets my namens my kind, kan ek nie asb die las namens my kind dra nie? Dis moeilik om te sien as jou kind swaarkry, wanneer jy met afgekapte hande staan en toekyk.

Vriendin, miskien bevind jou kind homself in ‘n woestyn seisoen wat ookal die rede is. In hierdie toets-van-geloof-seisoen is dit soms ongemaklik en seer. Maar weet dit verseker wanneer jou kind in die vuuroond van beproewing is, is God steeds by hom. By haar. Mag ek en jy dit nooit vergeet nie.

Laat ons gebed dan wees: Here, laat Genade oorgenoeg wees wanneer die toets kom, laat Liefde onderskraag en vashou. Laat Vrede hulle oorval en hulle harte en gedagtes bewaar.

Soms is die lewe onregverdig, te veel, te erg. Laat ons gebede vir ons kinders nooit opraak nie, mag ons volhou en uithou en moed hou. Mag jou geloof jou deur elke ongemaklike seisoen dra. Mag jy onthou om verbete vas te klou aan dit wat jy glo. In WIE jy glo. Mag die Here vir my en jou help en versterk om hierdie kosbare waarheid vir ons kinders te leer ook in die seisoene wat hulle nie okay is nie.