MAAK NIE SAAK WAT NIE!

Jy weet wanneer mens jonk is, hier aan die einde van jou Hoërskool loopbaan dan roep die lewe, die moontlikhede lê oop voor jou. Jy sien so uit na hierdie nuwe fase van amper onafhanklik wording, van jou eie ding doen. Sjoe! Dit kan mos net lekker wees! En ook in dieselfde asem ‘n bietjie oorweldigend Jy het vrek hard gewerk vir jou mooi punte en om in jou Universiteit van keuse in te kom. En hier iewers in jou agterkop is die Hollywood flieks oor Uni, wat vassteek… wat al hierdie voorafopgestelde idees net verder versterk. Dit gaan ‘n fees wees!

Skielik bevind jy jou in hierdie volksvreemde wêreld, weg van die huis, ver van jou veiligheidsnet, en nou is en lyk die prentjie nie meer so rooskleurig nie. Jy twyfel bietjie in jouself, jy twyfel ewe skielik in hierdie rigting wat jy gekies het, en nou is jy nie meer so seker nie… alles normaal en deel van grootword.

Wanneer jou kinders begin klaarmaak met skool is daar ‘n paar eerstehandse lessies wat geleer moet word. Maak nie saak hoe jy jou bloedjies probeer voorberei nie, dis maar ‘n skok vir die sisteem en dit vat tyd en harde werk om aan te pas in die nuwigheid van onafhanklikheid en die vreemde nuwe wêreld van student wees. Die aanpassing is ook nie net vir die student, nee o krisis, dit vat aan ‘n ma se hart. Jy begin leef met die besef dat hierdie kosbaarheid wat jou kind is, buite jou bereik is, jy kan en moet bid. Dis al. Bly op jou knieë. MAAK NIE SAAK WAT NIE, want dis nou hulle tyd om te leer om op hulle eie voetjies te staan.

Dis belangrik dat ons as ouers net bietjie die verwagtinge bestuur, dat ons hulle op ‘n subtiele en nie-subtiele manier hier van graad 11 af begin voorberei op die onafwendbare verander wat voorlê, ook as hulle bitter graag uit die huis uit wil gaan en meer as reg voel daarvoor.

Ons moet waarheid praat sonder om bang te praat. Hulle moet eerder in die Universiteit instap en dink dis nie so erg soos my ma gesê het nie, as wat hulle dink dis veel erger as wat ek kon dink of droom. Praat met hulle oor tydsbestuur en oor massas werk wat gedoen moet word. Om nie agter te raak nie. Praat defnitief oor punte wat nie meer altyd aan hulle verskriklike hoë standaarde gaan voldoen. Leer hulle: Jou identiteit het beslis nog nooit in jou punte gelê nie.

Vertel hulle oor en oor, weer en weer. Ek is lief vir jou MAAK NIE SAAK WAT NIE. Ek is trots op jou. MAAK NIE SAAK WAT NIE. Jy is kosbaar omdat jy kosbaar is, sommer net…

Hou die kommunikasielyne oop sonder om versmorend te wees. Daar is soms ‘n baie fyn lyn. Moenie ophou kommunikeer nie, en vra eerste oor hoe dit met hulle gaan, is hulle okay? Hulle moet ook sonder enige twyfel weet as ek nou hierdie selfoon optel en bel gaan daar ‘n reaksie wees, want die mense aan die anderkant van die selfoon is my mense, deel van my span. Hulle is aan my kant. MAAK NIE SAAK WAT NIE.

Hulle het ons nodiger as wat hulle weet of dink, so wees daar, op die agtergrond, altyd gereed om te luister, te help, en te ondersteun. Dis sommer nou ook al ‘n goeie idee om jou kind bietjie meer verantwoordelikheid te gee met die bestuur van eie bankrekening, met die uitkom met ‘n sekere bedrag elke maand.

Dis ook belangrik dat hulle vaardighede aan leer om hulle eie probleme op te los. Dis nie asof enige ouer kan Universiteit toe ry en verduidelikings gaan eis oor ‘n te moeilike vraestel, of afbakenings wat nie korrek deurgegee is nie. Ek en jy sal nie eers by die deur inkom van die gebou nie. Hoe meer verantwoordelikheid hulle nou aanleer hoe makliker gaan dit wees om op hulle eie twee voetjies te staan en klaar te kom. Dis ook in hierdie nuwe vreemde wêreld wat hulle gou agterkom die lewe is nie noodwendig regverdig nie, en die lewe skuld my niks.

Ek hoor ‘n waar ding hier iewers in die eerste deeltjie van die jaar. Baie Eerstejaars, sit in hulle eie bootjie, probleem is daar is ‘n gat in die boot en die skep emmertjie is nie só groot nie, nie groot genoeg nie. So wat doen jy? Jy hou aan skep en skep, jy gee nie op nie al voel jy moeg, al voel jy moedeloos. Jy hou aan skep want as jy agter raak met skep gaan jy sink.

En ek en jy as hierdie kosbare kinders se mammas wil so graag saam met hulle in die bootjie klim, ons wil so graag aflos skep en dit vir hulle makliker maak, wil hulle help om die ou bootjie bo die water te hou, maar my liewe vriendin sodra my en jou gewig in die bootjie land gaan hulle defnitief sink. Dis hulle tyd vir skep en ons tyd vir bid.

Waar is ek en jy dan terwyl hulle spoeg en spartel met hierdie bootjie van hulle? Op die kantlyn besig om aan te moedig met alles in ons. Elke gebed wat hulle arms sterk hou vir die skep en skep en skep… soms is daar trane, maar vriendin trane is gebede sonder woorde, en hierdie kosbare traan-gebede hoor die Vader die duidelikste. Staan jy maar net vas daar op die kantlyn… MAAK NIE SAAK WAT NIE!

Ek het ook tot die slotsom gekom, dat jy eintlik net wil weet dat jou kind okay is. Dis al. Natuurlik wil jy hê hulle moet goed doen en hard leer, maar ek besef al wat ‘n mamma hart regtig wil hê, nodig het is om te weet is: My kind gaan okay wees, al gaan dit soms rof! Al wat sommige dae oorbly nadat jou kniekoppies deur geskaaf is van die bid is om aan elke belofte in God se Woord vas te hou.

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: Voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! (Jer. 29:11)

En jy my liewe vriendin, jy hou net vas aan Jesus, jy hou jou oge op Hom gerig, jy gryp sy soom vas elke keer as die bekommerd wees jou wil oorweldig, jy bly naby aan Sy Vaderhart… MAAK NIE SAAK WAT NIE.

2 Replies to “MAAK NIE SAAK WAT NIE!”

  1. Love your blogs Martha 🙏🏻
    I’ve lived through 4 of these times and would have loved to have had your wonderful wisdom at the time 💞
    BUT I got through it .. NOMATTER WHAT ..

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *