Ek dink God het bietjie van my vergeet…

Ek dink een of ander tyd in ieder en elk se lewe, in een of ander lewensstorm, in een of ander woestyn-seisoen voel ons of God regtig bietjie van ons vergeet het. Dit voel kompleet of God, wat mos alles weet, my adres verloor het… en asof dit nie erg genoeg is, dié godverlate gevoel nie, voel jy nog so bitter ver van Sy hart af ook. En Alleen. ‘n Seisoen wat net nie wil end kry nie, waar jy heen en weer in dieselfde woestyn-landskap verdwaal en voortploeter.

God raak soms stil… maar vriendin dis nie ‘n afwesige, weg stil nie. Dis ‘n stil, maar dog teenwoordige stil. Hierdie weet ek met absolute sekerheid: Daar is absoluut niks wat my en jou van die liefde van God kan skei nie. Romeine 8:38-39 is kosbaar verby en is ‘n konstante herinnering aan ‘n God wat liefhet tot die uiterste. The Passion Translation sê dit die heel mooiste…

So now I live with the confidence that there is nothing in the universe with the power to separate us from God’s love. I’m convinced that his love will triumph over death, life’s troubles, fallen angels, or dark rulers in the heavens. There is nothing in our present or future circumstances that can weaken His love. There is no power above us or beneath us-no power that could ever be found in the universe that can distance us from God’s passionate love, which is lavished upon us through our Lord Jesus, the Anointed One.

Weet jy wie het ook gevoel of God van Hom vergeet het? Jesus self, op breekpunt, moeg, seer en alleen roep Hy op ‘n houtkruis uit: “My God, My God waarom het U My verlaat?” Klink dit nie ook vir jou asof Jesus aan die kruis vergete voel, eenkant toe gestoot voel nie? Is dit nie menslik nie? Om te voel asof God van jou vergeet het nie?

Probleem is ons voel so bitterlik skuldig as ons so voel, nog erger as ons dit aan onsself en ander erken. Ons voel skuldig wanneer ons wonder oor God se teenwoordigheid, wanneer ons alleen, aan ons eie doen en late oorgelaat word. Ons dink as mense ons kan verlaat, vergeet van ons, dan kan God dit sekerlik ook doen. Dis ‘n eeu-oue leuen wat die vyand gebruik om die verwydering nog groter te laat voel om die Godverlate/verstote gevoel wat aan die siel knaag te versterk.

Die lewe maak nie altyd sin nie, ons verstaan nie altyd hoekom dinge gebeur of selfs nie gebeur nie. Soms voel ons vasgedruk en verstrengel in die las van menswees. Harde tye sal daar wees, ons word nie vrygespreek omdat ons glo nie. Geloof is nie ‘get out of jail free’ kaartjie wat belowe dat alles reg sal loop nie…

Die wag op God is soms lank en intens en alleen. Die wag op uitkoms en antwoorde nêrens te vinde nie. Almal twyfel soms aan God se teenwoordigheid, al is jou geloof hoe sterk.

Voel en dink is nie noodwendig waar nie. En ons emosies help ons soms van die wal af in die sloot in. En ja ek en jy voel soms of God van ons vergeet het, maar vriendin weet jy hoekom is dit nie waar, want God het vir my en jou met geduld en liefde gemaak, in die moederskoot is ons geweef en gevorm. Ons kreun en ween so maklik… “Die Here het my verlaat, die Here het my vergeet.” God sê: Kan ‘n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handplams gegraveer, Ek sien jou mure altyd voor my. (Jes. 49:15-16)

Ons vergeet soms dat Hy ons Pa is en Hy noem jou ook Sy kind, Sy eie kind. Maar aan almal wat Hom aangeneem het, die wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God genoem te word. (Joh. 1:12) Ons wat ouers is, mense wat sonde doen en imperfek is, ons wil net die beste vir ons kinders hê… dit is mos so? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra? (Matteus 7:11) God is nie ‘n afwesige Pa nie.

God het jou só lief, só lief dat Hy, die God van die hemel en die aarde, Sy lewe afgelê het vir jou. Hy wat gesterf het in jou plek, wat namens jou die straf en smaad gedra het. Hy wat jou Losser is sal jou mos nie net onseremonieël eenkant toe skuif vir welke rede ookal nie. Jy is duur gekoop, die prys is betaal.

So het Hy van jou vergeet liewe vriendin? Nee! Wag geduldig op Hom, wag geduldig op Sy uitkoms. Vestig jou oë op Jesus. Dis moeilik om Godverlate te voel as jy in die oë van jou Verlosser kyk. Laat hierdie belofte in jou hart en siel eggo… Jesus sê: “Ek is by jou al die dae tot die voleinding van die wêreld.” (Matt. 28:19)

Die Here sal voor jou uitgaan.
Hy sal by jou wees.
Hy sal jou nie in die steek laat nie,
jou nie alleen laat nie.
Moenie bang wees nie,
moenie skrik nie.
(Deut. 31:6)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *