Dis kompleet asof mens vryliker kan- in en uitasem in die Karoo. So al asof die skouers van die Karoo breed genoeg is om die sorge van die mensdom te dra. Klein, middel en grootmaat probleme. Waar suurstof vryliker beskikbaar is, genoeg om jou longe vol te trek, verby tot by jou siel.
Dis ‘n sielsplek. As jy lank genoeg hier vertoef en ronddwaal sal jy jou siel in die Karoo kom vind. Die Karoo is waar die niksheid knie hoogte groei. Min geraas, min lewe, maar volop vrede. Dis asof die Skepper se genade hier kom lê-plekkie vind het, nogals in oorvloedigheid. Asof daar iets spesiaals, anders aan die Karoo is. Amper iets Goddeliks.
Vir mense van die Karoo, die murg en been Karooërs, die siele wat hier ‘n holte vir hul voet gevind het, hier op die uitgestrekte, dorre vlaktes, kan die Karoo soms ongenaakbaar wees. ‘n Sukkel-bestaan. ‘n Uitgelewer aan die elemente en die-Heer-se-wye-genade bestaan.
Vir ons stadsjapies wat smag na minder, meer eenvoudig, vir ons is dit díé plek waar jy jou siel kan vind, weer herontdek wie jy is. Wanneer jy genoeg tyd in die genadige vlaktes van die ongenaakbare Karoo spandeer, genoeg skoon Karoo-asem in jou longe kan in adem, dis die plek waar jou hart, siel en gees weer bymekaar kom, waar jy weer een word. Een met die natuur, een met self, maar veral een met jou Skepper.
Hier op die grondpaaie van die lewe kan jy weer kom bestek opname neem van jou doen en late… waarheen jy op pad is, waar jy afgedwaal het. Hier op die kronkel paaie kan jy weer vergete drome kom opdiep en laat herleef…
Waar in die heelal het jy al sterre gesien soos in die Karoo? Miskien was Dawid in Sy eie Karoo toe hy Psalm 8 geskryf het? Here, ons Here, hoe wonderbaar is U Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het.
Orion se belt, die Suiderkruis, die melkweg duidelik afgeëts in die uitspansel van die hemel. So amper asof God so pas klaar gemaak het met dag 4 van die Skepping. Die oomblik toe Hy teruggestaan het en voldaan Sy handewerk aanskou het en verklaar het: “Dit is goed!” Dieselfde hemelgewelf wat die beloftes inhou van ‘n God wat nie net skep nie, maar ‘n God wat skoonheid waardeer. ‘n Kunstenaars-God. Hy deur wie die Sewester en Orion gemaak is, Hy wat die donker in oggendlig verander en die dag donker nag laat word, sy Naam is die Here. (Amos 5:8)
In die niksheid van die Karoo kan jy afkom op iets spesiaals, dan voel jy bederf deur die God van die hemel en die aarde wanneer ‘n bakoor jakkalsie vroegoggend kom son soek in die middel van ‘n stofpad. So al asof hy spesiaal vir jou gelê en wag het om verby te kom, om te spog met sy gesinnetjie van drie. Dierbare gesiggies onder té groot oortjies. En hulle hardloop skugter, al koesend die vlaktes in, net om kort-kort nuuskierig om te loer.
Wanneer die stiltes om jou eggo en die kraakvars koue van die wintersoggende jou asem skoon wegslaat, daar waar jy lang gesprekke met jou Skepper kan hê, en in die vrede en die geritsel van die gras antwoorde kan vind vir te moeilike lewenkwellinge.
Het jy al ‘n donderstorm in die Karoo beleef? Die wolke wat dreigend bymekaar kom om vergadering te hou. Die eerste groot druppels water wat geluidloos na die aarde val om te plof in die stof-klip-paaie en die reuk van vars en nuwe lewe wat opslaan in jou neusgate. Donderslae wat rammelend op die klipkoppies hardloop en blitse wat die hemel eensklaps verlig, maar die mooiste mooi is ‘n reënboog vol beloftes wat die Karoo omarm.
Elke keer as ek deur die Karoo reis, dan bly daar ‘n stukkie van my hart in die Karoo agter, maar elke keer wat ek ‘n wyle vertoef vul ‘n gebroke stukkie met vrede en genade ‘n Stukkie heelword in die Karoo.
‘n Stukkie van die Karoo dra jy saam met jou hart terug stad toe tot die besig wees van die alledaagse lewe jou oorrompel en al wat oorbly is die verlange na vrede en die wyduitgestrekte vlaktes van die Karoo.