Al maak mense hoeveel planne, wat die Here besluit, staan vas. (Spr. 19:21)
Ons gaan die begin van 2023 in met moed en spoed, reg vir die groot verandering en aanpassing van ousus wat uit die huis uit gaan. Dis moeilik dis ongemaklik. Ek kry bietjie meer insig in Salamo se denkwyse as hy verklaar in Spreuke 12:25: Bekommernis druk ‘n mens neer… Maar nie net neer nie vriendin, hy druk jou vas en wurg jou tot daar te min asem oor is en al wat jy hoor is die woeste klop van jou eie hart.
En jy wonder party dae wat het geword van jou geloof? Waar het jy so stukkie-stukkie begin glo verloor. Gelukkig tog is geloof nie ‘n gevoel nie, dis nie gekoppel aan emosies en hoe ek wanneer voel nie! Geloof is wat dit is, ‘n voldonge feit. Jy glo of jy glo nie.
Jy kom kasty jouself met vrae soos: Vertrou jy dan nie vir Abba met jou kind nie? Die vae ongerustheid oor hierdie kosbare kind van jou raak die nuwe voel van die dag. Die gevoel hier iewers dat sy nie okay is nie, ver daarvan…
Wanneer jou sonskynkind dan uiteindelik oor ‘n naweek by die huis uitval lyk sy soos ‘n uitgedroogde jammerlappie, elke keer wat jy haar in jou arms neem, lyk dit of sy nog ‘n stukkie van haar sonskyn iewers langs die pad verloor het, en jou hande en jou doen is afgekap, jy het nie raad nie, net bekommernis wat ‘n konstante metgesel is. Jy en manlief, praat baie, probeer mekaar moed inpraat, want hierdie is maar ‘n aanpassing, en dit is moeilik, en sy sal okay wees… maar hier diep in jou moeder-hart is jy nie so seker nie.
Dan besluit jy, jy gaan hierdie liefling-kind voor jou sit maak. En dan kyk jy diep in haar blou oë en jy waag dit om die gevraagde vraag te vra: “Is jy okay sussie?” En die antwoord kom dadelik en met oortuiging… nee sy is nie okay nie… nou weet jy nie eers of dit normaal is nie, want ousus het ook ‘n manier om haar gevoelens vir haarself te hou en om te moet erken sy is nie okay nie, dit het iets van haar gevat.
Nou raak die bekommernis nie net meer ‘n bekommernis nie, dit veroorsaak ‘n angs wat jy aan min kan beskryf, jy wil iets doen, maar jy is ook nie presies seker wat nie. ‘n Angs wat jou slaap weghou… en dan bid jy maar… en dan kom skud angs jou 4uur wakker met ‘n hart wat te vinnig klop, en jy bid maar weer en vra die Here se wil vir jou kind se lewe moet geskied. Jy smeek Hom vir nuwe krag, vir helderheid van verstand, vir insig, wysheid, genade en vrede… Dis al wat my moeder-hart kort, vrede oor hierdie kind van my wat te ver van my hart af is.
So kom Paasnaweek en ‘n broodnodige paar af dae vir almal. Sy het die toetsweek oorleef, maar sy sien verlep daarna uit. Kringe onder die oë van heeltemal te min slaap… en dan raak alles te veel en die damwal van trane en ingehoude onsekerheid loop ongehinderd uit oë en loop stroompies oor haar wange. En dan weet jy iets moet gebeur, iets moet verander… iets is verkeerd.
Wannneer ousus al haar moed bymekaar skraap en erken sy het die verkeerde kursus beet. Sy het haar kop gevolg en nie haar hart en passie nie. Sy sit in ‘n klas en sy voel sy pas nie lekker daar in nie… Weet jy vriendin en jy as ouer kan op soveel maniere optree en reageer en selfs somtyds oorreageer, maar die regte manier is regtig om diep in jou kind se oë te kyk en te luister wat haar hart sê, en jy wat jou kind ten diepste ken sal dan die wysheid kry om ook hierdie situasie ook reg te hanteer. Te doen wat reg en goed is vir almal.
Ousus was nog altyd sterk gekant teen ‘n gapings-jaar… God se planne vir haar lyk toe heel anders as haar planne vir haar. So ons noem hierdie jaar haar genade-jaar. ‘n Bonus jaar. Soms bevind jy jou onverwags op ‘n plek waar jy nie heeltemal floreer nie, waar jy voel jy het jouself verloën, ‘n plek waar jy is, maar eintlik nie moes gewees het nie. Selfs in sulke moeilike seisoene, op die ou end laat Hy vir jou alles ten goede meewerk. Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop. (Spr. 16:9)
Selfs in hierdie seisoen van swaar dra aan bekommernisse en onsekerheid, loop die gouedraad van My God se genade deur ons storie, kan ek Sy hand sien in die klein genadetjies wat na ons kant toe geskuif word.
Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is. (Spr. 5:18) Soms bevind ek en jy ons ook op ‘n pad van duisternis, soms pikswart donker, soms net die grou van skemer… soms vra dit net van my en jou om een tree op ‘n slag te gee na die Lig, en as ons net aanhou, moedhou, vashou aan Hom wat ons liefhet… met tyd stap ons uit in die helder lig in.
Laat wat jy doen, aan die Here oor, dan sal jou voornemens geluk. (Spr. 16:3) Ek het die Here meermale gesmeek vir uitkoms, meermale net snikkend voor Sy aangesig antwoorde gesoek en meestal nie die antwoorde gevind nie. Soms was al wat oorgebly het om net te wees in Sy teenwoordigheid… miskien is jy nou daar waar al wat oorbly is om net stil te wees in Sy teenwoordigheid. Te wag op die uitkoms wat Hy al lank reeds vooruit bepaal het.
A Song of the stairway.
This is why I wait upon you, expecting your breakthrough, for your Word brings me hope. I long for you more than any watchman would long for the morning light. I will watch and wait for you, O God, throughout the night. (Psalms 130:5-6)