1 Korintiërs 13 is by verre een van my gunsteling gedeeltes in die Bybel. Dit voel amper vir my of Paulus die karakter van Jesus beskryf van vers 4-7. Vir my is Liefde die deurlopende tema van die Bybel met Johannes 3:16 wat uitspring as die uiteindelike verklaring van liefde, God se liefde vir ‘n verlore en sondige wêreld. Die offer van liefde, die offer van Sy geliefde en enigste Seun.
Wanneer ek aan God se liefde vir my dink dan lyk dit so ietsie:
L~ Lieflik
I ~ Indrukwekkend
E~ Ewigdurend
F~ Fel
D~ Diep en deursigtig.
E~ Eerste liefde. (1 Joh. 4:19)
Ek het verse 4-7 van 1 Korintiërs in ‘n hele paar vertalings gaan lees en toe klink dit so:
4 Die liefde is geduldig (en lankmoedig),
Die liefde is vriendelik, (minsaam, innemend, bedagsaam, kalm)
Dit is nie afgunstig nie, (nie jaloers oor ander se verhouding met God of die seëning wat ander van Abba ontvang uit die skatkamers van die hemel nie)
is nie grootpraterig nie (blaas nie sy eie beuel nie, doen nie dinge vir ander om raakgesien te word nie, is nie opgeblase nie),
is nie verwaand nie (loop nie rond met ‘n groot kop nie, is nie arrogant nie, steek nie valse trots as ‘n wapentjie op sy lapel vas nie).
5 Dit handel nie onwelvoeglik nie (is nie ongeskik en onwaardig nie),
Soek nie sy eie belang nie, (sit nie sy eie belange eerste en bo ander sin nie),
is nie liggeraak nie, (kort van draad, verbitterd, oor-sensitief nie),
hou nie boek van die kwaad nie (hou nie rekening van ander se verkeerd teenoor hom, die liefde hou van vergewe en aanbeweeg en los alle vrot ou koeie in die sloot).
6 Dit verbly hom nie oor die onreg nie (die liefde raak kwaad vir ongeregtigheid en onregverdigheid, en soek net die beste vir ander),
maar verheug hom oor die waarheid, (want in die waarheid is vryheid te vinde Joh. 8:32)
7 Dit bedek ALLES, (die liefde is ondersteunend en bly stil oor ander se foute)
glo ALLES, (die liefde is lojaal en soek vir die beste eienskappe in ander mense)
hoop ALLES, (die liefde bly standvastig in moeilike tye)
verdra ALLES. (verduur alles sonder om swak en moedeloos te voel)
Die Liefde moet OPREG wees. Verafsku wat sleg is en HOU VAS AAN WAT GOED is. (Rom. 12:9) Sjoe hoor jy vriendin, Liefde hou vas aan wat goed is. Die liefde is dan beslis ook nie negatief nie, en het goeie maniere en is ordentlik, in optrede en praat, teenoor alle mense.
Niks in die skepping kan ons skei van die Liefde van God nie. (Rom. 8:38) Jesus is die bewys van presies hoe lief God ons het. Dink jy daar is iets wat jy kan sê of doen wat God minder lief gaan maak vir jou? NIKS kan jou skei van God se liefde vir jou nie. Sy liefde vir jou trek jou in, omarm jou, vul jou, oorweldig jou. Loof die Here, want Hy is goed, aan Sy LIEFDE is daar geen einde nie! (1 Kronieke 16:34) Sy liefde kan en gaan nooit vir jou opraak nie.
Is jy soms ‘n bietjie bang vir God? Bang Hy gaan vir jou met ‘n bliksemstraal uit die hemel uithaal oor al jou sondes en verkeerde maniertjies? Wanneer ons bang is vir God, vir Sy straf… dan verstaan ons nie die essensie van God nie. Dan verstaan ons nog nie volmaakte Goddelike liefde nie: Liefde kom van God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God, want God is liefde. (1 Johannes 4:7-8) Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. (1 Johannes 4:18)
Die Eerste en die tweede gebod gaan oor LIEFDE en ‘n opdrag van LIEFDE. Hê God lief met alles in jou leef toegewyd en naby aan Sy hart, wees lief vir die mense om jou en laastens, liefde vir self. God se wese is LIEFDE, Sy karakter is omvou en gevorm in LIEFDE. LIEFDE is wie en wat Hy is.
God se liefde vir my en jou is ‘n agape liefde, dis liefde ten spyte van. Dis liefde wat verby gebreke kyk. ‘n Sommer-maar-net liefde. ‘n Wil liefhê, nie ‘n moet liefhê nie. ‘n Keuse-liefde.
Die eerste Kragbron van alle energie, die eerste Beweger agter alle beweging is die liefde van God. Dit is God wat ons, saam met alle geskapenes, na Hom toe trek in Sy liefde, wat veroorsaak dat daar beweging is, krag, energie, lewe. Dit is God se liefde wat die wêreld laat draai. (Dante Alighieri)
Liefde behoort eintlik ongekompliseerd en eenvoudig te wees. Liefde is onontbeerlik en ek en jy het liefde broodnodig om elke dag te oorleef. Ons moet liefde uitdeel… verniet, ons moet vrygewig wees met die liefde wat Vader elke dag in ons harte stort. Liefde is ‘n werkwoord en dit kom nie so natuurlik vir alle mense nie, maar dis beslis iets wat mens kan leer om te doen- leer om mense lief te hê, want God het jou lief en hulle lief. Liefde is nie ekstra-opsioneel nie. Liefde is ALLES.
Don’t owe anything to anyone, except your outstanding debt to continually love one another… “Love and value others the same way you love and value yourself.” Love makes it impossible to harm another, so love fulfills all that the law requires. (Rom. 13:8-10 TPT)
13 En nou:
geloof, hoop en liefde bly,
hierdie drie.
En die grootste hiervan is
die liefde!