Jy mag nie loop en skinder nie, jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie. Ek is die Here. (Lev. 19:16)
Skinder is ‘n gevaarlike besigheid… Daar is ‘n paar sinsnedes waarmee ek en jy liefs nooit ‘n gesprek moet begin nie. “Ek sê maar net…”, “Ek wil nou nie skinder nie…”, “Net tussen my en jou…”, “Moet vir niemand sê nie…”, “Het jy gehoor?”. Ons is almal skuldig en dis iets waaraan ‘n mens lekker hard moet werk. CJ Langenhoven het gesê: By die een oor in en by die ander mond uit.
Praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom. (Ef. 4:29)
Laat die aanhoorders van jou woord kan sien aan wie jy behoort. Laat jou woorde opbou, nooit afbreek nie. Laat jou woorde gebreekte harte help genees. Dis beter om ‘n hart sonder woorde te hê as woorde sonder ‘n hart. (John Bunyan)
As iemand die lewe liefhet en ‘n lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens. Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na! (Ps. 34:13,14)
My girls leer my partykeer meer as wat ek hulle leer. Ousus sê altyd: “Dis nie my storie om te vertel nie.” Einde van die gesprek. Jy sal haar nie eers met ‘n Twix kan omkoop om jou te vertel nie.
As iemand dink hy is godsdienstig, maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself. Sy godsdiens is waardeloos. (Jak. 1:26)
‘n Skinderaar (ek dink ek het so pas ‘n nuwe woord gemaak!) is nie ‘n goeie geheim houer nie. As sy daarvan hou om jou ingelig te hou oor almal en alles wat aangaan, dan weet jy sommer by voorbaat… jou hart sal nimmer as te nooit veilig wees by haar nie.
Buitendien leer hulle om hulle tyd te verkwis deur net van die een huis na die ander rond te kuier. Hulle is nie net ledig nie, maar ook bemoeisiek en praatsiek, en hulle praat oor dinge waaroor nie gepraat moet word nie. (1 Tim. 5:13)
Lyk my ledigheid is toe al die tyd die duiwel se oorkussing. Vriendin, ek hoop jy het so een of twee vriendinne of ‘n sussie, of ‘n skoonsus, of jou ma wat jy enige iets voor kan vertel… wat jy weet dat jy weet: My hart is veilig by hierdie mens. Sy wil die beste vir my hê.
Iemand wat die waarheid verdraai, veroorsaak twis,iemand wat skinder, bring verwydering tussen vriende. (Spr. 16:28)
Ek en jy moet maar altyd seker maak die wag voor ons monde is altyd op sy pos… en wakker. Dit help niks hy is daar maar vas aan die slaap nie want in ‘n onbewaakte oomblik met ‘n paar vrot gekose woorde kan jy iemand se hart breek, reputasie ruïneer of ‘n vriendin vir altyd verloor.
Sit ‘n wag voor my mond, Here, hou tog wag oor wat ek sê. (Ps. 141:3)
Ek het agtergekom met my twee girls, ‘n tienervriendskap is een van die moeilikste vriendskappe om in stand te hou. Tiener meisies hou van geheime deel, maar daardie einste geheime word ammunisie wat jongmeisie harte verwoes, en dit alles onder die dekmantel van ‘ek het net ‘n grappie gemaak’. Dis eintlik vir my hartseer. ‘n Vriendin raak oornag ‘n vyand. So, wees versigtig met wie jy jou hart deel.
Iemand wat loop en skinder, lap geheime uit; bly weg van iemand wat baie praat, (Spr. 20:19) ‘n betroubare mens bewaar ‘n geheim. (Spr. 11:13)
As jy regtig dan moet en wil skinder, en jou self nie kan help nie. Skinder dan van en voor jou vriendin. Vertel vir haar wat dit is in haar wat jy waardeer, vertel haar hoekom jy dink sy is so goeie mamma… saai woorde wat heel maak, beter maak… die wêreld is ‘n onvriendelike plek. Kan ons nie dan maar eerder mekaar se grootste ondersteuners wees ipv goed verbloemde stekies na mekaar se kant toe nie?
Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig. (Kol. 4:6) Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens. (Spr. 16:23)
Voor jy iets dan ook oorvertel, vat drie sekondes en vra net vir jouself: Is dit die waarheid? Wie se ‘waarheid’ is dit? Is dit opbouend? Wie gaan seer kry in die proses? Meeste van die tyd wed ek jou gaan jy maar eerder besluit om niks te sê nie. Ons moet altyd die koste bereken van vrot, ondeurdinkte woorde. Kies woorde wat genees en nie knak nie. Te veel mense wat gebukkend loop en swaar dra aan pynlike woorde.
‘n Geskinder is soos lekker kos, mense sluk dit so maklik. (Spr. 26:22)
Alles wat jy hoor is nie die waarheid nie, baie ‘waarheid’ kry soveel stertjies by dat dit so ver van die waarheid verwyder is dat dit nie eers snaaks is nie. Skinder is selde die waar-waarheid, dis jou waarheid wat jy op skewe en verdraaide maniere oordra. Die waarheid is, ek en jy ken niemand anders behalwe ons eie harte nie… Soms dink ek as ons net in mekaar se harte kan sien… die pyn, die vernedering, die seer… dan sal die wag voor ons mond fier en regop spring en ons ten sterkste verbied om ooit weer te sê: “Ek sê maar net…”