Die laaste paar weke van die vorige jaar was vir my besonders rof, baie rowwer as die gewone einde van die jaar dramas en dinge. Ek kan dit nie eers probeer ‘sugar coat’ nie. My lyf het die spanning en ongemak van verandering sonder toestemming gevoel. Dinge wat andersins geen effek moet hê nie dryf my teen die mure uit. Die gesukkel (onnodig) met tegnologie en dinge waarvan ek min tot niks weet nie, het ongekende frustrasies tot gevolg.
Ek het vir ousus ‘n paar hangers bestel om die min klere spasie van die Universiteits-koshuise beter te bestuur. Ek het dit meer as betyds bestel want ek weet mos pakkies van oorsee word maklik vertraag. Wonder bo wonder kom die pakkie bo verwagting vinnig in Suid-Afrika aan en daar stop dit toe a.g.v ‘servers wat crash’… lang storie…
Ons kry ousus se uitslae en dit lyk gaaf, maar sy wil so graag net een van die vraestelle laat hermerk, ek bedoel dit klink maklik genoeg, ons gaan op die skakel en van daar af loop alles Suid… dis ‘n gemors. Ek bel die WKOD, die skool ek stuur tot vir die Minister van Onderwys ‘n epos. Met min tot geen effek.
Tussentyd moet ousus nog haar bestuurslisensie kry. Nou probeer ons voor haar Universiteits aanmelding ‘n afspraak kry so op 99.9. So teen die tyd voel ek al soos ‘n jammerlappie in die kombuis… opgebruik en droog gedraai…
Een aand gaan slaap ek, nog voor een van die situasies ‘n werkbare oplossing het… en ek het al gesê ek hou nie van rondrol en nie-slaap nie. So lê ek hier in die middel van die nag met groot oge, slaap vergete… ek probeer oplossings vind vir die situasies wat ongevraag na my kant toe geskuif is. Na wat voel soos ure besluit ek, ek het nou genoeg probeer oplossings kry vir onoorkombare probleme ek gaan nou maar die bid-ding probeer.
Ai! Ek weet, pleks ek begin net daar, dit moes die wegspringblokke gewees het, maar nee, ‘n ek-kry-myself-so-jammer-in-die-middel-van-die-nag-partytjie is soms net lekkerder al steel dit tyd, vreugde en slaap!! So bid ek vir elke situasie apart en al wat ek bid-vra is: Vader ek bid U goedheid en guns oor hierdie pakkie wat iewers vassit, ek bid U goedheid en guns oor ‘n moedswillige skakel wat ek nie uitgesorteer kry nie, Here ek vra U goedheid en guns oor die hele bestuurslisensie krisis. En dis al… en kan ek asseblief aan die slaap raak want ek is lekker moeg gespoeg en gespartel.
Slaap kom toe gelukkig ook sommer vinnig, ek staan die volgende oggend op, positief, vol moed en spoed om daardie dag al die goed uit te sorteer, ek het mos nou gevra vir goedheid en guns…
So probeer manlief sommer vroeg-vroeg al die hermerk skakel… niks. Ek dink by myself, Vader dis nie hoe die goedheid en guns wat ek bedoel het lyk nie… tyd het ek nie nou vir sukkel nie… ek moet kleinsus by die skool kry en ek het ‘n afspraak wat nagekom moet word. Later die oggend kom ek by die huis, probeeer nog ‘n paar nommers bel vir iemand om te help. Enige iemand! Stuur eposse met: Help asb, met baie uitroeptekens. Maar die goedheid en guns ontbreek, ek sien dit nie, ek voel dit nie…
Ek en ousus ry Brackenfell toe vir die afspraak makery. En ‘n see van mense begroet ons, dit lyk soos die uittog uit Egipte… ek dink nogals by myself dis nie goedheid en guns nie, dis nie wat ek bedoel het met goedheid en guns nie. Nietemin daar wag ons maar… twee en ‘n half ure later is ons geholpe…
Die pakkie van oorsee het ek eers gebank hier in my agterkop, daar was net te veel dinge wat op eens moet gebeur! Ek het nie die krag vir nog ‘n oproep net om te hoor ek is die 80ste in die ry, ek moet aanhou en geduldig wees nie…
Ons kom later by die huis, honger, moegerig (amper sê ek m&*rig) en sommer ‘n lekker kopseer as ‘n ekstra bonus! Ek drink toe sommer twee panado’s dat ek net bietjie oor myself kan kom. Ons eet… ons voel beter…
Ek maak my rekenaar oop en ‘lo and behold’ daar lê ‘n google vorm vir die hermerk van vraestelle… ek dink die baie uitroeptekens het iemand se aandag en simpatie getrek, ek en ousus vul dit binne 2minute in… maar weet jy wat vriendin dis nie die uitroeptekens nie, dís goedheid en guns.
Ja ons het vir 2 amper 3 ure in ‘n klein vertrekkie gewag, maar ons het binne 2 dae ‘n afspraak gekry! Daar kom ‘n blondekop meisiekind by die deur ingewaai en sy soek dringend ‘n afspraak… sy kon eers die 13 Maart ‘n afpspraak kry by ‘n ander toets stasie! Sien dís goedheid en guns…
Ek kyk vanoggend op die app vir die aflaai-pakkie en daar is beweging wat beteken iets gebeur… ek weet nie wat nie… maar ek vertrou God vir goedheid en guns.
As ek en jy aan goedheid en guns dink, dan dink ons meermale dat dit altyd moet goed gaan, dat alles in plek val en lekker uitwerk sonder moeilikheid of sukkel. Goedheid en guns beteken vir my God hou Sy oog oor my en op my en dat Hy is goed. Altyd goed is!
Romeine 8 vers 28: Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens Sy besluit geroep is. Ag en sommer vers 31 ook! God is vir ons, wie kan dan teen ons wees? In alles en altyd…
Dit beteken nie dat God alle klippe uit ons pad rol en die pad mooi glad en gelyk maak dat ons tog net nie ongemaklik moet voel nie, dat ek en jy tog net nie so moet sukkel en struikel nie. Dis nie wat goedheid en guns beteken nie. Goedheid en guns beteken eenvoudig God is altyd deel van die groter prentjie, gits Hy is die groter prentjie. En maak nie saak hoe skeef planne, drome en dinge verloop nie, God is in jou prentjie. Hy is daar by jou… mag Sy goedheid en guns jou oorrompel in jou alledaagse leef en oorleef. Vandag en vir altyd…