‘n Week of wat terug besef ek half paniekerig dat Paasnaweek om die draai is, die winkels is vol paashase, ore en ‘n magdom verskeidenheid hol eiers. Ek wil darem net iets gepas skryf oor hierdie belangrikste tyd op die kalender. En ek loop vir dae rond… met niks… geen gedagtes… geen inspirasie… ek dink aan klompie opsies maar niks voel lekker reg nie, voel so al of dit pure eie gedagtes is, geen Gees-geinspireerde aha oomblikke wat ek kan vasvang op papier nie.
Vanogged gryp twee woorde my hart aan: Die Offer. Dis al. Dis dit… maar dis nie al nie… is dit? Dis nie dit nie… dis alles. ‘n Besef slaan my teen die kop en ek voel sommer ‘n oomblikkie skoon van balans af. Vriendin, ek kom tot die skokkende besef, as ons Jesus nie die pad van smart en lyding gestap het nie, nie namens ons tree vir tree aangesukkel het deur stofstrate, met ‘n jillende, bloedortstige mensdom wat Sy lewe eis nie. As Hy nie gestrompel-val het na kopbeenplek nie, moeg en stukkend, dan was dit my en jou uiteinde. Duisende-miljoene mense wat aan growwe houtkruise hang so ver die oog kan sien. Wat betaal vir sonde op sonde op sonde…
Vader besluit in Sy oneindige wysheid dat dit nie sal deug nie. Ons wat hier op die aarde rondskarrel, soms doelloos en hulpeloos, soos miertjies, ons het ‘n Verlosser nodig. Iemand om die pyn, smaad en skande te dra. En Hy kies die een Persoon naaste aan Sy hart, die EEN wat Hy innig liefhet. Sy ENIGSTE Seun.
Vriendin kan jy dit doen? Het jy enige iemand só lief? Sal jy vrywilliglik een van jou kinders opgee om geoffer te word. Miskien het jy net die ene? Sal jy hom kan opgee, vorentoe stoot. Miskien het jy ‘n hele swetterjoel kinders, watter enetjie gaan jy kies om gekruisig te word? Vir die mensdom? Vir die groter prentjie?
Dis juis die probleem ons het nie ‘n idee hoe lief die Vader ons werklik het nie… Sy liefde vir ons is soos ‘n verterende vuur. ‘n Brandende begeerte om ons naby Sy hart te hê. Want so lief het God die wêreld gehad, dat hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. (Joh. 3:16 1953)
Who could ever separate us from the endless love of God’s Anointed One? Absolutely no one! So now live with the confidence that there is nothing in the universe with the power to separate us from God’s love. I’m convinced that this love will triumph over death, life’s troubles, fallen angels, or dark rulers in the heavens. There is nothing in our present or future circumstances that can weaken His love. There is no power above us or beneath us-no power that could ever be found in the universe that can distance us from God’s passionate love, which is lavished upon us through our Lord Jesus, the Anointed One! (Rom. 8:35, 38-39 TPT)
Vanoggend leef ek weereens met die dankbare besef in my hart dat daar absoluut niks is wat my kan skei van God se liefde vir my nie… absoluut niks nie.
Die hoogste openbaring van God se liefde is die kruis. Daar skryf Hy ‘n liefdesbrief aan die ganse wêreld in die bloed van Sy Seun. (IL de Villiers)
God die Seun het my en jou só lief, dat Hy soos ‘n Lam ter slagting gelei is na die plek van Die Offer, vrywilliglik, die plek waar Hy gemartel, gespoeg en verkleineer is, in my en jou plek, die plek waar Hy dood is, in my en jou plek. Dit sou nie ‘n goeie Vrydag genoem geword het as ek en jy ons regmatige plek op die kruis ingeneem het nie, dit was verseker ook nie vir Jesus die mens, ‘n goeie Vrydag nie.
Want daar hang die Koning van Konings, alleen aan ‘n Houtkruis. God die Seun hang aan ‘n eensame kruis, God-verlate en God die Vader draai Sy gesig weg van HOM, Sy enigste Seun… en al wat Jesus kan prewel-kreun is: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Waarom het U My verlaat? En die Verlosser van die mensdom blaas Sy laaste asem uit, verstote en alleen. En God die Vader draai Sy gesig weg van Sy Seun en Hy kyk na my en jou. Hy draai Sy gesig na my en jou want die aarde het geskud, die voorhangsel het geskeur. Die sonde-gaping is weg en ek en jy het vrye toegang tot Hom. Dis Die Offer…
Soveel angs, soveel smart, soveel genade. Tog doen Hy dit… sê Hy nie nee dankie nie. Hy hang aan daardie kruis tot Sy asem ophou en die voorhangsel skeur vir jou en my… vriendin, vir jou en my…
Ons verdien nie sy liefde of genade nie, tog gee Hy dit in oorvloed aan ons. Ek en jy kan maak wat ons wil, ons sal nooit Sy liefde en genade kan verdien nie, daar is absoluut geen manier nie. Al wat oorbly al wat ons kan doen is om met vrymoedigheid na die genadetroon te gaan, sodat ons barmhartigheid en genade kan ontvang. (Heb. 4:16)
Jesus het nie gekom om God se liefde moontlik te maak nie, maar om God se liefde sigbaar te maak. (Anoniem)
Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie… (Klaagl. 3:22) Ek en jy is nog hier. En geen dankie sal ooit genoeg wees vir Die Offer wat gemaak is nie, maar tog, weet jy wat ek en jy kan doen? Ons kan Sy liefdes-opdrag aan ons deurvoer en uitvoer: Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart, en siel met al jou krag. (Deut. 6:5) Eer Hom, gehoorsaam Sy wil, hê Hom lief, en dien Hom met hart en siel. (Deut. 10:12)
In die stilte van die oggend sal jy Sy stem hoor, Sy liefdesverklaring wat vasstaan oor die eeue, Hy wat standvastig is, overanderd… goed is. In die gesang van die voëls eggo Sy liefde vir my en jou. Die geritsel van die wind deur die blare wat Sy trou en standvastigheid bevestig. Onthou weer vanoggend die Offer, raak bewus van Sy troue liefde en barmhartigheid teenoor jou, want Díé Offer was vir JOU!
Baie baie dankie!! Ek besef weereens hoe Klein my wereld eintlik is. Jou boodskap het my tussen my oe kom slaan. Hartverskeurend huil ek oor die groot genade. Die Offer. Xx
Geseende paastyd vir jou en jou gesin.
God skenk ons nie genade omdat
genade nodig is nie,
maar Hy skenk Sy genade
omdat Hy ‘n genadige God is.❀
(Johnny Foglander)