Ons moet partykeer bietjie introspeksie doen, so klein opname maak. Ons moet bietjie vra en ondersoek: Hoe lyk my hart? Wat gaan aan in my gedagtes? Die gedagtes in my en jou kop en die woorde wat uit onse monde kom wys eintlik maar die toestand van ons hart en gees. Of hoe? Hoe meer jy in Hom leef en bly hoe mooier lyk jou hart en gesonder is die toestand van jou siel en gees. Hoe mooier is die vrug wat jy dra.
Soms is die intensies van wat ek en jy sê en doen goed en dit lyk mooi vir almal om te sien, maar die uiteinde van ons goeie bedoelings is maar net oordeel en veroordeling teenoor alles en almal rondom ons. Ai, dis ‘n mens ding, ons is almal skuldig. Daar is ‘n spreuk wat sê: The road to hell is paved with good intentions. Ondeurdinkte ‘goeie bedoelings’ wat voordelig is vir wie?
Ag maar moenie komkommer nie, daar is ‘n uitweg, daar is ‘n antwoord in Efesiërs 6:10, Soek jou krag in die Here en Sy groot MAG. Trek jou wapenrusting aan liewe vriendin, wat God self vir jou gegee het. Sodat jy op jou pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. Jou krag lê in verbondenheid met Christus! Gaan soek jou krag in die Here, jy gaan dit verseker daar vind- gewaarborg.
Johannes 15:5: Sonder My kan julle NIKS doen nie. Liewe vriendin wanneer ek en jy in Hom bly en in Hom alleen is ons tot alles in staat, omdat Hy so sê nie omdat ek en jy so oulik is nie. Regtig sonder Hom is ek niks, Sy genade hou my regop elke liewe dag. Sy liefde onderskep en onderskraag my wanneer my krag op is.
Johannes 15:7: Laat My Woord in jou hart lê-plek kry. As God se Woord-Jesus self deel raak van jou hart en siel, deel raak van jou denkwyse en die mens wat jy is deur die Heilige Gees wat in jou woon. Wanneer jy leer om in Jesus Christus te bly, tree jy in jou alledaagse leef, menseverhoudings en in jou menswees self, meer en meer soos Hy op. Nader aan Hom, maar ook nader aan Vader se hart.
Johannes 15:9, Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Bly in My liefde… Sjoe want dis veilig daar, om in Sy liefde te bly en te woon, elke dag. Genadige, vredevolle tye saam met Hom. Tye van vol raak met Sy liefde. Tye van vol kom met Sy genade. Die enigste plek wat jy jy kan wees. Sonder pretensies, sonder verwagting, want waar anders as by die voete van die Een wat jou gemaak het sal jy in Sy liefde kan bly?
Johannes 15:11, Volkome blydskap is om volkome lief te hê, Wanneer ek en jy die mensies om ons onbaatsugtig, opreg liefhet sonder fieterjasies en dingetjies, voorwaardes, voorskrifte en bybedoelings. Nie omdat dit die groot ‘opdrag’ is nie, maar omdat Vader deel is van jou DNA, omdat jy eenvoudig nie anders kan nie, want die liefde van Christus dring ons. (2 Kor. 15:14) Dit dring ons om beter mense te wees, mense wat omgee, wat uitreik, mense wat na ander mense kan kyk sonder veroordeling, maar deur die brille van Vader se liefde. Dan is die opdrag in Johannes 15:17 nie so moeilik om uit te voer nie! “Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!”
Wanneer ek en jy in Hom bly, as ons regtig ‘n poging aanwend sal ons baie en mooi vrugte dra. As jy baie vrugte dra verheerlik jy Vader, sê jy dankie aan Hom vir al die goedheid, guns en genade wat elke dag so onverdiend na jou kant toe geskuif word. ‘n Dankie-sê vrugte affêre.
Mag die gebed en die versugting van my en jou hart wees om ‘n vrugte boord vir Vader te wees, wat oeste dra van ryp, mooi gesonde vrugte. Vrugte wat ander se harte en lewens aanraak. Vriendin, en mag ek en jy die liefdes-opdrag hoor en daarop ag slaan: “Julle het my nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra. Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!” (Joh. 15:16-17)
Breathe upon me with your Spirit wind. Spare nothing as you make me your fruitful garden. Hold nothing back until I release your fragrance. Come taste the fruits of your life in me. (Song of Songs 4:16 TPT)