Wat Adeverteer jy?

‘n Paar keer hierdie afgelope Desember vakansie het my oë amper uit my kop uitgespring. Nee wag, dat ek net by die begin begin voor ek jou sê hoekom my oë amper uitgeval het…

Jy weet vriendin, as ek en jy na ‘n advertensie kyk dan weet ons mos wat ons gaan kry, waarvoor ons betaal. Dit wat geadverteer word is mos dit was ons dan soek en uiteindelik koop. Ek sal die eerste een wees om te erken ek is ‘n lief vir ‘n uitverkoping. Ek hou daarvan om my man bankrot te spaar soos hy tereg sê… nietemin terug by die oë wat uitpeul.

Ek sê al jare vir my girls, as hulle aantrek is dit mos soos ‘n advertensie, en mens moet bitter versigtig wees wat jy adverteer. My man sê altyd jy werk aan jou ‘brand’ m.a.w. waarvoor jy staan, wat jy glo, wie jy is, jou karakter ensomeer. (Hier wil ek net byvoeg, hoe jy aantrek is nooit ‘n verskoning vir hoe ander mense teen jou optree nie. Elke mens daar buite het mos ‘n vrye wil.)

Nou bekyk ek die jongmeisies wat daar rondloop in Hartenbos so, dis net wange waar jy kyk, en ek praat nou glad nie van die wange aan weerskante van jou neus nie. Geld het opgeraak, of die materiaal. Die toppies lyk soos onderklere, miskien is dit… ek weet nie, dit maak net-net die nodigste toe so dan vra ek: Wat is dit wat hulle adverteer?

Ek sê maklik vir my girls “nee ek dink nie so nie” en kyk moederskap vir my is nie ‘n gewildheids kompetisie nie, want ek vermoed nogals dis die een kompetisie wat ek waarskynlik-defnitief nooit sal wen nie. Het ek en jy nie ‘n verantwoordelikheid, ‘n goddelike verantwoordelikheid om hierdie kindertjies heel aan die anderkant uit groot te maak nie? Gee leiding aan ‘n jongmens oor hoe sy moet leef en sy sal ook as sy oud is nie daarvan afwyk nie. (Spr. 22:6) So, as daar ‘n paar oë rol oor my ‘koekerige’ reëls, dan is dit okay! Ek sal dit soos ‘n man (ma) vat!

Ek dink die een ding wat ons as mammas moet verstaan en dis miskien bietjie tyd om hierdie oop gesprekke met ons tiener dogters ook te hê… jy trek miskien aan, want jy wil so bitter graag hê die lewensredder met sy lang blonde hare en rooi swembroekie moet jou raaksien, of die ‘ou’ op die strand. Miskien sien hy jou raak, miskien nie, maar ek kan jou een ding sê dit was opmerklik hoe die ou omies en allerhande ander karakters ook vir jou tiener se wange loer, en nie so onopmerklik soos húlle miskien dink nie.

Ons moet ons tiener dogters ten alle koste beskerm, dis ‘n werk wat ek verskriklik ernstig opneem. Ons kan nie toelaat dat hulle aantrek wat hulle wil nie. En ek weet dis verskriklik moeilik, want ons wil tog net so bitter graag die vrede in ons huise en karavane bewaar. Ons is nie lus vir baklei nie… nie alweer nie. Daarom sê ons niks, bly ons eerder stil, wanneer ons eerder ietsie moes gesê het.

Vriendin ek en jy is nie ‘lucky-draw’ mammas nie. God het jou baie spesifiek uitgekies om Sy kids groot te maak. Ek wil huil as ek hierdie weerlose meisiekinders in die pad sien loop. Ons kinders is in die moeilikheid, ek dink ons sal so klein bietjie moet wakker skrik en bietjie die rose moet ruik! Oujaarsaand was daar ‘n paar jong kinders wat storm dronk was op die strand… ek het gewonder: Waar is die ouers. Weet hulle waar hulle kinders is, weet hulle wat hulle doen? Ek praat nie van jong volwassenes nie, ek praat van kinders van 13 en 14 jaar oud.

Ek wonder net altyd waar was die ma of die pa toe daai bittere kortbroekies gekoop is. Iemand moet dit tog betaal? Waar was die ma en pa toe daai kosbare skamele geklede lyfie uit die huis geloop het? Was daar niemand wat haar gegroet het toe sy by die deur of tentflap uitgeloop het nie? Was daar niemand wat lief genoeg is vir haar wat haar kon terugstuur en sê gaan probeer weer en dan konfiskeer jy sommer die ekstra kort wang uithang broekies. Is dit afwesige ouers of ouers wat nie omgee nie? Ek weet nie vriendin, al wat ek weet dit maak my diep bekommerd. Meisiekinders se klere behoort, voor hulle by die deur uitpeul, die buk-toets, die sit-toets en die hande-in-die-lug-op-toets te slaag voor hulle fort na die volgende bestemming.

Jy weet, ek en jy loop nie in ‘n wildtuin rond met bloedbesmeerde lywe en hoop en bid ‘n leeu skraap ons nie, of nog erger vreet ons geheel en al op nie. Jy onthou nog die versie in 1 Petrus 5:8, Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Wat ek nou gaan sê behoort nie vir jou nuus te wees nie. Ons kosbare mooi kindertjies is die vyand se teiken en inderdaad so ‘n sagte teiken.

Dis ‘n wildtuin daarbuite… ons moet ons sokkies optrek en regtig egtig begin kyk na ons kinders, en na ander se kinders ook, want ‘it takes a village to raise a child’. Ons moet hulle deur elke fase en gier bid en nooit ophou nie. Ons moet hulle daagliks in die oë kyk en vra: “Is jy okay? Is jy regtig okay?”

Ek en jy moet meer fokus op hartsdinge as punte, ons moet meer fokus op hulle menswees en karakter as prestasies, want op die einde van die dag wil ek tog groot asseblief nie voor my Heer en Meester staan met ‘n mond vol tande en nie weet hoe ek dié gemors gaan verduidelik nie!

En ons as ma’s maak foute, want ons is nie perfek nie! ‘n Ma kan ook maar net haar  beste gee, maar ‘n ma se beste sal altyd genoeg wees. Ons sal  moet begin opstaan vir ‘n generasie wat môre se leiers en volwassenes gaan wees. Wat is die nalatenskap wat ons vir hulle los… of los ons hulle net om te maak soos hulle smaak?

One Reply to “Wat Adeverteer jy?”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *