Een oggend so kort duskant die tyd wat ons ousus by die Universiteit moet gaan aflaai staan ek op, maar ek is so ver van okay af dat dit nie eers snaaks is nie. As opkrul in ‘n fetale posisie op my bed onder my duvet ‘n opsie was, sou ek dit gedoen het. As vlug en die ‘groot intrek’ heeltemal vermy ‘n opsie was het ek. Maar helaas soos met baie dinge in die lewe is daar net ‘n vorentoe. Geen sprake van omdraai nie.
Twee dae voor ons haar moet gaan aflaai begin hierdie groot ongemaklikheid in my hart, siel en gees… ‘mind you’ dit sypel toe sommer deur na die lyf toe. Hoofpyn, wat ek nie eintlik ken nie, en ‘n nek en skouers wat lekker op ‘n knop getrek is.
Ek bly maar besig, want daar is geen beter tyd as die hier en nou om al die gordyne in my huis te was nie… en ek skrop en skuur en maak skoon en pak reg, enige iets om nie te hoef te dink aan die groot koebaai nie.
Jy voel amper soos ‘n ‘ticking time bomb’ met so baie emosies wat plek soek in jou hart. ‘n Warboel emosies sonder name, maar ‘n gevoel van ek is nie okay nie, ek weet nie hoe ek dit gaan maak nie.
Jy weet vriendin, miskien is jy ook daar, met ‘n kind wat uit die huis vlieg met hulle sterk gemaakte arendsvlerke, miskien is daar ‘n klompie redes hoekom jy in hierdie moment nie okay is nie, nie okay voel nie, en ook nie heeltemal seker is wanneer jy weer okay gaan wees nie. Een ding wat ek vinnig besef het is: Dit is okay om nie okay te wees nie, maar weet jy wat is nie okay nie vriendin? Om hulpeloos en moedeloos te voel nie. Die een ding wat my gedra het deur hierdie nie-okay tyd… ek het aan Jesus vasgeklou soos ‘n drenkeling, soos een wat moet vashou om asem te kry… om te oorleef.
Een dag voor die groot koebaai word ek met die volgende woorde in my hart wakker. Die Here is naby… Ek is naby… En in daai een goddelike oomblik weet ek, al voel dit nie so nie, ek gaan okay wees… En ek praat die heeldag met Hom, en ek huil ‘n paar verdrietige trane terwyl ek staan en stryk daar waar niemand my kan sien nie, daar waar net ek en Hy is en ek praat met my Pa:
Here ek is glad nie so seker ek kan dit doen nie… “Ek is naby…” (Filip. 4:5) Here, ek voel swak en kragteloos. Help vir my! “Liefste dogter, My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is. (2 Kor. 9:12) Here, dit voel of my hart uit my binneste kan skeur… “Ek beskut jou onder My vleuels, Ek is vir jou ‘n veilige skuilplek. My trou beskerm jou aan alle kante. Jy hoef nie bang te wees nie…” (Ps.4-5)
Ek ondervind in my dae van nie-okay wees hoe God se teenwoordigheid ‘n laer om my trek. Ek voel hoe Hy my agter ‘n skild intrek, Ek voel hoe Hy my bedek en beskerm, regop hou, ondersteun en die skrif in Psalm 91:4(TPT) raak my werklikheid, raak lewendig vir my.
His massive arms are wrapped around you, protecting you. You can run under His covering of majesty and hide. His arms of faithfulness are a shield keeping you from harm.
Jy weet vriendin, en ek wil amper soos ‘n goeie advertensie sê: Dis nie al nie… ek kan in hierdie onsekere, nie-okay oomblikke voel hoe ander mense wat vir ons lief is intree en instaan vir ons. Grootouers wat help bid, tannies, ooms, vriende en vriendinne. En ek kan voel hoe die Aáron’s en Hur’s in my lewe my hande in die lig ophou en versterk.
Die groot-koebaai dag breek aan, en 18 jaar van kindwees verdwyn soos mis voor die son. Hier voor my staan ‘n jonge dame met drome in haar oë, met ideale, met determinasie, maar ek sien ook agter haar oë skuil ‘n stukkie onsekerheid, ‘n bietjie hartseer, ‘n tiktseltjie ongemaklikheid vir die nuut en die onbekende.
My voorneme en my gebed was om nie voor my girls te huil nie, want ‘n ma het dit in haar om sterk te wees, nie oor sy so oulik is nie, maar omdat Sy genade so groot is. Sy krag in haar so groot is.
Die koebaai dag was eintlik vol vrede, ja bietjie hartseer, maar nie genoeg om groot krokodil trane te huil nie. Nie genoeg om moedeloos en hulpeloos te voel nie.
So paar daggies na ousus weg is vra ek net weer, maak ek net weer seker kleinsus is okay. Sy het ‘n sussie en beste vriendin in een, wat sy moes groet. Die wysheid en insig van jong harte maak my soms stom-verbaas. Sy sê sy is okay, haar hart is seer, maar sy gun haar sussie om haar drome te jaag en te bewaarheid.
Dinge gaan nooit weer dieselfde wees nie. Dis ‘n nuwe opwindende seisoen wat voorlê, en terwyl sy deur die nuwe deur in haar toekoms instap staan ons bankvas agter haar. Dis nie ‘n deur wat ons betree nie, dis haar deur…
Vriendin ek wil jou vanoggend bemoedig en ek wil vir jou sê ook jy gaan okay wees, want Hy is soveel groter as ons nie-okay oomblikke. Sy genade vir jou is vandag en vir altyd genoeg…
Ek groet jou vandag met ‘n kosbare versie in Romeine 15:13 (The Passion Translation)
Now may God, the inspiration and fountain of HOPE, fill you to overflowing with uncountable JOY and perfect PEACE as you trust in Him. And may the power of the Holy Spirit continually surround your life with His super-abundance until you radiate with HOPE.
♡
Dit is presies hoe ek voel vandag ~ gelukkig het my skoonsus Lolly my van van diè bemoedigings vertel. My dogter het gisteraand Ford Lauderdale toe gevlieg vir n onbepaalde tyd ~ en sou ek gespaar bly vir my 75ste verjaarsdag dan sien ek haar in Sardienie
Mag Jesus self jou hand kom vat en jou moederhart versterk… onthou altyd jy is nie alleen nie. ❤️