(opgedra aan Joe)
Die laaste dag van 2022 wandel ek en manlief op die strand. Ek loop stadiger as hy, ek soek altyd ‘n mooi klip of drie om saam te vat huis toe, so met die drentel sien ek sommer alles raak wat die afgelope ruk uitgespoel het…
Plastiek stukkies wat nie daar hoort nie wat die strand ontsier, amper soos weggesteekte sondetjies in ons lewe ook maar maak. En ek sien baie klippies, rondes, groottes, kleintjies, alle kleure en vorms, sommige klippies is gebreek en ek dink onwillekeurig aan mense, dis asof die klippies die mensdom verteenwoordig.
Sjoe die wind was die jaar woes, ampertjies party dae gevoel of ons kan weg waai, elk geval met die wind kom die bloublasies… toe kleinsus nog kleiner was het ‘n bloublasie haar beetgehad en ‘n brandstert so halfpad rondom haar lyfie gemaak terwyl sy geswem het, dit het vreeslik gebrand… maar hier aan die ‘regte kant’ van die see is die bloublasies skadeloos, uitgespoel… dit is ‘n goeie herinnering om die jaar miskien in jou baan te bly, op die strand te bly waar dit veilig is.
Paar keer hierdie jaar het die fluitjies woes geblaas en dan swem, skarrel die hele spul uit die water uit tot die haai weer sy swem kry, maar vir die ou wat diep swem en die waarskuwings ignoreer is lewe in oorvloed nie ‘n waarborg nie.
So met die drentel is ek versigtig om nie op die gebreekte skulpies te trap nie, so min heel skulpies wat oorgebly het om jou aan te verwonder en bymekaar te maak… en daar is ook ‘n lessie te vind… kyk waar jy loop, moenie loop waar jy kyk nie, dit geld sommer vir die pad van 2023 ook. Loop lig, trap versigtig.
‘n Sussie in Jesus sê hier iewers in die middel van die vakansie: “Gooi vir my ‘n klippie in die see!” Ek het vir haar ‘n klippie van hoop en vrede in die see gegooi by Hartenbos… Maar vir hierdie jaar liewe vriendin gooi ek 5 klippies in die see ook vir jou: ‘n klippie van hoop, liefde, vrede, geloof en natuurlik ‘n genade-klippie.
Ons hoop is nie in mense, dinge of gebeure nie ons HOOP is in Hom. Die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie. (Jes. 40:31) Die God van die hemel en die aarde regeer in VREDE oor ons. Die Here doen alles vir ons. (Jes. 26:12) Hy gee ons krag en Hy seën ons met oorvloed. (Ps. 29:11)
Ek het ook ‘n klippie vol GELOOF ingegooi; ons lewe immers deur geloof en nie deur sien nie. (2 Kor. 5:7) en vir goeie mate ‘n GENADE klippie. Genade in oorvloed… daaglikse genoeg genade.
Maar die belangrikste klippie wat ek ingegooi het was die klippie van LIEFDE en dit het my aan die klip voor ‘n oop graf laat dink, ‘n klip wat getuig van liefde, ‘n weggerolde klip wat getuig van die dood wat vir altyd en ewig oorwin is. ’n Want só lief het God die wêreld gehad-klip… (Joh. 3:16) Dalk tel jy daar op Hartenbos se eindelose wit strande ‘n klippie op…
Dis ‘n splinternuwe jaar wat voor my en jou uitstrek my liefste vriendin, nuwe jaar, nuwe dinge, nuwe geleenthede, oor beginne, weer probeer. Vir sommige is dit ‘n opstaan-jaar, ‘n langverwagte oorwinningsjaar vir ander.
Nee ek het nie nuwejaars voornemens nie, hulle is geneig om te verdamp hier teen die 14 de van die eerste maand… dit vat net energie om hulle uit te dink en nog meer energie omdat jy sleg voel dat jy hulle nie kon volhou nie. As jy ‘n nuwejaars voorneme het, laat dit een wees wat op mense fokus. Om liefde en genade vrylik uit te deel, om vrede te los oral waar jy gaan, om hoop te bring na ‘n hopelose situasie en om jou geloof in Christus te vernuwe.
Vir hierdie jaar is my wens en my droom vir jou ‘n laat-los-en-laat-gaan jaar… ‘n jaar waar jy opnuut sal besef en weet dat jy werklik en waaragtig op God kan vertrou en staatmaak, dat jy kan stil raak en stil wees, want Hy is jou God. Vriendin en dis so persoonlik, dis nie ‘n almal se God nie, Hy is jou persoonlike God en Verlosser. Hy het jóú lief… Sy genade is vir jóú genoeg. Jóú naam is in Sy handplams gegraveer tot in ewigheid.
Ek verklaar vanoggend dat 2023 ‘n goeie jaar gaan wees, nie oor goeie goed gebeure nie, maar omdat ek en jy ‘n goeie God dien met goeie planne vir ons. (Jer. 29:11) Hy het my en jou veilig uit die ou jaar tot in die nuwe jaar in gebring.
Wat is dit wat jy van God vra in hierdie broosnuwe jaar? Sy nabyheid? Sy krag? Sy vergifnis? Sy liefde… wat is daai een dingetjie wat jy hierdie jaar van Hom afsmeek? Vra maar gerus liewe vriendin, Hy hoor jou… Hy wat jou sien, jou raaksien wag op jou…
Ek wil jou los met ‘n kosbare woord vir 2023, Jesaja 32 vers 17: Wie reg doen, sal vrede hê; wie volhard in regdoen, sal vir altyd rus en sekerheid geniet en mag barmhartigheid, vrede en liefde in oorvloed in 2023 aan jou geskenk word. (Judas 1:2)
Martha jy het ‘n ongelooflike talent uit ons Abba Vader se hand ontvang. Baie
dankie-e-e … dat jy dit deel met my en almal wat die voorreg het om jou blog te kan lees.
Baie, baie dankie! ❤
Baie dankie vir die klippie wat u in gegooi het, al ken u nie.. Weet u daar is iemand wat Liefde, vrede, Genade, HOOP, Blydskap, Vriendskap of wat ookal elke een nodig het.. U het I gestaan vir ons en u het daar biddend in gegooi, vir wie ookal iets kortkom in die lewe! Dit is so ‘n mooi gebaar om in te staan vir die iemand daar iewers in die wereld wat ietsie nodig het.. Sterkte en Liefde vrou van God, u is n vriendin duisend.
mag die Here u ryklik seen.. 🙏🙏
Liefste Magdelinn, dankie vir jou mooie boodskappie dit het my hart aangeraak. Mag Vader in al jou behoeftes ryklik voorsien. Mag Sy genade en liefde jou elke dag dra. Mag Sy vrede jou oorweldig en bybly. Liefde in Jesus. Martha