Daar is ‘n Engelse spreuk wat sê. ‘Simplicity is the essence of all beauty’. Miskien kan mens dit ook van geloof sê? ‘Simplicity is the essence of faith’. ‘n Eenvoudige geloof sonder tierlantyntjies, frille en dinge. ‘n Kinderlike, ongekompliseerde geloof. ‘n Geloof wat net glo sonder om God om elke hoek en draai te bevraagteken. ‘n Glo wat sê: Okay God, dis reg so, want U is in beheer en ek weet dat daar altyd ‘n plan is. U planne vir my is altyd by verre beter as my eie.
Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! Dal sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. (Jer. 29:11-12)
Oom Angus het so mooi sê ding wat ek sommer baie van hou: ‘God said it, I believe it and that settles it.’ Dis ‘n uit en gedaan geloof. Verseker die tipe geloof wat ek soek… meer van soek. Om in absolute en waaragtige afhanklikheid van Hom te leef, vir jou daaglikse brood, vir jou porsie liefde, vir jou handvol vrede en onverdiende genade.
Kan dit so eenvoudig wees vriendin? Die lewe is alles behalwe eenvoudig en ongekompliseerd. Ek en jy wat Hom ken, Sy hart vir ons ken… God is goed, altyd en in alle omstandighede… ongeag of dit altyd so voel of nie. Is dit nie genoeg nie… is dit nie alles nie? Is Hy nie genoeg nie, is Hy nie alles nie?
God sê vertrou My, daar is ‘n plan. Maar die planne van die Here staan vir altyd vas, (Ps. 33:11) want die Here sal vir my alles goed laat afloop. Aan U liefde, Here, is daar geen einde nie. Moet tog nie die werk van u hande laat vaar nie. (Ps. 138:8)
‘n Onsienbare geloof in ‘n goeie goeie God en Vader. Wat is geloof? Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. (Heb. 11:1,6) Geloof en God se wil loop hand aan hand.
As God nie regverdig was nie, sou dit nie dan baie moeiliker gewees het om te glo sommer maar net nie? Dit sou gelei het tot ‘n hoekom geloof. Hoekom dit, hoekom dat, hoekom sis, hoekom so? Geloof is ‘n keuse wat jy met jou kop maak, nie ‘n gevoel wat iewers in jou hart ronddwaal nie. En soms moet ons die keuse weer en weer oor en oor maak om te glo, op ‘n daaglikse basis, tot en met ek en jy dit kan regkry om te glo soos ‘n kind. ‘n Woordelose glo!
Ons moet maar eerder toelaat dat God altyd die laaste sê hê, want as dit van my en jou afhang sou dit darem een lekker groot gemors gewees het. Ek hoor gister Bill Johnson sê op een van sy podcasts en dis nou baie rowwerig sommer so uit die vuis wat ek kan onthou… Die Bybel is die enigste boek waar die Skrywer opdaag elke keer as jy dit lees. Sjoe… dit het my bietjie aangegryp… elke keer wanneer jy die Woord van God optel is Hy daar by jou.
Hoor jy vriendin? ‘n Lewendige God wat opdaag, wat hoor, luister, vang, keer, optel, vashou, laat gaan, help, uitdaag, regop hou, leer, vorm… ‘n God wat liefhet. Klink vir my soos ‘n God wat ek met toe oë kan vertrou en kan glo in sonder enige twyfel.
Geloof is altyd in ‘n Persoon. Dis altyd ‘n mosie van vertroue dat God kán. Soms maak ons die fout om ons geloof in die ding te stel wat ons wil hê Hy vir ons moet doen: Hy móét laat reën, Hy móét my kind wat swaar leer deur die eksamen help. Hy móét die geliefde spaar… Dis ietwat verkeerdom, want geloof is ‘n bevestiging dat God kán en ‘n berusting in wat Hy besluit. (IL de Villiers)
‘n Berustende geloof… ‘n Kinderlike geloof… ‘n Geloofsvertroue…
Here, ek glo in U. My geloof skiet sommige dae te kort, maar ek glo nogtans. Soms het ek baie geloof… ‘n tipe geloof wat berge wil-moet kan versit. Soms is daar te veel van die wêreld in my, en die probleme en die lewe te veel op die voorgrond en ek moet gaan soek in die grond vir die piepklein mosterdsaadjie wat ek daar gebêre het. Wat moet water kry, wat versorg moet word sodat my geloofsaadjie kan ontkiem en groei.
Here, ek vra vir nog geloof, meer van U, minder van my, want Here vir my is daar net U, altyd net U. Altyd sterk. Altyd groot. Standvastig, dieselfde gister vandag en môre, en liefde. U is altyd liefde. Dis U karakter, wie U werklik is.
Mag my geloof- die soms te min, soms bietjie meer, sommige dae net genoeg, mag dit ‘n aangename offer wees op die altaar in U troonkamer.
Amen.Ϯ
Ek glo, verseker