Geknak en Gekneus.

Ek en manlief hou van stap, sommer so tussen die huise deur, dis te stadig vir oefen so dis seker eintlik meer vir suurstof en geselstyd. Ek hou daarvan om wanneer ons verby lavender stap ‘n blommetjie te kneus dan loop en ruik ek dit so tussen die gesels, of ‘n peperboom… of frangipani… of roosmaryn…

Jy weet vriendin, as die blommetjie, takkie of blaartjie nie geknak en gekneus word nie, word die reuk nie vrygestel nie… Olyfolie word gemaak deur heel olywe te pars. Selfde met wyn. Is dit nie soms in ons lewens ook so nie?

Diamante kan nie gemaak word nie, diamante is steenkool wat oor duisende jare onder druk gevorm word.

Verheug julle hieroor, self al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan… die egtheid van julle geloof moet ook getoets word. (1 Pet. 1:6-7)

Hierin lê die probleem, ek ken bitter min mense wat hulle verheug oor beproewings, ekke inkluis… niemand hou daarvan nie. Miskien mis ons die punt of ons kyk verkeerd na situasies? Ek weet nie… maar beproewing, om geknak en gekneus te word klink nie lekker nie, en ek is nie seker ek wil my hand opsteek vir die hele toets van egtheid van geloof besigheid nie.

Wat ek wel weet, of jy jou hand opsteek of nie, beproewing, droefheid, seer en ontbering is deel van die lewe en as ons heeltemal eerlik is met onsselwers dan voel ons meeste van die tyd die heel naaste aan God in hierdie donkerste van tye.

Onder druk word ons karakter getoets, gevorm en verfyn, dis wanneer die Pottebakker ons vorm en maak soos Hy wil. Weet jy wat vergeet ons soms so bietjie, die vorm my en maak my net soos U wil, geskied nooit sonder die konstante, kosbare teenwoordigheid van die Pottebakker nie.

Wanneer druk, ongemak en  verlies soms vir ‘n seisoen deel raak van ons menswees, kom ons agter waartoe ons in staat is. Ons leef met die besef dat ons nie alleen  in die midde van ons ongemak en beproewing is nie. Ek en jy raak in hierdie tye intens bewus van Iemand wat ons hand saggies vat en net rustig saamstap. … Meermale kom ons sterker aan die ander kant van die seisoen uitgestap.

Dis wanneer ons in die drukkoker van die lewe beland dat ons juis met die besef van Sy kosbare nabyheid, liefde, genade, omgee leef. Wat my oorbewus raak van Hom wat langs my loop, vooruitloop, van agter beskerm, wat binne my woon. Die alomteenwoordigheid van God wat my omvou en toevou, sodat die son jou bedags nie sal steek nie en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie. En jy hoef nie eers op te kyk na die berge nie, want jy weet so-so goed waar jou hulp nog altyd vandaan gekom het.

Die vorm my en maak my deel is vir niemand lekker nie, ek dink nie daar is enige iemand wat bid: Here, laat my bietjie swaarkry nie. ‘Bring on the pressure’, knak en kneus my bietjie nie, maar miskien kan my en jou gebed wees: Here, in hierdie moeilike, swaar tyd, wees my naby, laat die geur wat ek afgee in die knak en kneus proses aangenaam wees vir U.

1 Kronieke 16:11: Soek hulp en beskerming by die Here, soek gedurigdeur sy teenwoordigheid. So liewe vriendin, wanneer jy gekneus en geknak daarna uitsien, soek aanmekaar sonder ophou die aangesig van God, gaan kyk diep in Sy oë, lê met jou kop teen Sy bors wanneer die wêreld jou pootjie en die lewe jou wind skoon uitskop.

Klou vir al wat jy werd is vas aan Deuteronomium 31 vers 8: 1. Die Here sal voor jou uit gaan. 2. Hy sal by jou wees. 3. Hy sal jou nie in die steek laat nie, 4. jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie. Moenie skrik nie. Dit is jou 4 in 1 belofte reguit uit die hemel.

Al voel jy afgetakel na liggaam en gees, God is jou sterkte, aan Hom behoort jy vir altyd. (Ps. 73:26) Gaan kruip onder die blad van jou Hemelse Vader weg wanneer die storm om jou woed en die asem in jou longe te min voel en wil-wil opraak. Kruip daar weg tot jy weer die krag het om die lewe vierkantig in die oë te kyk. Onder U vleuels sal ek skuil tot die bedreiging verby is. (Ps. 57:2)

Kom ons hou ons oë vasgenael op Jesus, (Heb. 12:2) ons Verlosser en Vriend. Swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop, en die hoop beskaam nie. (Rom. 5:4-5) Ons hoop is gevestig op Jesus, Hy wat ons lewende hoop is.

Gekneus en geknaktheid is deel van die kruis en die pakkie wat ons aardbewonders dra. Ons is mos nog nie in die hemel nie. Mag ek en jy net altyddeur onthou wie vir ons gekneus is en wie namens ons geknak is, mag ons nooit vergeet van die houtkruis op Golgotha, die spykers deur murg, been senings en senuwees, die bloed, die pad van lyding, die doringkroon. Kom ons herinner onsself gedurigdeur van genade en liefde onbeskryflik groot wat Hy aan my en jou bewys het.

Oor óns oortredings is Hy deurboor, oor óns sondes is Hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring was op Hom, deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom. (Jes. 53:5) Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ‘n offergawe gegee het, ja, ‘n offer wat vir God aanneemlik was. (Ef. 5:2)

Genesing vir my en jou het 2000 jaar terug by ‘n houtkruis begin. Hy wat namens ons gemartel is, verbrysel is, geslaan is, gespoeg is. Dankie Jesus. U het die prys betaal… ek is waarlik vry!

3 Replies to “Geknak en Gekneus.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *