Lysies, Lysies en Nogmaals Lysies.

Ek sit Sondag in die kerk en ek besef ek sal al die lysies uit my kop en op papier moet kry, want dit vat tans net te veel spasie in my kop op.  Dit voel mos hoeka of mens die tyd van die jaar op ‘n weghol trein klim en daar is geen sprake van afklim nie. Jy moet maar vasklou vir al wat jy werd is…

Dis net voorwaarts mars, niks tyd vir mistrap of die danspassies verkeerd kry nie. Dis bitter moeilik, amper onmoontlik om nie oorweldig te voel nie, en voor jy jou kon kry, ten spyte van jou beste voornemens bly jou vrede ook in die slag. En asof dit nie erg genoeg is nie, groet geduld en gaan solank op vakansie, seewaarts daar waar jy eintlik wil wees. Vriendin is dit net ek, of is hierdie tyd van die jaar net té besig?

Ek het bitter baie lysies op die oomblik. Gits ek het ‘n lysie nodig vir al my lysies, van my lysies het tot onderafdelings…

‘n Kersfees lysie vir geskenke en ‘n bestandeel lysie vir Trifle (of koekstruif as jy erg is oor  korrekte  Afrikaans) en Koolslaai (Ek moes eers op spring en Tong by my lysie gaan sit… daarvan het ek heeltemal vergeet!) Baklysie vir Matriekvakansie, Kersfees en Kamp. ‘n Kamplysie vir pak, te doen, te koop en te onthou. Ousus se 18de verjaarsdag hier by die huis, Universiteitslysie: Pak, Koop, Doen, ‘n BlackFriday lysie… ja elke jaar maak ek ‘n lysie bymekaar van goedjies wat ek nodig het en dan kyk ek of ek ‘n paar rand kan spaar. Jannie se hoeka ek spaar hom bankrot.

Ek het al gevind sodra die lysies swart op wit is en uit my kop is is die geraas in die kop nie net minder nie, maar ek voel so bietjie meer in beheer, so bietjie meer georganiseerd. Ek vergeet meestal my lysies op die yskas, maar ten minste is daar ‘n lysie wat ek kan afmerk (die lekker deel) en dan kan ek mooi sien wat ek nog moet doen.

Vriendin, maar die belangrikste is om jou vrede terug te wen te midde van al die lysies en besig, nog belangriker is om tyd te maak vir stil raak en net bietjie asemhaal. My asemhaal tydjies is lees of skryf… dit hou my min of meer “sane”! Dit is my brandstof, my terapie my voelgoed plan.

Hier is my 10 punt plan om die besig wees van die Feesseisoen te oorleef.

  1. Maak jou lysies en bespreek hulle gerus met Jesus, Hy hou van orde en wie beter om te help lysies uitsorteer. God is tog nie ‘n God van wanorde nie, maar van orde en vrede. (1 Kor. 14:33) Moenie van die vrede vergeet nie vriendin!
  2. Geen lysie is permanent nie! As ‘n lysie oorbodig lyk, gooi hom weg.
  3. Een lysie op ‘n slag. Een dag op ‘n slag. Begin net iewers. Doen elke dag net een item op ‘n lysie en voor jy jou kom kry is al jou lysies doodgetrek en uitgesorteer.
  4. First things first. Ousus se universiteits lysie lê onder, en hy kan maar daar bly tot al die ander lysies meer verbruikers vriendelik lyk.
  5. Sê eenvoudig nee… soms het ek en jy nie die kapasiteit vir nog iets doen nie, maak of bywoon nie. Dit is meer as okay. Nie ek of jy is Supergirl nie.
  6. Elke dag het 24 uur, vir my en vir jou. Rus is belangrik, ontspan ook, tyd saam met God… ononderhandelbaar.
  7. Ek maak kort notas op die Kalender sodat ek nie een of ander belangrike bal tussen al die lysies en besig wees laat val nie.
  8. Moeilike ene vir my… vra vir hulp. Jip ek sukkel lekker met die enetjie. Vra hulp as jy vasbrand… of raad, of koffie…
  9. Jy kan onmoontlik nie alles gelyk doen nie. Doen wat jy kan wanneer jy kan!
  10. Moenie op jou hande sit en twee dae voor Kersfees alles probeer uitsorteer nie. Dit veroorsaak eindelose, onnodige spanning in die gesin en die huwelik. In elk geval, het jy al laas minuut inkopies probeer doen 2 dae voor Kersfees, Vergeet dit! Jy verloor die hele jaar se vrede opbou in een oggend. Wees soos NIKE… just do it!

En vriendin as jy oorweldig voel dan is dit ook okay. Miskien is jou hart onrustig en dit het niks met lysies te doen nie, miskien voel jy net moeg op en gedaan, miskien is jy in ‘n woestyn seisoen van jou lewe en nie eers lus vir Feesseisoen dinge nie. Dan steek jy net jou hand op en uit en Hy sal jou ophelp en teen Sy bors vasdruk. From the end of the earth I will cry to You. When my heart is overwhelmed; Lead me to the rock that is higher than I. (Ps. 61:2)

Soek jou krag op die regte plek. Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in Sy groot mag. (Ef. 6:10) Vermy onrus en benoudheid, laat Sy vertroosting jou tot rus bring. Whenever my busy thoughts were out of control, the soothing comfort of your presence calmed me down and overwhelmed me with delight. (Ps. 94:19)

God se genade vir my en jou is elke oggend nuut en genoeg. (2 Kor. 12:9) Jy is nooit alleen nie! Vra vir God om jou te help om hierdie laaste stukkie van die jaar met blymoedigheid te oorleef. Vra sy hulp met jou lysies, Hy gee om vir jou en jou lysies. Onthou Hy ken jou die heel beste, Hy weet baie goed hoe jy aanmekaar gesit is, dis altemit Hy wat jou aanmekaargeweef het.

En onthou vriendin, koop die rolkoek vir die Trifle vroegtydig en vries dit… en onthou om dit in te pak… ek het dit twee jaar agtermekaar in die vrieskas by die huis vergeet… dit help niks… Tennis beskuitjies werk net nie so goed nie!

 

 Kersfees Trifle (dis nie ‘n jellierige besigheid nie- dis baie lekkerder)

Lys Bestandele.

1 pakkie Suurlemoenjellie
250g Gladde Maaskaas of Roomkaas
1 Rolkoek
125g Gekapte Pekanneute
125ml Kersies (rooi en groen)
500ml Vla
125ml Suurlemoensap
1blik Kondensmelk
250ml Room

Meng die Jellie met 375ml Kookwater en laat heeltemal afkoel. Klits die Maaskaas/Roomkaas by.

Sny die rolkoek en pak ‘n lagie onder in ‘n lekker diep, groot glasbak. Giet Jellie mengsel oor. Sit in die yskas om te stol.

Sny Kersies in kleiner stukkies en gooi helfte van die kersies en die gekapte neute oor die jelliemengsel.

Gooi die 500ml Vla oor.

Pak laaste lagie rolkoek.

Meng kondensmelk en Suurlemoensap.

Klits die Room styf en vou by die kondensmelk mengsel.

Skep oor rolkoek.

Gooi die res van die neute en die kersies oor.

________ ♥♥♥ _______

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *