Die Spinnekop.

Die afgelope twee of wat dae kom die Fillipense 4:13 versie die heeltyd by my op. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. Dis interessant hoe ‘n versie so kan vassteek in ‘n mens se kop en hart. So al asof jy iewers die versie in die nabye toekoms kan nodig kry. Vanoggend stap ek in die eetkamer in reg om die gordyne oop te maak. Ek wil net sê dis eintlik manlief se werk, die gordyn oop trekkery, maar nou is dit so donker soggens dat ek nie wil hê hy moet die gordyne ooptrek nie, want dit voel mos asof mense vir jou kan loer (dis nou loer oor ‘n ses voet muur).

Nietemin, toe ek so opkyk sit daar ‘n liederlooslike lelike, yslike groot reënspinnekop net so bo die gordyn. Ai, ai, ai… en weet jy waste versie kom by my op… jip jy het reg geraai, die tot alles in staat versie. Kyk, niemand kan sê ons Pa in die hemel het nie ‘n wonderlike sin vir humor nie! So loer ek vir die spinnekop en hy loer vir my. Pappa is nie by die huis nie, en nou raak dit ‘n mamma probleem.

Ek het drie opsies. 1. Ek kan nou seker die gogga los daar bo in die hoek, massief, groter as my hand. En dan hoop en bid ek hy sit die hele dag tjoepstil in sy hoekie tot manlief by die huis kom. Opsie twee is ek gaan gym eers, kom terug met krag en moed om die meneertjie uit te sorteer. Die derde opsie is natuurlik om maar net my groot meisie broek aan te trek en self die spinnekop uit te sorteer, hier en nou.

Ek het nie ‘n fobie vir spinnekoppe nie, maar ek like hulle ook nou nie so baie nie. Ek like hulle darem genoeg om regtig my beste te probeer om die spinnekop nie seer te maak nie en lewendig by die deur uit te help, maar ek wil hom verseker nie in my huis hê nie.

Weet jy wat vriendin? Hierdie versie is so op toepassing op alle aspekte van ons lewens. Hierdie versie dra ons deur moeilike tye, alleen tye. Dis die versie wat ek van skool af kan onthou wat my telkemale deur menigte eksamens gedra het. Hierdie versie sleep-dra ons deur die oormoeg-kan-nie-meer tye van ons lewens. Hierdie versie is oorbekend aan ons en ek en jy moet nooit die krag en die waarde van hierdie vers onderskat nie.

Hierdie krag waarna die versie verwys is nie krag van buite af, spierkrag, breinkrag, brute krag nie, nee hierdie krag is die krag van binne af- The power within- Dis God in my, Heilige Gees wat in my woon wat my die krag gee om tot alles in staat te wees, want sonder Hom kan ek en jy niks doen nie, en sal ons nie die krag, die moed en die spoed hê om elke dag ten volle vir Hom te leef nie.

Ons kan nie hierdie krag op ‘n natuurlike manier opvul nie, ons kan nie bly Bar ones eet vir ‘n 25 uur dag nie, ons kan nie spinasie eet en soos Popeye spiere bult en krag kry nie. ‘n Bo-natuurlike krag word op ‘n bo-natuurlike manier op en aangevul. As jy jou krag wil opvul tot dit sommer lekker oorloop, spandeer tyd in God se teenwoordigheid, lees jou Bybel, want dis Sy Woord, baie keer die manier hoe Hy met my en jou praat.

Ek glo regtig alles wat ek wil doen kan ek doen, nie perfek nie, maar nietemin doen, want ek weet mos waar my krag vandaan kom. Dis nie omdat ek dink ek is nou juis so besonders oulik nie, ek is ook beslis nie goed met alles wat ek doen nie, baie keer dink ek ons verhinder onsself so met ‘n houding wat sê: “Ek is baie seker ek sal dit nie kan doen nie.” Ons probeer nie eers nie, miskien is dit die leuens wat ons vir onsselwers vertel, miskien is dit die vyand wat ook tog net weer sy sêtjie wil sê!

Die “Ek dink nie ek kan dit doen nie” kom nie van God af nie, nee dis alweer daai ander enetjie wat allerhande snert in ons ore fluister, gits vriendin ons moet elke oomblik van elke dag so bedag wees, ons geestelike ore en oë moet so geoefen wees dat ons sy leuens al van ‘n afstand af sien aankom!

Dis tyd dat ons sê: “nie nou nie, ek het jou reeds gesien, ek weet hoe klink jou stem, ek herken jou leuens, jy kan maar omdraai-nie vandag nie.” Vriendin as ek en jy Jesus se stem intiem ken dan weet ons mos hoe die vyand se stem klink.

Ons kry selfs die krag om goed te doen wat ons regtig nie wil doen nie, maar moet doen. Ons kry genoeg krag om goed te doen wat ons oortuig is ons kan eintlik nie doen nie. My en jou krag kom van ons Vader… wat in die hemel is, hierdie hemelse, goddelike krag maak ons tot alles in staat.

So as jy gewonder het oor die spinnekop, ek is baie bly om te rapporteer, ons het dit albei oorleef. Ek het opsie nommer 3 gekies… Ek het nie een keer gegil nie en ek het net so bittere klein kragwoordjie gebruik toe hy val en in my rigting begin hol met al 8 bene… Ek vermoed hy gaan net weer by een van die vensters inklim… hopenlik is manlief dan by die huis.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *