Dink en Voel.

Eerstens wil ek net sê ek het ‘n probleem. My brein is geneig om my met tye te pootjie en my hart het die gewoonte om my te bedrieg. Sjoe vriendin, kan ek net sê, hierdie blog het my amper ondergekry. Dit was ‘n gesukkel soos min. Ek het later my hande moedeloos opgegooi en gesê: “Here, help tog ‘n bietjie, ek laaik nie van so sukkel nie!” Ek het ‘n een woord antwoord gekry: Inhoudsopgawe. So vriendin, die blog het ‘n: Inhoudsopgawe.

  1. Die Wenners.
  2. ‘n Oorloggeteisterde gebied.
  3. ‘n Bedrieglike hart.
  4. Die Aanklaer.
  5. Die Probleem.
  6. Lief van Altyd af tot in Ewigheid.
  7. Die Oplossing.
  8. Ten Slotte.

  1. Die Wenners.

Jou kop is loshande die wenner in die kategorie: Jou grootste vyand. Die Silwer, ‘n tweede plek wat nie te versmaai is nie, is jou hart. Die Bybel is vol waarskuwings oor hierdie twee emosie belaaide organe.

  1. ‘n Oorloggeteisterde gebied.

Negatiewe gedagtes en slegte denkpatrone lê soos landmyne in jou kop. Reg om af te gaan as jy daarop sou trap… Ons glo so maklik die vyand en sy allewige negatiewe praatjies.

  1. ‘n Bedrieglike Hart.

Ons verklaar so maklik: ‘Dit voel vir my…’ en jy kan die sin voltooi met ‘n magdom opsies. Vriendin, miskien moet ons so stukkie aan onsselwers skud en net weer besef: Voel is nie waarheid nie. Voel is voel. Dis persoonlik, dis joú hart wat praat, nie God in jou hart wat met jou praat nie.

Mense sê graag die volgende: “Man, volg net jou hart jy kan nie verkeerd gaan nie.” Glad nie goeie idee nie. Soos kleinsus graag sê: “Eh, no!”

Die hart is bedriegliker as enigiets anders… wie kan hom verstaan? (Jer. 17:9) Op jou hart moet jy liefs eerder nie staatmaak nie. Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou jou hele lewe. (Spr. 4:23) Dis ‘n GROOT vers die, sien dit as ‘n waarskuwing.

  1. Die Aanklaer.

Die Vyand, wat ver van jou grootste ondersteuner af is… om die waarheid te sê sy planne vir jou is goor, alles behalwe goed. Die een ding wat hy alte goed weet is dat sy planne die grootste kans op sukses het wanneer hy ons kop en ons hart, aanval. Dis nie verniet ons vitale organe nie. Hy kom immers om te steel, te slag en uit te roei.

Moenie dat jou hart en jou denke ‘n sagte teiken vir hom wees nie, moenie vir hom vatkans gee nie.

  1. Die Probleem.

Daar kom tye in ons lewens wanneer ons voel of daar ‘n gaping is tussen God en ons, soms voel dit of ons gebede nie gehoor word en nog minder beantwoord word. God is soms stil, maar nooit afwesig nie.

Hou op om vir alles en almal om jou skuld te gee vir alles en nog wat. Vat verantwoordelikheid vir jou eie lewe, jou kop en jou hart. Ek en jy is altemit in beheer van wat ons dink, hoe ons voel, hoe ons optree. Net jy, met die hulp van jou Pa in die hemel, kan ‘n gedagte/gevoel stop en vars begin dink en doen. Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand. (Jer. 17:10) Hierdie is ‘n toets wat ek en jy moet slaag en ons moet maar aanhou skryf tot ons volpunte kry.

  1. Lief van Altyd af tot in Ewigheid.

Vriendin ek wil nou ietsie verskriklik belangrik sê en jy moet jou oortjies spits en mooi luister. Eens en vir altyd moet jy die volgende op jou hart skryf. God het my van altyd af lief tot in ewigheid. Niks kan hierdie feit verander nie. Maak die saak eens en vir altyd vir jouself uit en dan hoef jy nooit weer te wonder nie. God het jou altyd lief in alle omstandighede… uit en gedaan.

  1. Die Oplossing.

Dit gaan nie oor hoe jy voel nie, dit gaan nog minder oor wat jy dink… dit gaan alles oor geloof. Wat glo jy en in WIE glo jou? Vertrou jy God sonder voorbehoud? Dit werk seker eintlik anders om, uit die vertroue kom die glo.

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. (Rom. 12:2) ‘n Nuwe mens in Jesus wat nuut dink oor mense, dinge en probleme. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig. (Ef. 4:23-24) Trek jou dink en jou voel in lyn met God se wil vir jou lewe.

Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak. (2 Kor. 10:5) Sif jou gedagtes…

Net jy kan jou realiteit verander deur om te verander hoe jy dink en voel. Skuif opsetlik jou fokus van arme ek na: Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie. Los die ‘Pity Party’ maar vir ‘n ander dag. Ek het gevind mense RSVP nie so getrou op ‘n ‘Pity Party’ uitnodiging nie. Jou Vader in die hemel sal nooit ooit ‘n ‘Pity Party’ uitnodiging aanvaar nie. Oefen om positief te wees, te dink, te praat… en ja dit gaan oefening vat…

Alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is- watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees- daarop moet julle julle gedagtes rig. (Filip. 4:8) Hierdie vers is kosbaar verby dit is nie net goeie raad nie, maar dit is díé oplossing vir al ons kop en hart probleme.

Die heel belangrikste is: Trek die volle wapenrusting wat God jou gee aan! Sjoe vriendin, ons loop half naak in die gees rond. Sit verlossing as helm op, verstaan jy vriendin, hierdie helm sal jou beskerm wanneer die listige vyand jou gedagtes aanval. Vryspraak van God as borsharns… jy hoor? Bedek jou hart sodat die brandpyle nie jou hart deurboor nie. Jy is vry en vergewe, as jy dit kan glo en jou eie maak, sal die vyand se pyle onverrigter sake by jou voete val.

  1. Ten Slotte.

My liewe vriendin, my gebed vandag vir jou, is dat jy diep in jou binneste sal weet hoe God wil hê hoe jy moet lewe, dat Hy sal jubel en juig oor die opregtheid diep in jou hart. (Ps. 51:8) Dat Hy jou hart sal deurgrond, en met sagtheid, genade en liefde jou sal lei op die beproefde pad wanneer jou kop en jou hart die verkeerde afdraaie vat. (Ps. 139:23-24) AMEN!

 

2 Replies to “Dink en Voel.”

  1. Ek kry nie altyd kans om dadelik te lees nie maar God laat my altyd lees op die regte tyd. Jou blog is soos n kompas, wys net weer die regte rigting!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *