Onthou jy toe ons klein was het die oumense goed gesê soos: ‘Kinders word gesien en nie gehoor nie’ en moet tog nie waag om binne sien-afstand te sit nie, dan het jy tande getel. Nee, buitentoe met jou… of jy is kombuis toe gedelegeer om te gaan tee maak.
Die oumense was slim, hulle het goed geweet, die goed wat grootmense soms bespreek is nie vir kinder ore bedoel nie. Toe kom ons in die verligte era, en inligting is met ‘n druk van ‘n knoppie beskikbaar. Verligte era met verligte ouerskaps idees. Ons het die wysheid en insig van die ouer generasie gaan wegbêre en gedink dis ‘n goeie idee om vir ons nog baie kind-kinders al die inligting beskikbaar te stel wat hulle hartjies begeer. Nou tel hulle tande en word gesien en beslis gehoor ook.
Wat gebeur toe? Ons kinders sien goed en hoor goed wat nooit ooit vir hulle ore en harte bedoel was nie. Nou sit ons met ‘n generasie van angstige dog goed ingeligte kinders. Ons het besluit in die verligte-era is kinders reg vir grootmensdinge… hulle kan maar hoor, al verstaan hulle nie, ons kan maar op hulle afpak, hulle gebruik as ons klankborde, raad by hulle vra- hulle is darem so tawwe generasie.
Ons dink nie meer aan die sê-ding dat die mure ore het nie. Ons sê wat ons wil vir wie ons wil. Kinders hoor, jy dink jy praat sag, hulle ore is lekker nuut… hulle hoor alles. Hulle hoor al hierdie dinge… van huweliksprobleme, van mamma wat skree sy haat vir pappa, dan stap sy by die kamer uit en maak asof niks fout is nie.
Van geld-probleme en bekommernisse waar die geld vandaan gaan kom vir die rekeninge, nuwe skoolklere en kos. Ons gesels oor plaasaanvalle oor die etenstafel, ‘siestog het jy gelees hoe die omie gemartel is en die tannie verkrag is’, selfmoordgevalle, regeringsprobleme… maar hulle breine was nooit gemaak om al hierdie negatiewe dinge te verwerk en te dra nie. God het hulle geskape om kind te wees en ons het besluit om hulle kind-wees te steel.
Jy weet, en ek dink ek het dit al gesê… ‘n huwelik bestaan uit ‘n man en ‘n vrou wat trou aan mekaar beloof het. Kinders is nie deel van hierdie verbond nie, hulle word uit die verbond gebore, hulle is wel deel van die gesinseenheid. Nou begin die huweliksboodjie gevaarlik te skommel. Ons vra ons kinders: Dink jy mamma en Pappa moet skei? Wat dink jy? Mamma en Pappa gaan skei waar wil jy bly? Tussen ‘n ‘rock and a hard place’, die arme bloedjies. Ons trek hulle in en maak hulle lasdraers.
Ons vra? Dink jy dis ‘n goeie idee dat ons imigreer? So asof kinders die tipe besluite moet kan neem? Asof hulle gemaak en geskape is vir die tipe stres en spanning wat al ons grootmensdinge op hulle kleine maer skouertjies plaas.
So asof dit nie erg genoeg is dat ons die hele grootmenswêreld voor hulle oop en bloot lê nie, deesdae verwag ons sommer van hulle grootmensdinge ook. Van kleins af, wees verantwoordelik, word ‘n bietjie groot, ons maak van hulle klein grootmensies.
Ons gee vir hulle al hierdie inligting, massas inligting maar ons vertel hulle nie hoe om dit te vewerk nie. Ons praat en dan los ons hulle om te broei en te stoei met die kwessies waarvoor ons nie eers die antwoorde het nie. Kinders is nie gemaak om grootmens probleme te dra wat nog te sê van op te los nie.
Wanneer jy oorborrel van alles wat negatief en sleg is maak doodseker jou kids is nie binne hoor-tref-afstand nie. Ons moet die wagte voor ons monde bietjie wakker skud. Ons moet ons woorde begin tel, ons moet praat wat opbouend is, wat heel maak wat, woorde wat genees, woorde wat seën.
Baie keer as ek voor die skool sit en wag vir die girls dan hou ek die kids wat by die skool uitpeul fyn dop. Te veel van hulle loop met oorfone, weggesluit in ‘n eie wêreld waar ander mense selde welkom is. Te veel van hulle loop kop onderstebo, geen oogkontak, te veel van hulle loop met geboë skouers, skouers wat wil knak, skouers wat verklaar- ek het genoeg gehad.
Ons kan nie bekostig om hierdie generasie deur ons vingers te laat glip nie. Ons kinders kry swaar en dis tyd dat ons wakker skrik, verantwoordelikhied vat. Dis nooit ooit te laat om te begin regmaak nie. Te veel ouers wat nie ‘n idee het wat in hul kids se lewens aangaan nie. Van die pyn, die angs, die depressie, die alleen spoeg en spartel om net elke dag kop bo water te hou.
Vriendin, as jou kosbare kind, wat net aan jou geleen is, vanaand deur die deur stap. Dan hou jy hom vir ‘n oomblik styf teen jou bors vas… jy kyk diep in sy oë en jy maak seker jou kind is nog okay.
Children are God’s love-gift; they are heaven’s generous reward. Psalm 127:3(TPT)
Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie… Markus 10:14