Die Dogtertjie met die Wit Rokkie.

Ek wou hierdie stukkie al verlede week post, maar God het gesê: “Ek wil jou eers ietsie wys.” Vriendin, en dit wat Hy my gewys het was die klein dogtertjie met die wit rokkie in my, maar met ‘n heel hart. Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale. (Mal. 4:2) Sy Woorde, Sy liefde het die Dogtertjie met die wit rokkie volkome genees. Vriendin, ek wil jou regtig net vandag kom bemoedig… hou uit, hou aan om genesing vir die kind in jou te soek… tot jy dit vind by die voete van Abba.

Iewers in ons elkeen se grootmens wese leef ‘n kind. My en jou kinderhart staan nie apart van ons grootmenshart nie. Dis een verweefde hart. Wat eintlik sommer net beteken, die dinge wat ons as kids nie lekker verwerk het nie, die dingetjies waarmee ons gestruggle het, dra ons rond as ‘n stukkie verwondheid as deel van ons grootmens hart. Dis nou dieselfde grootmenshart wat veronderstel is om al die wysheid in pag te hê, al die antwoorde te hê op die moeilike struikelblokke van die lewe.

Niemand word groot met ‘n heel hart nie, daar is altyd verhoudings, goete en dinge wat in die slag bly, want onthou nou weer: ons is nog nie in die hemel nie.

Hoor net gou-gou mooi vriendin, hierdie stukkie gaan nie oor ouerskap, en die feit dat jy soms jou kids verwond nie… of jy ‘n goeie ouer is of nie. Hierdie stukkie gaan oor die anderkant van die muntstuk. Jy, wat jou klein dogtertjie verwondheid in jou hart saamdra.

Het jy al vir jouself al afgevra hoekom jy op ‘n sekere manier dink/optree? Bv. Jy hou nie van konflik nie, jy veg nooit nie jy vlug altyd. Daar is dalk ‘n gedeelte van jou hart wat verwerping ken… en jou grootmenshart ‘voel’ nie noodwendig die verwerping nie, maar ai die dogtertjie met die verwerpte hartjie… sy wil net wegkom.

Of as tiener het jy die grootste moontlike selfbeeld krisis gehad, miskien is dit iets wat iemand onwetend gesê het, of jy is gespot… Nou as grootmens doen jy eintlik heel okay. Jou selfbeeld is beter maar nie wonderlik nie, jy hou so bietjie van jouself, maar lief… net nog nie daar nie.

Baie kere neem ons besluite, verkeerde besluite want die dogtertjie in ons wil net tog groot asseblief gehoor word, want weet jy wat vriendin, sy verdien om gehoor te word, sy verdien ook om genesing te ervaar… en dis moontlik. Abba kan haar hartjie genees, maar die groot jy sal moet instem dat die klein jy ook werd is om genesing te ervaar.

Ons klou soms verbete vas aan die goed in ons kinderjare wat ons seer gemaak het, pleks van dit daar los, oor dit kom, vertroetel ons dit soos ‘n baba hasie. Ons praat aanmekaar daaroor, gee skuld, verskuif die blaam, ons besef nie dat ons onvermoë om te vergewe en aan te beweeg, stukkie vir stukkie ons grootmens hart ook breek nie. Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. (Jes. 43:18) Goeie raad!

So, wat nou gedoen? Dra ons hierdie verwonde dogtertjie vir die res van ons lewe saam met ons, met haar bagasie en al, of help ons haar genees?

Hoor bietjie wat sê die Woord: Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige. (Sag. 4:6) Oorhandig hierdie dogtertjie met die seer hart aan Hom, sodat Hy jou innerlik kan genees. Blywend kan genees. Handig die gebreekte stukkies van haar hartjie oor. Vertrou volkome op Hom! (Spr. 3:5)

Vra vir Heilige Gees om vir jou die kinderlike verwondheid in jou hart te wys, waar die eina’s is en die pleisters kort, en Hy is getrou. Hy sal jou ook nie meer wys as wat jy kan hanteer nie, Hy sal saam met jou die pad van genesing stap. Jesus, U kom ontmoet ons altyd halfpad… U is so getrou en goed en waardig.

My ellende het nie ongemerk by U verbygegaan nie, U het op my trane gelet. In U boek staan hulle opgeteken. (Ps. 56:9) Maak Ú my gesond, Here, dan sal ek gesond wees! Bevry Ú my, dan sal ek vry wees! Dit is vir U wat ek wil loof. (Jer. 17:14)

Jehovah Rapha, die God wat genees, fluister vanoggend vir jou: “My hand ondersteun jou. (Ps. 63:9) Ek maak die stormwind stil, en die golwe van die see bedaar. (Ps. 107:29) Deur Mý wonde het daar vir jou genesing gekom. (Jes. 53:5) Die lig sal vir jou deurbreek soos die rooidag, jy sal gou herstel. Ek wat jou red, sal voor jou uit gaan, My mag sal agter jou aankom. Dan sal jy roep en Ek sal antwoord. “Hier is Ek!” (Jes. 58: 8-9) Kind, Ek is naby wanneer jy gebroke is, Ek help jou wanneer jy moedeloos voel. (Ps. 34:19) Ek genees jou gebreekte hartjie en verbind jou wonde. (Ps. 147:3)

6 Replies to “Die Dogtertjie met die Wit Rokkie.”

  1. Dankie Martha mag die Here u ryklik seen.. Vir die seer en dogtertjie in ons verlede wat ons kan vrede maak.. Die Here gebruik u op n bonatuurlike manier. Liefde vrede en Seen

  2. So gaan mens deur die lysie en jy soek tussen die preke. Hierdie is n wonderlike blog en hy word gesave. As mens so soek en jy wonder waarna jy eintlik soek kan mens net aanhou bid en hoop jy kry waarna jou siel soek. Jy weet jou hart behoort aan Jesus maar erens kort iets. Bid asb vir n soekende siel saam met my.

    1. Sjoe, ek hoor jou hart, ek bid vir jou soekende siel.

      Ek soek U, o God, my God,
      ek dors na U; ek smag na U
      soos ‘n dor en droe land…
      U troue liefde is meer werd as die lewe
      daarom sal ek U prys.
      Ek bly altyd naby U,
      u hand ondersteun my.

      Psalm 63

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *