Soos die Ingelsman sê: “Bear with me!” Toe ek die woorde hoor: “Jy is nie waardig nie!” het ek myself eers asvaal geskrik en toe my ore gespits, dalk moet jy dit ook vanoggend hoor. God moes ‘n skoon bladsy voor my neus kom inskuif, want sien Hy moes dit vir my van vooraf kom verduidelik het… na al die jare se hoor en weer hoor, kan ek dit nou vir die eerste keer op my hart skryf en dit boonop glo.
God’s righteousness made visible through the faithfulness of Jesus Christ. And now all who believe in him receive that gift. For there is really no difference between us, for we all have sinned and are in need of the glory of God. (Romans 3:23 TPT) Hierdie was die uitveër wat die bladsy voor my oge spierwit kom uitvee het. Ek ken die versie goed, ek hou tot daarvan om die versie aan te haal, maar vir die eerste keer het die vers lewend geword. All in need…
Op ons eie sal ons nooit waardig wees nie, nie jy nie, en nog minder ek. Al is jy ook Moeder Teresa vir die mense om jou, doen jy alles min of meer reg, gits al werk jy voltyds in bediening… Jy is nie waardig nie.
My en jou waardigheid lê 100% in wie ons is… in Hom. Nog beter gestel, jou waardigheid lê in Hom, in jou. God binne my. So wanneer ons sê: “Ek is NIKS sonder Hom nie.” Dan is dit letterlik die waarheid… En nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat Sy liefde vir my bewys het deur Sy lewe vir my af te lê. (Gal. 2:20)
Niks wat ek en jy ooit kan doen, sê of gee sal ons kan waardiger maak vir Hom nie. Waardig genoeg maak vir Hom nie, want so hard soos ons probeer sal daar altyd foutjies en voutjies in ons karakter wees wat ons nooit volkome uitgestryk sal kan kry nie.
Sal ons nog altyd iets sê wat eerder ongesê moes gebly het. Woorde wat soos wapens en knopkieries by ons monde uitmarsjeer wat hoegenaamd niks van ons ‘waardigheid’ reflekteer nie.
Sal ons steeds goed doen wat nie die goedkeuring van ons Hemelse Pa dra nie. Baie van hierdie minder perfekte foutjies en voutjies aan ons sal ook bly tot ons die dag onse ogies toemaak.
Hier is die ding; sodra ons by ‘n plek kom waar ek en jy dink: Ek is waardig, ek is genoeg, ek is geliefd, ek is uitverkies… Wanneer ons in ‘n seisoen is waar ons lekker naby aan God se hart leef, waar ons Sy stem duidelik hoor, ‘n seisoen waar ons gebede nie in plafonne vasslaan nie, dan is dit maklik om nie te sukkel met waardigheid nie.
Net die volgende seisoen is dalk ‘n woestyn-seisoen of ek vang iets dom-onnosel aan, skree op die kids, sê iets afgrysliks… dan val al hierdie mooi ‘ek is…’ gedagtes deur die mat, tot onder in die put van… ‘Ek is nie goed genoeg nie’. Dan weet ons met sekerheid ons waardigheid is aan die eie-ek gekoppel, nie aan God nie.
Vriendin ons waardigheid lê nie onsself nie. Dit is wat God op my skoon, nuwe bladsy moes kom skryf: Jou waardigheid, my liefste, struikelende dogter, lê in My, in jou…
Hoor jy dit vriendin!? God is altyd dieselfde, ook God in jou is altyd dieselfde… Gister, vandag, môre… tot in ewigheid. (Heb. 13:8) Jou waardigheid is nie gekoppel aan jou nie, maar aan Hom. Jy is waardig want Hy in jou is waardig.
Jesus is perfek, volmaak… me and you… not so much. God se liefde, lankmoedigheid, genade, goederentierenheid… die essensie van Hom maak my en jou waardig. Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Chrsitus, deur God vrygespreek kan wees. (2 Kor. 5:21) Vrygespreek en waardig.
So vriendin as jy vandag vir my sê dat jy so bitterlik onwaardig voel, want jy doen nog nie die regte goed nie, jy probeer… regtig jy probeer… ek dink sommer nou aan die woorde van Paulus in Romeine 7:15; Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek… klink oorbekend. Vriendin, dis okay, want gelukkig tog, dankie tog, lê jou waardigheid nie in jou nie.
Onthou, Jesus het vir jou waardigheid op die kruis gaan koop. Jou waardigheid is nie verniet nie, dit het Hom duur gekos, dit het Hom alles gekos, want dié EEN wat in jou is, is waardig. Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het. (Openb. 4:11)
Nou mag jy nooit weer twyfel nie, liewe vriendin, Jou waardigheid is gekoppel aan genade. So is jy waardig? Jy is waaragtig waardig.
But know thus says the Lord who created you… He who formed you… Fear not for I have redeemed you; I have called you by your name; You are Mine. For I am the Lord your God, The Holy One of Israel, your Savior. Since you are precious in My sight, you have been honored, and I love you… (Isaiah 43)
Sjoe ek het dit nog nooit so beleef nie.. Dat ek nie Waardig is nie.. En dat my waardigheid gekoppel is aan Genade.. Dankie Jesus dat U my uitgekies het..