‘n Bestuursles.

(Opgedra aan al die ma’s en pa’s met leerlingbestuurders in die huis.)

Ousus het so wyle terug haar leerlinglisensie gekry… sjoe… om kids te leer bestuur is nie vir sissies nie, dit vat senuwees van staal en baie gebed nê… vir geduld en veiligheid.

Die eerste keer wat ek moes uitklim en in die verkeerde kant moes inklim het ek en my persoonlikheid dit byna nie oorleef nie, ek is ‘n bietjie van ‘n beheer-vraat so dit som nou die situasie heel netjies op.

Ousus het besluit ek moet haar leer, Pappa se stem het te veel testosteroon in, en ek klink glo soos die tannie op die GPS. Dis nou rustig… Nietemin, net vir die oningeligtes… die groot rooi L op die agterruit staan vir Leerlingbestuurder, nie Loser nie.

Mense kan ongelooflik ongeduldig en ongeskik wees… Hulle lê op hulle toeters… kan jy nou net dink aan die senuwees in die beknopte spasie van ‘n motor… nee, dit help nie. Of daar is ‘n paar wat hulself eenvoudig nie kan help nie, wat verby ons jaag met ‘n stink spoed… wat nog groot ongelukke gaan veroorsaak! Dan is daar diegene wat vir ons allerhande tekens wys. Dit help nie ouens, nie ek of ousus verstaan gebaretaal nie.

Nietemin. Dis iets om te aanskou en te hoor… dit klink bietjie soos volg. Oor 200m gaan ons die kant toe draai (dis nou links want ousus is nie groot op rigting nie, regs het daai kant geword) sit die flikker aan, haal solank jou voet van die brandstof pedaal af, begin stadig rem trap. Stop nou heeltemal. Eerste rat. Kyk. Los die koppelaar, trap die petrol… nee net bietjie, en daar trek ons weg.

Naby ons huis is ‘n groot kruising met ‘n klomp-fases… ek weet nie eers hoeveel nie… daar vrek ousus die motor hier semi in die middel van die kruising. Onmiddellik skiet die ogies vol trane. Haai weet jy! Kan jy onthou hoe stresvol dit was om te leer bestuur? Nietemin. Ek sit die ‘hazards’ aan. Ek vat aan haar been en sê: “Haal asem poppie, dis okay. Die mense kan maar om ons ry… kom ons probeer weer…”

Met die veilige stop by die huis fluister Abba vir my: “Sien jy my kosbare kind, soos jy met liefde en geduld jou eie kind leer bestuur, so sit ek langs jou wanneer jy die pad van die lewe navigeer.”

Vriendin, jy is nooit ooit alleen nie, onthou die menslike hart is bedrieglik… ons kan so maklik sê: ek voel of God my nie hoor nie, ek voel of God skoon van my vergeet het. Wat jy voel maak dit nie ‘n waarheid nie. Om die waarheid te sê- dis net mooi die teenoorgstelde. Natuurlik sien God jou, Natuurlik hoor Hy elke woord van jou smeekgebed.

Wanneer ‘n situasie gevaarlik raak is dit Hy wat die ‘hazards’ aansit, wat vir jou hemelse vrede gee wanneer jou hart te vinnig klop en jy die angs deur jou porieë voel sypel. Hy gee jou krag wanneer jou lewenskarretjie se naald begin wys jou tenkie is ‘full of emptiness’. Hy gee jou nuwe krag. (Ps. 23:3)

Jy moet ietsie weet van hierdie God van ons… Hy gaan nie al die rooi ligte op jou pad groen maak nie, Hy kan, maar vir jou eie beswil gaan Hy dit nie doen nie. Stop strate is soms nodig, dat ons net ‘n kansie het om weer ‘n slag diep asem te haal…

Hy gee rigting, Hy lei my op die regte paaie tot die eer van Sy Naam, (Ps. 23:3) daar is oral rigtingborde op jou lewenspad, maar Hy gaan jou nie in ‘n rigting inforseer nie, die deeltjie van ons lewens noem mens- vrye wil. Soms in ons vasberadenheid om iewers te kom, ignoreer ons die stop strate en padtekens… soms raak die waarskuwende stem, van Hom wat binne my en jou is, verlore in die geroesmoes van die lewe.

Vriendin, maar dis nie asof Hy net uit jou lewenskarretjie gaan uitspring nie, wanneer jy die tekens ignoreer, is Hy steeds daar. Hy is nie ‘n As-jy-nie-wil-hoor-nie-sal-jy-voel God nie. Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U IS BY MY. In U hande is ek veilig. (Ps. 23:4)

Vriendin, ek en jy moet nie van die padreëls vergeet nie. Die padreëls is mooi uiteengesit in Sy Woord. Daar is veiligheid in die padreëls. Dis nie om jou “lekkerte” minder te maak nie, maar dit hou jou juis veilig.

Onverwagse dinge kan gebeur op hierdie lewensreis… onverwags vir my en jou, maar nie onverwags vir Hom nie. Hy sal by my en jou wees tot die voleinding van die wêreld. Atyd…

Moet tog nie jou veiligheidsgordel vergeet nie. Maak seker dis vas. Jou veiligheidsgordel is die bloed van die Een wat langs jou sit. Jou geloof in Hom sal jou stewig vashou op hierdie lewensreis.

Ek dink nogals soms benoud, wanneer ousus eers haar volwaardige Bestuurslisensie kry dan gaan sy my nie meer nodig hê in my kapasiteit as GPS tannie nie, dan gaan sy op haar eie ry waar sy wil wees. My swakke hart! Ek is wel bly om te rapporteer met God is daar gun niks so ding soos ‘n bestuurslisensies nie, net leerlinglisensies. So haal asem vriendin, lekker bestuur met God aan jou sy en aan jou kant!

One Reply to “‘n Bestuursles.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *