My man moes bietjie Duitsland toe gaan vir werk. Vir ‘n hele 6 slapies… dis te lank vir my… so tussen die pak en regkry en laaaang afskeid neem sê ek, ek voel so halfies as jy weg is. Hy vra: “Hoekom is jy half vies?” ‘n Vassit kan darem lekker maklik gebeur as mens nie oop kommunikasie kanale het nie…Nietemin, net ‘n observasie… so terug na die halfies…
So asof die helfte van my nou kan oorsee rondrits terwyl die ander helfte van my geduldig by die huis bly… waar die ander helfte van my hart is weet ek nie, maar as hy weg is ek eintlik maar net halfies. Ek dink dis goed, want is ons nie een nie? En as hy halfpad om die aarde is, is ek mos net halfies.
Weet jy wat was die volgende gedagte… my hart is eintlik in hemelse plekke heel en vol, want ek het Hom altyd by my, naby My hart, in my hart. Want sonder Hom sou ek vergaan sou ek in sirkels rondloop en lekker verdwaal. God is my sterkte en my porsie vir ewig…
Vriendin, miskien voel jou hart vandag halfies, bietjie gebreek, nie so heeltemal heel nie. Miskien voel jy amper so bietjie asof Vader van jou vergeet het… die bekommernisse van die wêreld net te veel vir jou skouertjies, die lewe se klappe en onregverdigheid wat jou telkemale onderste bo pluk en jou wind uitskop.
Miskien staan jy op die oomblik voor Abba met ‘n betraande gesig. Jy weet nie wat jy soek nie, maar jy kort iets van Hom om net weer so bietjie heel te voel, weer so bietjie soos jouself te voel. Genoeg moed om net vandag deur te sien…
Staan ‘n bietjie, word ‘n bietjie stil en voel hoe Vader se liefde, guns en goedheid oor jou vloei. Staan onder Sy Waterval van genade en liefde. Kom skoon. Word verfris. His gift of love and favor now cascades over us, all because Jesus, the Anointed One, has liberated us from the guilt, punishment, and power of sin! (Rom. 3:24 TPT)
Jy kan heel voel, And our own completeness is now found in Him. We are completely filled with God (Col. 2:9 TPT) Ons sal nooit heel voel as ons nie ophou om ons heelheid op verkeerde plekke te soek nie… geen wêreldse oplossing sal jou kan heelmaak nie… dis altyd net ‘n tydelike, vinnige beter voel, tot môre wanneer ons agterkom niks het verander nie.
Vriendin, ons probleem is baie keer die eie-ek wat bly wil beter weet. Wat sal self. Wat nog nie lekker begryp dat ons 100% afhanklik is van God. Ons leef deur Hom vir Hom. Soms raak ons krag op en ons is moeg en moedeloos, want ons het ons kragte op die heel verkeerde maniere probeer aanvul. Jy kort krag van Bo. Goddelike krag, nie koskrag, of ‘shopping sprees’, of nuwe meubels nie… die groot gat wat jy voel is ‘n Jesus-gat en raai wat… jip die enigste een wat ooit daai gat kan vul is… JESUS.
Ek en jy moet leer om te luister, te hoor, te gehoorsaam… So sê die Here, jou Verlosser, die Heilige van Israel: “Ek is die Here jou God wat jou onderrig tot jou beswil, wat jou lei op die pad waarop jy MOET gaan.” (Jes. 48:17) Ek weet nie, miskien is die leegte in my en jou hart en siel die feit dat ons die rigtingborde gemis het en op die verkeerde pad beland het. Nie die pad na die hel nie, maar nie die pad wat God beplan het nie.
God stel nie net belang in ons harte, die ‘geestelike deel’ van ons nie. Hy het ons in ons totalitiet, in Sy wysheid, liggaam, siel en gees geskape. Die dele staan nie apart van mekaar nie. Hy gee om vir elke deel van jou… en Hy wil jou heelmaak in alle aspekte en op alle vlakke van jou bestaan… Mag God julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer Jesus weer kom. (1 Thes. 5:23-24)
Soms dink ons Jesus sal onmoontlik nie al my emosies verstaan nie. Hy is daar, ek is hier, hier waar die tekkie die teer tref… vriendin was Hy nie 100% mens nie? Was Hy nie oorweldig, kwaad, hartseer met tye nie? Hy verstaan baie beter as wat ek en jy ooit sal weet of verstaan.
Deur Sy wonde is julle genees. (1 Pet. 2:24) Dit is volbring… dit het reeds gebeur. Genesing en heelheid is jou porsie, as jy dit wil. As dit is wat jou hart se begeerte is. Vra vir Vader om die gat in jou hart te vul, vra Hom om jou hart stukkie vir stukkie te genees en heel te maak. Dis ‘n proses, nie ’n ‘quick fix’ nie. Deel van heelword is verfignis… vir self en vir ander.
As jy nie weet hoe of waar om te begin om weer heel te kom nie… Johannes 14:1 het die antwoord. “Jy moet nie ontsteld wees nie. Glo in God, glo ook in My.” Vriendin en soms skiet ons geloof te kort, ek self vra gedurig vir nog meer geloof… en Hy is getrou, as dit die begeerte van jou gebroke hart is, is dit presies wat Hy vir jou sal gee. In brandoffers het U geen behae nie. Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie! (Ps. 51:19 1953) Jy hoor, geen veroordeling nie… net liefde.
Ek vermoed die kant van die hemel sal ons nooit werklik heeltemal volkome heel voel nie, daar sal tye wees wat ons heler voel. Soms stukkender… maar sjoe wat ‘n troos… Die Here is NABY die gebrokenes, Hy help die moedeloses (Ps. 34:19) Sy liefde vir ons is alomvattend, dis ‘n liefde wat alles bedek, alles glo, alles hoop en alles verdra. (1 Kor. 13:7)
Vriendin, God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” (Heb. 13:5) Vertrou Hom! Wat het jy om te verloor? Niks, wat het jy om te wen… ‘n hart wat nie meer halfies voel meeste van die tyd nie, maar ‘n vol, heel hart.
Awesome stukkie bemoediging. Ek love dit:-)
Mag jou hart ook propvol en heel wees in hemelse plekke.🌹