Goed Genoeg? Goed Genoeg.

Vraag of stelling? Sommige dae is dit vir my ‘n stelling, maar ek vermoed die meeste dae meer ‘n vraag, maar weet jy wat my liewe vriendin ons moet daarnatoe werk dat dit maar eerder altyd ‘n stelling is en nooit meer ‘n vraag nie. Dat ons onsselwers sal vind, sal weet wie ons is. Dat ons wie ons is minder sal bevraagteken en weet dat ons weet … deur die genade van God is ek wat ek is… (1 Kor. 15:10)

Teen wie of wat meet jy jouself… want sien dis hier waar al ons probleme begin. Ons vra: “So wêreld, wat dink jy van my? Hou jy nog van my? Vriendin, die reine waarheid is, iemand sal altyd maar altyd mooier, maerder, langer, meer agtermekaar, ‘n beter ma, ‘n beter vrou, meer suksesvol wees as ek of jy.

Waaraan meet jy sukses? Is dit hoe ver jy teen die korporatiewe leer kan op in ‘n manswêreld? Is ek ‘n goeie vrou? ‘n Goeie ma? Ons wil ook soos die Ingelse vra: “Do I measure up? Al wat ons werklik smag om te hoor is: “Jy is goed genoeg!”

Hoe voel jy oor jouself? Is jy lief vir jouself, laaik jy jouself darem so klein bietjie of kan jy die persoon wat terugstaar in die spieël nie regtig in die oë kyk nie? Die vyand kan nie verdra dat jy dalk sal agterkom wie jy werklik is nie, waar op dees aarde gaan hy dán van jou kan steel? Watter wapens kan hy dan verder teen jou inspan om jou te vernietig?

Jy weet, die Woord van God het soms die mooiste beskrywings en bewoording… ons lees dit, ons glo dit, maar dis nie met ons wat God praat nie… Lees bv Sefanja 3:17,

Ek, die Here JOU God, is by jóú, Ek, die Krygsman wat red, Is vol vreugde oor jóú, Ek is stil-tevrede in My liefde vir jóú, Ek jubel en juig oor jóú. 

Vriendin, dis wat die God van die hemel en aarde oor jou sing en sê, ‘n liefdesverklaring…Ek daag jou uit, vra jy bietjie vir Vader om vir jou te vertel wat Hy van jou dink, vra Hom om Sy hart vir jou te openbaar. En vriendin as jy steeds so bitterlik ‘unworthy’ voel dan wil ek vir jou sê dis nie ‘n jy-ding nie, dis ‘n ons-ding. –for we all have sinned and are in need of the glory of God. (Rom. 3:23) Ons almal het God Almagtig nodig om die stukkies van ons hart wat kort te heel.

God het jou gemaak, wie en wat jy is, meesterlik in die skoot van jou moeder het Hy jou geweef. (Ps. 139) Voordat God jou in die moederskoot gevorm het, het Hy jou geken… (Jer. 1:5) Verstaan jy vriendin? Jy is deur God, volgens God se spesifikasies, vir God geskape en daarom is jy so besonders, is jy so vreeslik kosbaar in Sy oë. God maak nie gemors nie… nooit nie… “Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer? Hoe kan die maaksel vir sy Maker sê: “Waarom het jy my so gemaak?” (Rom. 9:20)

En regtig, ek en jy moet ‘pretty special’ wees as God bereid was om Sy enigste Seun aarde toe te stuur om in my en jou plek te kom sterf aan ‘n growwe houtkruis… dink jy nie so nie? God het Sy Seun geoffer, sonder om ‘n oog te knip, omdat Hy so bitterlik lief is vir jou en my…

Luister, ek weet nie nie hoe lank is jou lysie van die goedjies wat jy al aangevang en verkeerd gedoen het in jou lewe nie, ek ken net my eie lysie, maar ongeag jou lysie, wil ek jou verseker daar is absoluut niks wat jou kan skei van die liefde van God nie. Niks kan Hom meer of minder lief maak vir jou nie.

Hiervan is ek oortuig; geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here. (Rom. 8:38)

God se vergifnis en Jesus se bloed sal jou oortrek en bedek… en as jy dit net wil glo sal dit jou vry maak… Ek weet nie dalk voel jy selfs vandag so bietjie soos die verlore seun, verdwaal, verlore, ver van God se hart… Ons dien ‘n regverdige God wat U draaie toelaat, weer beginne en oor beginne toelaat.

God se liefde vir jou is so mooi, weet jy dat dit ‘n ten spyte van liefde is, nie ‘n voorwaardelike liefde nie? Jesus se bloed was ons silwerskoon- ek en jy kan maar net vra- maar dan moet ons ‘n daadwerklike poging aanwend om nader aan Vader se hart te leef, dat ons na Jesus se hand en soom sal gryp en nie weer laat gaan nie, dat ons sensitief sal raak vir Heilige Gees se raad, ons moet leer om God se stem te hoor deur die rumoer en besig wees van die lewe.

Moenie dat kopkennis en self redenasies maak dat jy jouself oortuig dat jy onwaardig is, nooit goed genoeg sal wees vir God se liefde nie-

Maria Magdalena was ‘n prostituut, Petrus het ‘n plofbare humeur gehad, Dawid het ‘n buite egtelike verhouding gehad, Moses het gehakkel, Mirriam het geskinder, Martha was altyd bekommerd oor alles en almal, Sara was ongeduldig, Noag was ‘n dronkaard…Gideon was onseker van homself…

Perfek? Beslis nie… geliefd en uitgekies deur God… beslis.

Niemand kwalifiseer vir God se goedheid en guns nie… is mos maar weereens net genade. Goed genoeg? Jip, defnitief, beslis goed genoeg.

Liewe dogter,

Ek het jou nog altyd liefgehad… (Jer. 31:3) Ek het jou uitverkies… (Joh. 15:16) Jy is afgesonder vir My. (1 Pet. 2:9) Ek ken jou. Met al jou paaie is Ek goed bekend. (Ps. 139:1,3)

Liefste kind na aan My hart, deur My lewe jy, beweeg jy, bestaan jy. (Hand. 17:28) Ek het JOU op ‘n wonderbaarlike wyse geskape. (Ps. 139:14) Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van My. (Jak. 1:17)

Jy is My eiendom, jy behoort vir altyd aan My. (Eks. 19:5) Jy, liefste kind, is duur gekoop, en die prys is betaal. (1 Kor. 6:20)

Ek wil jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie. (Jer. 33:3) Kom soek en vind jou vreugde in My… en Ek sal jou gee wat jou hart begeer. (Ps. 37:4)

Vir Altyd.

Jou Liefdevolle Vader.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *