Die Rolle van ‘n Pa.

(Die inspirasie en inhoud van die blog gee ek krediet aan my twee girls, ek het ‘n klomp verjaarsdag briefies gelees wat hulle aan hulle held, hulle pappa geskryf het. Dankie girls…)

Daar is geen kitsresep om ‘n goeie pa en later ‘n oupa te wees nie- hoe ‘n mens dit doen, is ‘n misterie. Daar is geen lys van deugde vir pa’s nie -net geloof. Daar is geen hoop op perfeksie nie – net genade. Al leidraad tot sukses wat pa’s gegee word, is dat dit iets te doen het met ‘n gelukkige gesinslewe, met die doodgewone dingetjies van elke dag – omdat juis dáárin skielik, elke oomblik, iets van die glorie en genade van God kan skitter. (Piet Naude)

‘n Pa glo in sy kind, onwrikbaar, sonder ‘n twyfel in sy hart, om die waarheid te sê, hierdie glo is só sterk dat ‘n kind in homself begin glo.

Hy is ‘n probleemoplosser van formaat. ‘n Pa leer sy kinders van probleme oplos- nie namens nie, maar hy rus hul toe met die nodige kennis en raad om ‘n probleem die hoof te bied.

‘n Pa sukkel maar om sy kinders uit sy beursie te kry en te hou, hy is nie net ‘n kitsbank nie, maar ook elke kind se heel eerste werkgewer. Hy leer jou om oordeelkundig met jou min geld oor die weg te kom.

‘n Dogtertjie oefen graag haar sjarme op haar pappa, met fladder ogies en skalkse glimlaggies draai sy hierdie pappa onwetend om haar kleine, fyne pinkie. Dis ‘n pappa se werk om vir sy dogter selfrespek te leer, daar is min goed wat ‘n meisiekind se hart en gesiggie so laat blom soos ‘n pappa wat sê: “Jy lyk pragtig!”

Die beradingsvermoë van ‘n pa is soms beperk omdat hy eerder graag net die probleem wil oplos. Dis dieselfde pa wat trane afdroog en versigtige drukkies gee, wat met gekleurde woorde allerhande beloftes maak of wil reg foeter as daar mannetjies betrokke is wat sy dogter se hart in stukkies gebreek het.

Daar is sonlig in ‘n Pa se regmaak drukkie, dis sy wyse raad en bystand wat al menigte tiener deur die donkerste van tye gehelp het. ‘n Pa bly ‘n dogter se held en die voorbeeld waarvolgens sy seun sy lewe inrig en leef.

Pa’s het lewensondervinding… maar wysheid tap hulle druppel vir druppel uit die hemel uit. Hulle wonder ‘n bietjie, dink ‘n bietjie diep en wag eers vir wysheid voor hulle moeilike lewensvrae beantwoord en onmoontlike situasies benader.

‘n Pa moet bietjie kwaai van die buitekant af lyk- dis sy werk, want hoe gaan hy al die mannetjies van sy drumpel af hou? Maar binne… binne is hy nederig, vriendelik en sy omgee hart klop warm in sy binneste.

Staatmaker, dis wat die woord Pappa beteken…. Hy is iemand wat jy op kan staatmaak, wanneer ‘n benoude stemmetjie fluister: “Pappa, help!” Dan is die rustige antwoord altyd: “Ek is nou daar, moenie bekommer nie, pappa sal dit uitsort!”

Jy moet verstaan, ‘n pa se skouers is nie verniet so breed nie. Dit is nie net die vervoermiddel van klein seuntjies en dogtertjies nie, dit help probleme dra, laste verlig en ‘n pa se skouer kan menigte trane absorbeer en keer.

‘n Seun leer van onafhanklik wees van sy Pa, van weer en weer probeer tot jy dit regkry, van manwees, van jou man te kan staan. Van trots wees, van selfrespek, respek vir ander.

Wyse pa’s weet hul waarde lê nie in die dinge wat hulle vir hulle kinders doen nie, maar in wat hulle hulle kinders leer om self te doen. (Billy Graham)

Daar is ‘n paar belangrike lewenslesse wat net ‘n Pa vir sy kinders kan leer:

  1. Jy is nie belangriker as enige iemand anders nie.
  2. Doen aan ander wat jy wil hê hulle moet aan jou doen.
  3. ‘n Nederige hart is ‘n mooi hart.
  4. Lei deur jou voorbeeld, nie deur jou woorde nie.

‘n Pa is ‘n pilaar waarop die gesinseenheid steun, wat sy vrou ondersteun, haar arms in die lug hou, wat kinders al smekend groot bid. So ‘n Pa is die hoof van sy gesin, hy vat die verantwoordelikheid. Hierdie hoof van die huis is nie ‘n mensgemaakte idee wat deur slim mense uitgedink is nie, nee dis ‘n Pa se posbeskrywing. ‘n Werk wat God self aan hom gegee het as Priester, Profeet en Koning van sy huis.

Pa’s is nie so alwetend en sterk as wat hul soms voorgee nie, Pa’s raak soms moeg. Pa’s het ook batterye wat soms afloop en pap raak, maar die voordeel van Pa wees is dat hulle die beste voorbeeld het in hul Pa in die hemel. Hy wat hulle krag is, wat hul skuilplek is teen die storm, wat genade en eer in oorvloed aan hulle uitdeel. Pa’s is deur God geskape vir God, na Sy beeld het Hy hulle geskape… Pa’s is ‘n klein stukkie van Vader God wat hier op die aarde rondloop.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *