Toe die girls klein was het dit altyd gelyk of ons vir die naweek weg gaan en eintlik was ons net op pad Pick ’n Pay toe om inkopies te doen. Dis die dae wat uiteet beteken jy sit eintlik alleen en eet terwyl jou beterhelte die baba aan die slaap probeer sus… As ons kerk toe gaan was dit ‘n gedoente, een in die kerk, een in die moederskamer.
Jannie het altyd gespot en gesê ek moet die een vat met die skerp kant. Dis nou die een wat moontlik kon huil, vuil doek ens kon hê! Kortliks, die een wat jou in die skande kon steek. Die dae van koue koffie, slaap beurte, koue weense worsies vir etes, bottels was, kots wat na perske yoghurt ruik van die vloere af mop, siek kindertjies wat beurte maak. Eintlik was jy meeste dae op ‘autopilot’ en het jy oormoeg in die aand in die bed ingeval… net om 5 minute later weer op te vlie vir een of ander skree of skeet.
So iewers tussen ‘n jaar en 18 maande dan begin die dinge lol. So min of meer saam met mens word, persoonlikheid kry ontdek hulle ‘n belangrike ding… hulle eie wil, en boetie dan begin die groot toets skryf van ma-wees… en nee moenie komkommer nie jy is nie die enigste een wat die eerste paar toetse summier gedop het nie.
Jy moet weet met ‘n vuil toontjie trek hulle ‘n streep in die stof en dan wag hulle om te kyk gaan jy dit waag om daaroor te trap of gaan jy liefs eerder die vrede bewaar. Hulle hoop natuurlik jy kies eerder die vrede-besigheid.
Gelukkig het ek en jy ook mos ‘n wil van ons eie, jy hoef nie die gehoorsame ouer te wees van ‘n ongehoorsame kleuter nie. Jy sal die keuse moet maak… om die hele tyd die vrede te wil bewaar en ja te sê werk nie. Jy sal moet standpunt inneem, anders gaan daai vuil-toontjie-kleuter met jou die vloere mop.
Hulle is darem so cute hier van 2 jaar af met hulle uitdagende, sal self, kan self, gaan self, ek sal jou wys houdinkie. Groot fout, dis net die eerste keertjie oulik, daarna steek hulle jou net in die skande in die middel van die lekker rak in die Spar. Jy mag dink hulle is cute, maar jy mag dit nooit ooit vir hulle wys nie… of sê nie.
Doerie tyd toe ek nog die besige ma van twee woelige kleuters was, was die ergste vir my dat daar nie nie ‘n wag voor hulle monde was nie, hulle is ‘brutally honest’ soos die Engelse sê. En hulle sal sinne begin met “My Mamma sê…” en dan krimp jy ineen want jy het dit gesê, maar nooit gedink hulle radar oortjies het dit gehoor wat nog van onthou en oordra ook nie. Goeie raad, van my aan jou, moet eerder niks sê nie, gits moet dit nie eers dink nie, want hulle sal jou uitsnuffel en al jou geheime uitlap.
Dis hierdie selfde kleuter wat in die ry by Pick ‘n Pay sal vra hoekom die oom, wat defnitief binne hoor-afstand is, lang hare het, ’n oorbel in het…vol prentjies geteken is, en dan al wat oorbly is jy wat met ‘n rooi gesig probeer omverskoning vra terwyl botter nie in jou engelagtige kleuter se mond kan smelt nie.
Die slim mense sê die eerste 7 vormings jare is by verre die belangrikste. Die feit is mens is so besig om te probeer oorleef dat jy gewoonlik eers hierdie feit iewers raaklees as hulle amper tieners is. Daai eerste klompie jare is kosbaar en moeilik alles in een en hier moet jy maar insit en nooit moed opgee nie. Aanhou, moedhou… nooit tou opgooi.
Daar is min dinge wat ‘n mens so bang maak as om ‘n kleuter groot te probeer kry, op ‘n stadium voel dit of hulle meer raas as kos kry… want ai die kos is ook altyd ‘n probleem. Die wat-ek-nie-van-hou-nie lysie ellelank, want ertjies en mielies word net nie geëet nie, mits ‘n Pa ‘n plan maak en al die ertjies en mielies in rye pak en opsuig… daar gaan die reël wat sê: Jy mag nie met jou kos speel nie. So gaan dit met kleingoed, jy maak vandag die reëls, net om môre die reëls te oordink, heroorweeg en weer te skryf… alles vir en ter wille van oorlewing.
Eendag op ‘n reëndag kom jy agter jy mis die tyd wat hulle klein was, afhanklik was van jou. Tye wat hulle sommer net op jou skoot kom klim het. Vuil armpies om die jou nek geslaan het, en taai lekkerstokkie soene op jou wang. Weet net een ding`… ‘this too shall pass’. Voor jy jou oë uitvee is jy besig om Universiteits aansoeke te voltooi… Jy sal hulle groot kry al voel dit beslis nie nou so nie. Dis harde werk, ondankbare werk. Moet nooit vergeet jy is die beste este mamma vir hulle. Hoekom? Want God het jou hand uitgesoek om hulle mamma te wees.
En hierdie kosbare klein mensies kyk op na jou met vertroue en liefde. Hulle hele wêreld begin en eindig met jou- hulle mamma. En al hou hulle jou op jou tone, met elke dag ‘n nuwe uitdaging, ‘n nuwe geit of gier, het hierdie klein mensie jou onvoorwaardelik lief, en al wat hulle regtig van jou nodig het is jou liefde en onverdeelde aandag.
Baie mooi 🌷
Kosbaar