Genade.

Hoe diep U genade my Here en my God, hoe sal ek en my menslike denke dit ooit kan verstaan of begryp? U genade is soos salf vir my siel, soos die bloed in my are, soos die lewensasem in my longe. ‘n Verband vir my gebroke menslike siel. Sonder U genade is ek niks. U wat gister en vandag dieselfde is, en tot in ewigheid. Dankie tog dat U nog altyd my hart deur  genade versterk het. (Heb. 13:8-9)

U genade was nog altyd vir my genoeg. U genade hou my aan die lewe, maar bowenal hou U genade my regop elke liewe dag. Here, as ek soms wonder oor genade, U genade, dan kan ek maar net terug hardloop na die kruis, kan ek net met afgryse staar na die genade-gate in U hande en voete. Loop genade onverdiend by die wond uit U sy uit. Want U het my naam in U handpalms gegraveer. (Jes. 49:16) Pynlik, bloederig is my naam in U Goddelike hande gegraveer.

Iewers langs die pad het ek die ruiltransaksie gemis, die ene waar U, U Koningskroon geruil het vir ‘n doringkroon en die doringkroon geruil het vir die genadekroon wat soms windskeef op my kop sit.  U genade vir my is eindeloos soos ‘n kroon sonder ‘n begin of ‘n einde.  U genadekroon is een van aansien en eer. (Ps. 8)

Met U laaste hortende asemhaling blaas U genade oor ons uit. Oor die mensdom, ieder en elk. U wat genade en waarheid na die aarde gebring het. (Joh. 1:17)

U genade strek tot die uiterste hoeke van die aarde en die wêreld, ai Here as ek tog maar net sal verstaan dat genade nie verniet is nie, dit het U duur gekos, dit het U lewe gekos. Here, as ek net sal begryp dat hierdie duur-reeds-betaalde-genade van U ook bedoel is vir moordenaars, verkeerd-doeners, nie altyd goeie mense nie.

Here, ons sit soms die pot heel mis, ons verloor die plot geheel en al, want ons menslike te min breins probeer U genade verstaan. Ons onverstaan, my misverstaan van genade maak soms dat ek kwaad raak en daar is soveel onbeantwoorde vrae. Maar regtig Here, U genade teenoor ander het regtig eintlik niks met my te doen nie. So dankie Here vir my stuk genade vandag. Dankie dat ons is wie ons is deur U genade… (1 Kor. 15:10) Hoe onbeskryflik groot is U genade teenoor ons…

U genade is te volmaak vir woorde, ek kan onmoontlik nie U genade probeer opsom in ‘n paar goed saamgevatte woorde nie… dit kan eenvoudig nie. Ek kan U genade nie eers begin verstaan of verduidelik nie. Maak my oë, hart en ore oop vir U onverdiende genade. Nie net vir my wat dink ek verdien dit dalk so bietjie meer as die ou langs my nie, maar vir almal.

Here, leer my om altyd maar altyd genade teenoor die mense om my te betoon, om dit mildelik uit te deel in moeilik-ongemaklike-seer situasies. Om genade te leef in die alledaagsheid van elke dag se bestaan. Here, as ek genade kon verdien, dan is dit mos nie meer genade nie? (Rom. 11:6)

U is wie U sê U is. Laat elke mens wat asem het en beweeg erken dat U goed is, en U onverklaarbare genade teenoor almal erken. Elke knie sal buig en elke tong sal erken: “U IS die Here. (Filip. 2:11)

Here waar ek vanoggend gekniel voor U kruis vertoef, erken ek rondborstig ek is waaragtig niks sonder U nie. U genade bedek my, omvou my soos ‘n wolkleed op ‘n yskoue karoo-wintersoggend. U genade is eindeloos ingevleg in my menswees en my DNA.  DNA wat U so kunstig verweef in die verborge plekke van die hemel.

Soms dwing U my tot stilstand vat my saggies aan die arm en fluister in my hart: “Ek het jou op jou naam geroep, jy is MYNE. (Jes. 43:1) Jy is geroep voor jou geboorte. In die proses van vorming, toe jy nog in jou moeder se liggaam was het Ek jou al op jou naam genoem… (Jes. 49:1)”

Jesus U bloed, God U genade… genoeg, genoeg, genoeg. (Ef.1:7) U genade is ‘n skuilplek, ‘n wegkruip plek… maar laat almal wat by U skuil, bly wees, laat hulle altyd jubel. U beskerm díe wat u Naam liefhet, en hulle juig oor U. (Ps. 5:12) U genade skreeu uit: “Ek het jóú lief!”

 

 

2 Replies to “Genade.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *