Net na skool is ek fort KOVSIES toe met ‘n plan. Ek sou 4 jaar leer, my graad verwerf en terug gaan huis toe. Eenvoudig. Wat kan nou moontlik fout gaan met so eenvoudige plan? Behalwe as God se plan vir my lewe effe anders daarna uitsien…
Varsity was nie so opwindend en lekker soos ek gedink het dit gaan wees nie! Ek was huis siek. Het na my ma en my tweeling sussie verlang. Dag en nag. So tussen die verlang stuur God vir my ‘n Ridder op ‘n witperd… en ampertjies herken ek hom glad nie en dit nadat ek nogals so ewe plegtig vir hom gebid het en my bestelling na Bo geplaas het.
Ek het hierdie Ridder op die wit perd ontmoet by ‘n sokkie in die Scholtzsaal, ek wonder nogals soms hoeveel romanse het begin en geeïndig in ‘n huwelik as gevolg van die Scholtzsaal? Nietemin, ek het Jannie ontmoet en myself voorgeneem teen my beterwete om nie verlief te raak nie.
Hy het sommer die eerste aand geweet wie ek is, my nie geken nie, maar my herken as die een met wie hy eendag gaan trou. Ja ek weet: dis woes romanties!
So probeer hy vir maande met min tot geen sukses by my kuier en weet jy wat was my ‘last famous words’? “Ek wil net vriende wees”, want sien hier in my agterkop het ek geweet as ek nou op hierdie mannetjie gaan staan en verlief raak is die koeël deur die kerk, en my plan val mooitjies in mekaar.
So probeer ek hom op ‘n afstand hou al hou ek meer van hom as wat my plan toe laat… die vakansie breek aan en Jannie gaan kuier bietjie in Namibië. Ek moet werk. Nogals nagdiens, so daar is baie dink tyd in die nag as jy stoei om wakker te bly en nog meer dink tyd deur die dag as jy hard probeer om te slaap as die son hoog skyn.
Ook nie lank nie, toe begin ek na die outjie verlang wat ek nie op verlief is nie, en in die daardie tyd is dit of Heilige Gees my saggies nader trek en my daarop wys dat hy eintlik die ene is waarvoor ek gebid het, en dis ook in dieselfde tyd wat ek besef ek is regtig nie op die mannetjie verlief nie, maar dat ek hom reeds lief het. So maak die liefde soms, dit bekruip jou van agter wanneer jy dit die minste verwag.
In my beterweterigheid en perfekte eie-ek planne het ek amper iets kosbaars verloor. Jannie het hom daardie middag voorgeneem om vir die laaste keer te kom kuier… Op ‘n warm Vrystaat middag kom kuier hy na ‘n te lang vakansie, ek vat so effentjies aan sy hand… Dis die begin van ons liefde vir altyd, ewig en drie dae. Het ek hom nog net so lief? Ek dink nie so nie. Ek het hom baie liewer as die dag daar langs die swembad. Liewer as lief.
Ek het amper die belangrikste bus gemis van my lewe omdat my plan vir my lewe ‘beter’ gelyk het as God se plan vir my lewe. Liewe vriendin in Jesus, dit het tyd geword om oor te gee aan God en stil te raak en te weet dat ons weet dat Hy alleenlik God is. Dat Sy plan vir jou en my lewe altyd die beste is. Hoekom? Want daar is niemand iemand wat jou liewer het as Hy wat jou gemaak het. Hy wil vir jou die beste hê: Sy beloftes in Sy woord staan vas tot in ewigheid en elke belofte is ook jou belofte.
Hoor vanoggend as Hy vir jou sê: Ek weet wat Ek vir jou beplan my liewe kind, voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir jou ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! (Jer. 29:11) Beteken dit dat alles met jou goed, lekker en reg gaan gaan? Nee, maar dat jy nooit alleen gaan wees in die storms van die lewe? BESLIS.
Miskien net miskien is ek en jy soos Ester gebore vir ‘n tyd soos hierdie. (Ester 4:14) Onthou altyd daar is ‘n plan vir jou lewe… ‘n goeie plan. Dalk voel jy vandag bietjie af, bietjie donker, bietjie ver van God. Jou gevoelens maak nie dat God se plan vir jou lewe soos mis voor die son verdwyn nie. Dit staan vas…
Ek en jy vergeet so vinnig, maar ons weet eintlik baie goed dat God alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet, die wat volgens sy besluit geroep is. (Rom. 8:28)
Jesus het na die aarde gekom sodat ek en jy die lewe kan hê in oorvloed. (Joh. 10:10) Hoe lyk ‘n oorvloedige lewe saam met Jesus? Baie geld en aansien, mooi klere en die beste meubels? Nee, my liefste vriendin, ‘n lewe in oorvloed beteken oorvloedige, onvoorwaardelike liefde en aanvaarding, oorvloed genade en getrouheid elke dag ‘n nuwe goeie dosis. Oorvloedige lewe beteken jou daaglikse porsie geloof, hoop en vrede. Rykdom in Jesus wat geen geld in die wêreld ooit sal kan koop nie.
Your future is bright and filled with a living hope that will never fade away. As you listen to me, my beloved child, you will grow in wisdom and your heart will be drawn into understanding, which will empower you to make right decisions. (Proverbs 23:18-19)
My favourite vers en so toepaslik vandag vir my.. Gaan dit ook met ander deel.. So mooi stukkie en ons albei gelukkig om ook gelukkig getroud te wees met ons maats vir jare.. Blessing van bo..
Die huwelik is ‘n reis,
nie ‘n bestemming nie.
Dit is ‘n maraton,
nie ‘n naelloop nie.
Dis ‘n lewenslange vereniging van twee onvolmaakte
mense wat mekaar liefhet.
(Claudia Arp)