For tremendous power is released through the passionate, heartfelt prayer of a godly believer. (James 5:16 TPT) At each and every sunrise you will hear my voice as I prepare my sacrifice of prayer to you. Every morning I lay out the pieces of my life on the altar and wait for your fire to fall upon my heart. (Ps. 5:3 TPT) Out of my deep anguish and pain I prayed, and God, you helped me as a father. You came to my rescue and broke open the way into a beautiful and broad place. (Ps. 118:5 TPT)
Vriendin, het jy al gehoor? En gits ek myself is skuldig! Wanneer dinge nie lekker gaan nie, wanneer die mat onder ons voete uitgepluk word en ons op die naat van ons rug val, wanneer die lewe ons so hard klap dat ons nie eens weet of ons kom en of ons gaan nie… dan sê ons so mooi en vroom en ons skud ons koppies meewarig en sê: “Al wat nou oorbly is om te bid…” Is jy ook skuldig?
Ek en jy maak asof bid ons laaste uitweg is, wanneer alle weë en oplossings moontlik ondersoek en uitgeput is… AL wat oorbly is om te bid… Jakobus 5:16 (1953) leer ons anders. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag. Gebed moet die nommer een wapen wees waarna ek en jy gryp wanneer dinge moeilik, ongemaklik en onmoontlik daarna uitsien.
Wanneer ons sielsongelukkig staan voor ‘n toe deur op ons lewenspad, uitgesluit, stoksielalleen dan moet ons bid: “Vader maak die deur oop as U wil of hou die deur toe as dit dan moet.” En soms wanneer die deur toe bly moet ons nie ons skouers dislokeer soos ons die deur probeer oop forseer nie. Soms moet ons eerder gedweë wegstap van ‘n toe deur af… as om my en jou wil op die God van die hemel en die aarde te probeer afforseer.
Soms staan jy verlate en alleen voor ‘n storm wat in en om jou woed. Wanneer ‘n soutbrander kom en jou fel, vol in die gesig tref. Wanneer niks meer sin maak nie, wanneer jy nie eers mooi weet waar is bo en waar is onder nie, waar is asem en waar is niks… Dan kan ons gebed maar net ‘n noodkreet wees: “Abba, help vir my!” Ag my liewe vriendin hoekom sal Hy jou nie help, jou nie red nie? Die arm van ons Here is nie te kort om te help nie en Sy oor is nie te doof om te hoor nie. (Jes. 59:1)
Wanneer daar min opsies oorbly, moed opgee of bid. Die Woord sê: Bid gedurig. (1 Tess. 5:17) Ek dink ons sien dit as ‘n voorstel. Nee my kosbare vriendin, dis nie ‘n voorstel nie, dis ‘n opdrag van ons Vader. Maar omdat bid nie ‘n ekstra-opsionele oefening is nie moet ons nooit vergeet dat ons met absolute vrymoedigheid na God kan gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens Sy wil vra. (1 Joh. 5:14)
Hê vrymoedigheid om na Vader te gaan met jou versoeke en versugtinge. Jy kan maar opdaag met jou japon en krullers in die hare. Met of sonder trane wat oor jou wange loop. Vader sal jou vat net soos jy daar by Hom aanklop.
Trane is ook gebede. Heilige Gees vang jou kosbare-moedeloos-seer trane op en vertaal dit in die hemele. Hy, die Gees van God, staan jou ook in jou swakheid by: wanneer jy nie weet wat en hoe jy behoort te bid nie, maar die Gees SELF pleit vir jou met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie. (Rom 8:26) Los maar die mooi, groot woorde vriendin, gesels-bid maar net met Hom sommer oor alles. Groot goed, klein goed, parkeerplek, bederf goed, wat om vir vanaand vir ete te maak.
Soms tik Vader so langs Homself en nooi jou uit, “Kom sit ‘n bietjie hier by My… Hoe was jou dag? Hoe lyk jou drome? Hoekom dra jy so swaar en alleen aan al die baie sorge en verdriette in jou hart? Vertrou jy My dan nie?” Jy kan regtig alles met Hom deel, Hy hou veral daarvan as jy jou hart met Hom deel. Jou God en jou Koning sal aan jou hulpgeroep aandag gee, die één tot wie jy bid sal hoor. (Ps. 5:3)
Vader hoor die gebed van ons harte:
Liewe Pappa wat in die hemel is, U naam is só groot en só heilig dit vul my mensehart met ontsag en bewing. Here, ek vra mooi vanoggend laat U koninkryk kom, Here laat U wil vir my lewe, U wil vir my lewe wees.
Besluit so in die hemel Pappa en laat dit dan so wees hier op aarde en in my hart. Here, gee my vandag wat ek nodig het vir die dag, U genade, genoeg krag, voorsien in my fisiese behoeftes Pappa, ek kyk na die mossie op my stoep, U sorg so mooi vir hom en sy gesinnetjie, hoeveel te meer sorg U vir my, U kind.
Pappa, vergewe asb vanoggend my sondigheid, my hardkopigheid en die eie-ek wat telkemale kop uitsteek. Help my om die wat lelik was met my, geskinder het van my, my te na gekom het, ook te vergewe.
Dankie dankie dankie dat ek weet dat U vandag geen versoekings oor my pad sal stuur wat ek nie met U krag in my sal kan oorwin nie. Hou alles wat boos is ver weg van my en die mense wat ek liefhet.
Pappa, aan U alleen behoort die koninkryk van elke ryk, aan U behoort die krag, die heerlikheid, die lieflikheid en my aanbidding tot in alle ewigheid. Amen.