Die ander dag, ook al ‘n rukkie terug, ry ons as gesin iewers heen. Ek kan nie onthou waaroor die gesprek gegaan het nie, maar Ousus sê hier van agter af baie driftig eintlik, sy kan nie wag om uit die huis uit te gaan nie. Dit gaan so lekker wees. Die probleem is met ‘n ma se hart ons luister, hoor en interpreteer absoluut met ons harte. Dis al wat ons hoor, en ek vererg myself so klein bietjie, ek is nie ‘n ou wat vinnig op my perdjie spring nie, maar ek voel so bietjie te na gekom.
Gelukkig is daar mos balans in enige situasie, Pappa is gewoonlik die balans want hy is die een wat analities dink, meer met sy brein en minder met sy emosies. So sê hy, ons is bitter bly dat jy uitsien om jou eie ding te doen, om jou eie pot te krap. Dit het my so bietjie laat dink, want is dit nie die waarheid nie, maak ons hulle nie juis groot om onafhanklik te funksioneer, om op hul eie voete te kan staan nie? Verantwoordelike jong volwassenes wat hul eie keuses kan maak?
Gister praat ek met ‘n vriendin en sy sê God stap juis hierdie jaar ‘n pad met haar, oor om haar kinders so stukkie vir stukkie te laat gaan. Sy sê toe ‘n baie waar ding… Ons kan nie die pad wat ons kinders moet loop voorberei nie, ons moet ons kinders voorberei vir die pad wat hulle gaan loop. Sjoe! Dis groot vriendin!
Ek dink dis mamma instink wat maak dat ek die besigheid partykeer verkeerd kry, wat maak dat ek so fokus op die pad en die voorbereiding van die pad. Ons wil namens hulle besluit. Luister nou maar vir mamma, mamma het die pad reeds gestap, maar nee vriendin, dis nie hoe dit werk nie! Dis nie hoe dit vir jou gewerk het nie, dis ook nie hoe dit vir ons kinders kan werk nie.
Ek en jy moet vir ons kinders die spasie gee om self verantwoordelike besluite te kan neem. Ek dink regtig nie ons wil ons kinders onbepaald by ons aan huis hê nie, ek wil verseker nie. Ek dink ons wil hê hulle moet hulle vlerke kan sprei, ons wil hê hulle moet uit die nes uitspring, nie dat ons hulle onder die alie moet skop en uitforseer nie.
Ja, en hierdie kindertjies van ons gaan foute maak op die pad, maar hulle gaan okay wees, hulle gaan reg wees om te doen wat hulle moet doen. Weet jy wat jy en ek is eintlik nie welkom op hierdie lewenspad van hulle nie, dis hulle pad om te stap. Ek dink alles in my mamma-hart wil eintlik hierdie kosbare dogtertjie van my aan die hand vat en sê: “Kom, mamma loop saam met jou, pasop vir daardie slaggate, tel bietjie spoed op vir die opdraendes, en wees versigtig om die skerp draaie.”
Nee, vriendin, hierdie dingetjies moet hulle vir hulself uitvind en uitwerk. Ja, soms gaan hulle seerkry, soms is die pad lank, ongemaklik, ongaanbaar… Hoe pas ek en jy op hierdie pad wat nou voor hulle uitgestrek lê? Dit voel vir my met ousus is ons besig om by die kruising te kom wat sy gaan afdraai om haar eie paadjie te stap. Universiteitsaansoeke gebeur sommer volgende maand, waar gaan sy bly… vreemde, opwindende onsekerheid.
Die kruispad wat ‘n stap is in die rigting van onafhanklik wees, haar eie potjie krap. As ons nie saam op hierdie paadjie kan stap nie, wat is ons rol nou, net die van toeskouer? Nee my liewe vriendin, ek en jy is hulle grootste ondersteuners, ons daag op wanneer hulle ons nodig het, nie ongenooi pop ons op, dag en nag nie. Ons vra toestemming om op die pad te wees, ons gee ons ondersteuning en help wanneer hulle vra vir hulp.
Moenie stres en komkommer nie vriendin, hierdie liefling kind van jou stap nie die pad alleen nie, nee God is altyd daar. Hy los hulle nie vir ‘n oomblik alleen nie, God is saam met hulle elke stap op hierdie onbekende pad. En of hulle Hom sien, Hom erken of nie, verander nie die feit dat Hy by hulle is nie. Dit verander nie die feit dat Sy oë altyd op hulle is nie.
Dit is ook so dat die pad klipperig kan raak, dat hulle bitterlik hard kan val, ja en ons daag op met raad en bystand, maar dis God self wat hulle optel, wat hulle heelmaak, wat hulle aanmoedig. Die instink is om ons kinders styf teen jou bors vas te druk. Om hulle nooit ooit te laat gaan nie, maar vriendin ons moet… dis nie ‘n keuse nie.
So, my liewe vriendin, as die kind in jou huis met opwinding uitsien na wat volgende kom, as hulle nie kan wag om uit die huis uit te gaan nie dan sê ek vandag vir jou, jy het NIKS verkeerd gedoen nie, jy het wel IETS reg gedoen. Steek ‘n malva in jou hoed! Jou kind gaan sy eie potjie met oorgawe en sukses self krap.
En ja ek erken rondborstig, vir my is hierdie nie so opwindend nie, nie iets waarna ek so woes baie uitsien nie, maar hier is ons nou! Ons gaan hierdie ding doen een dag op ‘n slag. Moenie te veel en te ver in die toekoms inwonder nie, kommer en vrees nie, want ek en jy weet ons kinders is veilig in die hande van die God van die hemel en aarde.
As vrees en bang jou wil-wil onderkry laat die woorde van Psalm 121 jou woes kloppende hart tot bedaring bring…
My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Hy sal nie toelaat dat my kind struikel nie; Hy wat hul beskerm, slaap nooit nie. Die Here beskerm hul en bewaar hul van alle gevare, hul lewens sal Hy beskerm. Hy sal jou kinders beskerm waar hul ook gaan, nou en vir altyd.