Liewe vriendin, ek moet bieg, die afgelope week of twee was effe rof, ek kan nie presies sê wat dit so erg gemaak het nie, wat ek wel kan sê is dat ek in hierdie tyd bietjie vergeet het wie ek is. Die reine waarheid is dat ek ‘n hele paar oggende vergeet het om my kroon op te sit voor ek by die deur uitgestorm het, die oggende wat ek dit wel onthou het was my kroon onseremonieel, windskeef op my kop opgedruk. Dis so goed jy hardloop poedel-nakend kaal by die deur uit, anders, maar baie dieselfde, veral in die geestelike realm.
Hoe gebeur dit dat mens ewe skielik vergeet wie jy is? Jy luister na die leuens van die Vyand, dis wat, nog erger, jy begin selfs glo wat hy alles oor jou en van jou te sê het. Ai!
Nietemin. Ek sit in my kar en wag en ek stuur vir my beste maat, my liewe man, die volgende boodskappie: Voel deesdae of ek nie lekker weet wat ek doen, asof my vertrou in myself iewers langs die pad weggeraak het. Ai wat ‘n blessing vir ‘n man wat presies hoor wat ek sê, en daai oggend kom skuif my lewensmaat net die windskeef kroon weer mooi regop met die volgende woorde: Dis maar net omdat dit ‘n nuwe omgewing is, nuwe mense en dinge. Ek weet jy is “equipped” om dit te doen. God het jou lief, Hy ken jou en jy ken Hom. Dis al. Niks aardskuddende hoogdrawende aanhalings nie, net woorde, maar dis genoeg om my kroon weer kierts regop op my kop te sit.
Vriendin so ek wil vanoggend vir jou kom bemoedig, miskien hang jou skouers en jou kroon skeef, dan wil ek vir jou sê: Onthou wie jy is, nie jy alleen staande nie, wie jy is in Hom. Daar is ‘n verskriklike mooi stukkie in The Lion King waar klein Simba in die water staar en die weerkaatsing van sy Pa sien met die woorde wat eggo: Remember who you are… Vriendin jy is nie net sommer nie. Jy. Is. Die. Dogter. Van. Die. Een. Ware. God.
As jy jouself bietjie verloor het, en ons almal doen een of ander tyd, gaan soek jouself in Hom. Die vet weet ons vergeet bitter vinnig, en die vyand met al sy suggesties en opmerkings help ook nie baie nie. Ons vra so maklik: Wat is die mens dat U aan my dink, ek wat net ‘n spikkel op die aardbol is, die waarheid my liewe vriendin, jy is net bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak. Kniel, want God kom kroon jou weer en weer met aansien en eer. (Ps. 8)
Liewe vriendin, as jy jou Verlosser net sal toelaat sal Hy jou vyande magteloos laat toekyk, maar jóú kroon sal bly skitter. (Ps. 132:18) Jy sal die Ewige Lewe as kroon ontvang. (Openb. 2:10) As jy jou kroon afhaal, liewe vriendin, gaan lê jou kroon neer voor die troon van ons Vader. (Opernb. 4:10) Gaan lê jouself voor Sy troon neer as ‘n lewende heilige offer. (Rom. 12)
Vriendin ek bid dat Genade jou sal lei, Goedheid wat jou soos ‘n skild beskerm, (Ps. Ps. 5:13) jou saggies aan die hand vat en Guns jou aanpor om net die volgende treëtjie te gee. ‘n Treëtjie nader aan ‘n waaragtige weet-wie-jy-is. Nie wat ander mense en die wêreld van jou sê nie, maar wie jy is omdat Hy so sê. En Sy sê is die enigste sê wat gewig dra… Hoekom? Want Hy het jou gemaak en Hy is God.
Liewe mede sussie in Jesus, hier is dan die uitdaging: Wees altyd, maar altyd op die uitkyk vir jou sussie wat in nood is, wat gebed benodig, ‘n paar opbouende woorde kort net om genoeg krag te kry om die dag deur te sien, kom ek en jy wees die één wat ander se krone van die grond af optel, afstof en mooi netjies terug sit.
Hoor, luister, skryf dit op jou hart: Jy behoort aan My, jou Koning, vir My moet jy eer. (Ps. 45:12) Jy is MY dogter. (Gal. 3:26) Op jou, LIEFLING-DOGTER, wag die oorwinnaarskroon, ’n lewe saam met My. (2 Tim. 4:8) ’n Onverganklike kroon van heerlikheid. (1 Pet. 5:4) Ek sal jou soos ‘n sierlike kroon in My hand vashou. (Jes. 62:3) Jy kosbare dogter, is My blydskap en die kroon op My kop. (Filip. 4:1) Ek kom gou! Moenie dat iemand jou kroon wegvat nie. (Open. 3:11)
Dogter van die Koning… jy is genoeg, geliefd, uitverkies. Genade is jou porsie en liefde jou geskenk uit die skatkamers van die hemel.
https://youtu.be/ovpjQPWn2rQ
Dankie dat jy my kom help het om my kroon vandag weer reg te skuif. Voel die laaste twee dae asof myne skeef sit.
Baie lief vir jou❤
My voorreg!❤️️
Dankie Martha. Dis net wat ek nodig gehad het hierdie week. Baie dankie.
Dankie Martha.. My kroon lyk of Hy onderste bo sit.. En ek sukkel om dit weer op te kry.. Hy wil net aftuimel.. Mag die Here u en families seen!
Ek bid dat Vader vir jou mense oor jou pad stuur om daai windskeef kroontjie reg te skuif. Mag jy Sy liefde en vrede elke dag in oorvloed ervaar.
Baie baie dankie vir jou woorde, ek het my kroon verloor iewers langs die pad.
Mag God self jou kroon terug plaas op jou kop. ‘n Blommekroon vol genade en liefde spesiaal vir jou liewe Enid.👑