Die Alewige Gedagtes…

Ek het mos nou al paar keer gesê my kop is altyd besig met alles en nog wat. Die binnekant van my kop lyk seer sekerlik soos ‘n doolhoof, ‘n mens kan lekker gaan staan en verdwaal daarbinne. Gits, ek verdwaal soms self daarbinne. Nietemin, die ander dag sit en wonder en peins ek so bietjie oor gedagtes. Wat ons dink? Hoekom dink ons soos ons dink, wat gaan in daardie mooi koppie van jou en my aan?

God gee toe vir my hierdie mooi beeld van ‘n vrou wat staan en vrugte sorteer op ‘n vervoerband. Soos die vrugte verby kom pluk sy die vrot vrugte en die minder mooi, vrugte met merkies op, uit. Die mooi vrugte los sy dat dié verder af op die vervoerband in stewige boksies verpak word, reg vir die afset na die verskillende winkels of selfs oorsee. So wanneer jy die sakkie vrugte by Pick ‘n Pay koop, dan kry jy selde ‘n vrot vrug daarin, want dit is mos klaar gesorteer.

As jy nou vir my voor die vervoerband sit gaan die eindresultaat nie so suksesvol wees nie, my ongeoefende oog en hande gaan heel waarskynlik ‘n klomp onaangename, vrot vrugte laat deurglip. Maar los my ‘n maand daar… dan gaan ek vinnig leer om die vrot vrugte raak te sien en uit te soek.

Weet jy wat, met gedagtes wat in ons koppe in marsjeer is dit presies dieselfde. Ons moet leer watter gedagtes kom van God en watter van die gedagtes het die vyand ingeslyp toe ons nie aandag gegee het nie, die oomblik toe ons nie so lekker op ons hoede was nie. Dan moet ons die vrot vrug herken en sonder om twee keer te dink die vrot vrug wegsmyt. Ons moet nie eers probeer om die vrug ‘n happie te gee nie want ek en jy gaan seer sekerlik in ‘n vet, wriemelende wurm  inbyt.

Ons moet die gedagtes wat by ons koppe inkom sorteer, sodat net die goeie gedagtes agterbly, die gedagtes wat vrede en genade tot gevolg het, nie selfhaat en selfkastyding nie. Wil jy raai waar daardie gedagtes vandaan kom? Jip, en weet jy wat, hy het jou nie lief nie, hy haat jou. Hy bring net dood en verwoesting, (Joh. 10:10) sy planne vir jou is als behalwe goed. Die troos is darem dat hy nie kan hoor wat jy dink nie, maar ‘n vrot-vrug saad en gedagte dié sal hy verseker saai. Gedagtes wat van die vyand af kom wat ons vertroetel en glo veroorsaak soveel onnodige pyn in my en jou lewe. Ons versondig ons siele met die gedagtes wat onnodig lank in ons gedagtes rondkuier.

Soos alles in die lewe hoe meer jy oefen, hoe meer sal jy dit regkry om te onderskei tussen die goeie en minder-goeie sommige selfs vrot gedagtes. See if there is any path of pain I’m walking on, and lead me back to your glorious, everlasting ways- the path that brings me back to you. (Ps. 139:24 TPT) Laat dit my en jou gebed wees.

As jy moet oor dink en weer dink en jou gedagte-knoppie op oor-begin moet stel het Paulus vir jou uitstekende raad in Filipense 4:8, Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is- watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees- daarop moet julle, julle gedagtes rig. So as die gedagtes in kom en dit voldoen nie aan bogenoemde vereistes nie, gooi gerus maar daai gedagtes  uit.

Liewe vriendin, neem elke gedagte gevange en maak dit aan Christus gehoorsaam. (2 Kor. 10:5) Wat Hy wil, Wat Hy sê… Laat Hom toe om jou te verander deur hoe jy dink te verander , deur jou gedagtes te vernuwe. (Rom. 12:2)

Ons moet leer hoe die stem van ons Verlosser klink sodat ons kan onderskei wanneer die groot leuenaar en verleier allerhande snert in ons koppe wil vasstrapplek gee. Weet jy hoe klink die stem van Jesus? Ek dink sommer nou aan die ou-ou liedjie, saggies en teer is die roepstem van Jesus. Nie hard en skrikwekkend nie. Geliefde vrou na aan God se hart, onderskei die stem van die Ene wat jou nog altyd liefgehad het van die een wat jou haat.

As jy regtig wil weet hoe klink die stem van Jesus, gaan lees bietjie die boek van Hooglied, want dit my liewe vriendin is Jesus se stem. Die stem van die Bruidegom is gevul met wonder en liefde, nie afkeurend en sonder emosie nie. Dis die Bruidegom wat met Sy bruid praat, wat met jou praat. Arise, my dearest. Hurry, my darling. Come away with ME! I have come as you have asked to draw you to My heart and lead you out. For now is the time, my beautiful one. How beautiful your eyes of worship and lovely your voice in prayer. (Song of Songs 2:10,14 TPT) Sjoe, hoe hartroerend mooi is die stem van die Een wat my en jou najaag… Sy liefde vir jou sal altyd maar altyd in Sy stem deurskemer.

 

3 Replies to “Die Alewige Gedagtes…”

  1. Ek sit hier langs die dam terwyl die kinders swem en so lekker stil om my en dink weer terug aan jou stukkie en luister sommer weer na die pragtige lied.
    So so pragtig, dankie vir die deel Martha❤

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *