Ons gesin was onlangs bietjie na Die Hel, ek is baie bly om te rapporteer dat dit nie die warm plekkie is nie, maar eerder die ene geleë in die Gamkaskloof, deel van die Swartberg bergreeks. Ek hoor dit raak baie warm daar, maar dit was mos nou meer na die einde van die winter se koers, so dit was heel matig in Die Hel, en mooi… dis baie mooi daar. Daar is hope fynbos, maar die paadjie soontoe is lank en nou, jy moet nou asb nie met jou Polo Die Hel gaan soek nie.
Op pad na Die Hel toe was eintlik heel lekker, want sien ek was nie die bestuurder nie so ek het aan die veilige kant gesit. So met die soontoe was ek salig onbewus van die afgronde en toon omkrul steil kranse… en dis nou nie van lekker kry nie!
Kleinsus het agter my gesit, so ons kyk lekker rond, al wanneer ons oë bietjie groter raak is wanneer ‘n motor van voor af kom… ja kan jy dit in jou lewe oorvertel, daar was wraggies verkeer van voor af, nietemin, onthou ons is met die soontoe aan die veilige kant en alhoewel dit ‘n noue paadjie is kom ons net-net verby die aankomende verkeer, naby genoeg dat die manne kan bladskud deur die vensters met die vreemde Vrystaters en Gautengers van voor.
Onder in Die Hel is nie veel om te doen nie, maar jy kan darem ‘n pastei en ‘n koffie daaronder kry, as jy gelukkig is tot roosterkoek.
Met die terug kom slag toe begin dinge bietjie lol, want sien toe sit ek nou aan die verkeerde kant, die afgrond kant, die kant waar die klippe afrol as ‘n voertuig van die anderkant af aankom en ook nie lank nie toe hoor ek ‘n benoude stemmetjie van agter af: “Pappa, ry ons nie te naby aan die afgrond nie?” Want arme Kleinsus het nie ‘n uitkyk of ‘n opkyk nie… slegs ‘n afkyk, en dis ver en diep.
Daar is nie baie diertjies nie, maar daar is sulke oulike bokkies wat op die randjies rond hardloop, vlugvoetig en sekuur. Ek dink sommer onwillekeurig aan die versie: Die Here my God gee vir my krag Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop. (Hab. 3:19)
Kleinsus se benoude stemmetjie het my beslis aangesteek, en natuurlik hoe meer ek op die afgrond daar doer onder fokus hoe vinniger klop my hart en vrees kom slaan sy yskoue vingers om my warm mensehart.
Sjoe my liewe vriendin, maar ek en jy kan nie bekostig om ‘n afgrond-fokus te hê nie, ons moet die afgrond amper ignoreer en vorentoe kyk met vertroue, want dis God self wat ons op hoë plekke laat veilig loop. So, my liewe vriendin miskien is die afgrond in jou lewe soos ‘n gapende gat wat jou wil insluk, miskien is jy bang, vrek-bang dan hou jy met vertroue stewig vas aan die soom van jou Verlosser. Jy herinner jouself aan elke belofte in God se Woord en jy klou daaraan vas. Jy hou vas aan wie Hy is en wat Hy sê.
Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees? (Ps. 27:1)
God is my en jou toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood, daarom is ons nie bang nie. (Ps. 46:2-3)
Gee aan ons vrede en voorspoed Here, want ons het nog altyd ons vertroue op U gestel. Ons vertrou op U, Here, want U is vir ons ‘n veilige toevlug. (Jes. 26:4)
Maar sê nou maar ons rol by die afrond af, wat as die wiele mis ry en daar rol en tol ons na benede? Wat dan? Dis ‘n moontlikheid, dit kan verseker gebeur. Weet dit verseker, wanneer die motor begin rol en tol dan spring Jesus nie uit nie, ‘n elke man vir homself houding nie. Nee, Hy hou jou hand stuif vas… ook dan is jy nie alleen nie.
Ons bly in ‘n stukkende wêreld… maar weet jy wat vriendin, al rol jy soms en val jouself disnis in die afgronde en klipperigheid van die lewe is jy nogsteeds veilig, want die Here is jou Herder, Hy hou jou veilig in die holte van Sy hand.
Nee wat kom ons fokus op die pad en nie op die afgronde nie. Kom ons vat die tyd om die mooi raak te sien, ek en jy is nie die bestuurder van die voertuig nie, ons is net die passasier. Afgronde en kranse sal daar in ons lewens wees, ek en jy moet net ons fokus verskuif van die afgrond na die God van die hemel en die aarde.
Vertoue is nie net ‘n geestelike reddingsgordel of valskerm wat net in tye van krisis gebruik word nie. Vertroue op God is ‘n uitdrukking van waarheid, ‘n geestesinstelling, ‘n manier van lewe. Vertou God wanneer ook al… wat ook al… waar ook al… vir altyd. (Carol Anne Morrow)