Liewe Bekommerde Mamma,

Ag my liewe vriendin, is dit nie so dat ons maar altyd oor ons kindertjies bekommerd is nie? So baie van ons is op ‘n ongemaklike groeifase van kinders grootmaak. Ek ken so baie Mammas wat hierdie jaar kids het wat klaar is met skool wat die grootmens/studente lewe met mag en krag aanpak. Of daar is kids wat nog by die huis sit ‘n jaar of drie na skool wat nie lekker kan rigting kry nie. Ander is weer naby klaar geswot… en wat nou verder. Waar gaan hulle werk, waar gaan hulle woon. Baie Mammas navigeer die onbekende pad van: nie-weet-nie. En die nie-weet-nie sit nie altyd so lekker hier in die binneste nie.

My girls is die jaar begin en einde van Hoërskool, soms is dit ongemaklik. Ek probeer om nie te veel daaroor te tob en te wonder nie. Ek gaan hierdie jaar net vat soos hy kom, doen wat ek kan, my beste… niks meer nie en niks minder nie. Net een dag op ‘n slag. Nie te veel in die toekoms lewe nie, ek is altyd so bang as mens die heeltyd met die wat asse en die sê nou maars stoei dat jy die hier en nou skoon mis leef. Dat jy die laaste kosbare tye saam met jou kinders laat verby waai.

Ek wil hier wees, die laaste jaar van ousus in die huis beleef en leef en niks mis nie. Volgende jaar as sy die grootmens lewe vasgryp en die lewe van student-wees met oorgawe aanpak, dan sal ek haar mis en my seker doodverlang. Maar die jaar gaan ek net elke oomblik wat sy nog hier is- binne skree afstand-net stuif teen my hart vashou.

Ons almal het ‘n ‘Achilles heel’, ons swak punt, die punt waar ons weerloos en soms moedeloos kan voel. Ek vermoed vir baie mammas is dit hul kids. Myne is verseker. Pasop dan vir die Vyand. Hy sal dit teen jou gebruik, hy sal allerhande snert in jou oor fluister… dit gaan maak dat jy dag en nag met ‘n bekommerde hart sit. ‘n Hart wat niks lekker voel nie. Jy sal ook voel as jy lank genoeg bekommerd is oor jou kroos dat die gevoel van bekommerd oor sit in angs. Ai, ‘n onnodige gevoel, en jy sal weet jy is daar as jou emosies chronies oor jou wange loop in die vorm van trane.

Daar is altyd ‘n troos en ek wil hê jy moet nou regtig hoor wat ek sê, maak dit in jou Mamma hart vas en moet dit nooit ooit weer vergeet nie: God is baie liewer vir jou kinders as wat jy ooit sal wees. Hulle was Syne nog lank voor hulle joune geword het, en daarom my liewe vriendin kan jy rustig wees… stil wees. Hy het elkeen van hulle in die palm van Sy hand.

Sien vandag hoe lyk Vader se hart vir elkeen van ons kindertjies met hul uitsonderlike, unieke persoonlikhede: “Ek weet wat Ek vir jou kind beplan: Voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir jou kosbare kind, My kosbare kind, ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! (Jer. 29:11) Ek, die Here jou God is oral by hulle, waar hulle ookal mag gaan. (Jos. 1:9) Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed. (Joh. 10:10) Vriendin, my oorvloed en God se oorvloed vir my kind lyk nie noodwendig dieselfde nie. Maar in stilte kan ek en jy op Hom vertrou, Hy is immers God. Altyd goed. Altyd in beheer. Altyd dieselfde. Altyd teenwoordig.

Feit is my liewe vriendin, ek en jy kan nie ons kinders se besluite namens hulle neem nie, hulle het die ruimte nodig om self besluite te moet kan neem, en soms foute te maak ook. Hoe anders het ek en jy geleer om ‘groot’ te word? Ons kan nie hulle lewens namens hulle leef nie, daar kom ‘n punt wat ons moet terugstaan sodat hulle kan opstaan as verantwoordelike, jong volwassenes. Ek en jy moet weet wanneer die tyd aanbreek om terug te staan en te besef ek het my beste gegee… nou is dit hulle beurt. En dan bid ons vir hulle, dag en nag…soos ons nog altyd gedoen het.

Mamma met die bekommerde hart. Haal asem, raak rustig. Jesus sê vandag vir jou: “Jy het vir My altyd by jou, (Ps. 16:8) die dag as jy benoud, bang en bekommerd voel… vertrou net op My! (Ps. 56:4) Los jou sorge en bekommernisse by My voete. (Ps. 55:22) Toe jy met baie onrus en bekommernis in jou binneste gesit het, het My vertroosting jou tot rus en stilte gebring. My troue liefde het jou nog altyd regop gehou My liefste dogter. (Ps. 94:18-19) Werp al jou bekomernisse op My, want Ek sorg vir jou. (1 Pet. 5:7) Moenie so ontsteld raak nie, Glo in God; glo ook in My. (Joh. 14:1) Kan Ek jou ‘n vraag vra, liewe kind? Kan jy jou lewe met een enkele uur verleng deur om jou te bekommer? Ek weet wat jy nodig het. Moet jou nie oor môre bekommer nie. (Matt. 6:27,31,34)

Laat Psalm 61:2-3 (The Passion Translation) die gebed van ons bekommerde Mamma harte wees:

I will cry out to you for a Father’s help. When I’m feeble and overwhelmed by life, guide me into your glory, where I am safe and sheltered. Lord, you are a paradise of protection to me. You lift me high above the fray. None of my foes can touch me when I’m held firmly in your wrap-around presence!                                                                            

2 Replies to “Liewe Bekommerde Mamma,”

  1. Hierdie was nou NET VIR MY!!! En Jer29:11 was nog altyd “my” spesiale vers van God!! Danki dat jy hierdie vandg mt my geshare het x Jesus liefde x Estelle

    1. Menslief, jy sit met jou hele verlede op jou nek en nou wil jy nog jou hele toekoms ook dra. Dit is veels te veel. Jy kry jou lewe in skyfies van 24 uur. Waarom wil jy alles op een slag dra? Jy is nie daarvoor gemaak nie. Jy sal doodgaan daarvan. (Phil Bosmans)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *