Ek en jy het die Kersverhaal al so baie gehoor. Ons weet van die sensus, en Bethlehem, en die krip, die Herders en die Wyse manne. Soms, en vergewe my maar dis seker maar ‘n vrou ding, wonder ek oor die mense se emosies, want dis nie asof Matteus of Lukas vertel hoe bang Maria was om ‘n kindjie in die wêreld te bring of dat die Herders hulself in ‘n ander bloedgroep ingeskrik het toe hulle die Engel sien nie. Ek het die Kersverhaal weer gaan lees. Ek het die pêrels in die verhaal gaan soek. As’t ware tussen die Kersverhaal lyne gaan lees.
Weet jy dat Maria ‘n tiener was toe sy swanger geraak het met Jesus? So ietsie tussen 15-17 jaar oud? Nie abnormaal vir daardie tyd nie. Ek dink Maria was bang, al het die Engel gesê: “Moenie bang wees nie (Matt. 1:30)” Maria het geweet wat gebeur met meisies wat buite die eg swanger raak. Dit was nie net ‘n skande nie, dit was ‘n doodsvonnis. Maar ten spyte van die bang en benoud, antwoord Maria: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” (Matt. 1:38) Nie maklike woorde as jy weet daar wag dalk ‘n hopie klippe vir jou om die volgende draai nie! Dis geloof, wanneer jy die Vaderhart vir jou so goed ken dat die vrees krimp in vergelyking.
Ek vermoed dit was ‘n ongemaklike tyd vir Josef ook. Dit kon nou nie juis ‘n sorgvrye verlowing gewees het met die tipe skaduwee wat so onbeplande swangerskap kan meebring, veral in daardie tyd. Maar soos altyd is God in beheer. Ek wonder tog hoekom die Engel aan Maria verskyn het soos in -ewe skielik staan hier ‘n Engel voor jou, maar in Josef se geval besoek die Engel hom in ‘n droom. Ek het nou-nou gelag want ek vra die girls hoekom hulle dink dit so was? Ousus sê sy dink dis omdat Josef ‘n man was sou hy dalk gevoel het hy moet veg of vlug. Kleinsus sê sy dink die Engel was so opgewonde om vir Josef te vertel dat hy nie kon wag dat hy wakker word nie, toe vertel die Engel hom sommer in die droom.
Nietemin ek dink God ken ons elkeen so goed, en Hy gee nooit meer as wat ons kan hanteer nie. Hy praat met elkeen op ‘n vlak en manier wat ons sal verstaan.
Met Jesus se geboorte, die Koning van die Heelal, is daar nêrens ‘n gemaklike plekkie waar Maria geboorte kan skenk nie. Sy doen dit tussen diere in ‘n stal, dit kon nie so lekker geruik het en heel waarskynlik was dit ook nie heeltemal so skoon nie. Sommer daar in die krip leer ons die nederigheid van Koning Jesus ken. Hy word nie gebore in die geselskap van belangrike mense, toegevou in blou fluweel kombersie, geborduur met goud, neergelê op sagte kussinkies nie. Nee, sommer net daar tussen die strooi en die diere, toegedraai in gewone doeke.
Het jy al gewonder hoekom die Engel juis aan die Skaapwagters verskyn het? Hoekom hierdie eenvoudige, ongeletterde mensies wat in die veld van die veld geleef het? Hulle was die heel eerste mense wat die tyding gekry het. God het hulle juis afgesonder en belangrik genoeg geag om die geboorte van Sy Seun aan te kondig. Sien, die skaapwagters was besig met hulle alledaagse werk. Harde, eerlike werk. Nie belangrike, aardskuiwende werke nie. Dit vertel ons weereens iets van die karakter van God. Geld, aansien en rykdom beindruk Hom min, beindruk Hom glad nie. God kyk na mense anders as wat ons na hulle kyk. Hy kyk na hulle hart… kyk na my en jou hart.
Die besoek uit die Ooste is ook ‘n interessante deel van die Kersverhaal, nadat ek oral so bietjie opgelees het besef ek toe teen die tyd wat die wyse manne hulle opwagting gemaak het was Jesus al tussen 1 en 2 jaar oud. ‘n Ster vertel vir hulle wie Hy is en waar hulle hom sou vind. Die hemel getuig van Sy grootheid en krag. Hulle bring vir Hom geskenke. Goud, wierook en mirre. Die Bybel sê ook nêrens dit was drie wyse manne nie, ons het maar net so aangeneem want daar was drie geskenke.
Dis nou alles baie interessant maar ek vra myself af wat is die belang van die storie van die Wyse manne, hoekom dit in sluit in die Bybel? En ek besef, die pêrel in die stukkie is: Soek Jesus tot jy Hom vind. Dis die moeite werd om Hom te vind.
Met my en jou in Sy gedagte was die plan om aarde toe te kom. Het Hy ‘n keuse gehad? Natuurlik, net soos Hy gekies het om aan ‘n kruis te sterf vir my en jou sonde… want sien dis hoe lief Hy jou het. Dit was die uiteindelike opoffering gewees. Om as ‘n babaseun gebore te word en aan ‘n growwe houtkruis te sterf. Die prys groot, maar God se genade groter. Sy liefde vir jou en my nog groter en dis die wonder van Kersfees. ‘n God wat ons intens met intensie lief het. ‘n God wat alles gegee het vir my en vir jou.
Vir ons is ‘n Seun gebore,
Aan ons is ‘n Seun gegee;
Hy sal heers, en Hy sal genoem word:
Magtige God,
Ewige Vader,
Vredevors.
Sy heerskappy sal uitbrei,
en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring.
(Jes. 9:5-6)