Krummeltjie Geloof.

Mens lees soms ‘n verhaaltjie so oor en oor dat jy later skoon glad nie meer weet presies wat jy lees nie. Een so verhaaltjie is die een van die Kanaänitiese vrou in Matteus 15 wat by Jesus pleit om haar dogter gesond te maak. Onlangs lees ek weer die verhaaltjie en dit gryp my aan die hart. Miskien omdat ek ‘n ma van dogters is en ‘n stukkie van hierdie mamma se paniek kan aanvoel.

Hierdie Kanaänitiese vrou is ‘n heiden en boonop onrein. Sy het geen besigheid om met enige Joodse man te praat nie, wat nog te sê met Jesus, om die waarheid te sê dis sommer eintlik gewaagd. Moeilikheid soek.

Sy roep herhaaldelik na Jesus, maar Jesus ignoreer haar, antwoord haar nie, sien haar nie, die dissipels is bitter ongemaklik met hierdie ongelowige vrou wat so te kere gaan en skree hier agter hulle. Hulle vra Jesus moet haar tog asb net weg stuur. Jesus antwoord hulle: “Ek is net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur.”

Die mamma laat haar egter nie afsit nie, en sy kniel voor Jesus met die pleitende woorde: “Here, help my!” Jesus sê dan vir haar: “Dit is nie mooi om die kindertjies (Jode) se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.” Wie is die hondjies? Die heidense vrou en haar dogter. Dan erken hierdie formidabele vrou en mamma: “Dit is waar Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van hul base se tafels afval.” Hierdie desperate mamma herken Jesus vir wie Hy is, die Messias, die Redder van my en jou hart. God sien ook nie haar onreinheid raak nie, maar wel die geloof en die reinheid van haar hart.

En wat doen dié Jesus wat ons so goed ken? Hy deel genade en liefde uit en sê vir haar: “Mevrou, jou geloof is groot. Jou wens word vervul.” En van daardie oomblik af is haar dogter gesond.

Hierdie mamma se krummeltjie geloof raak groot genoeg om haar dogter se lewe te red. Oorskiet genade genees haar kind. Vertroue in God se krag en haar vertroue en geloof in ‘n onbekende God het haar dogtertjie en haar eie lewe gered. Die ding is vriendin ek en jy hoef nie staat te maak op die oorskiet-krummeltjie genade van die Koning se tafel nie. Ons mag saam met die Koning aan tafel sit en Sy goedheid en guns geniet.

Dit my liewe vriendin, dit is die geloof van ‘n ongelowige vrou, hoe lyk my en jou geloof? Sjoe en dan staan ek soms beskaamd en dink sommer onwillekeurig aan die mosterdsaadjie. Dit verseker Ek julle: As julle maar geloof het so groot soos ‘n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: “Gaan staan daar anderkant!” en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie. (Matt. 17:20)

Ek het ‘n pakkie mosterdsaadjies gaan koop eendag, sodat ek met daai piepklein saadjie in my palm kan staan. Daai bittere klein saadjie is tussen 1mm en 2mm groot. Ek het bietjie gaan lees wat alles in daai saadjie is, ‘n elle lange lys vir so klein saadjie. Vit A,B,C,E en K. Verder is daar nog kalsium, yster, magnesium, kalium, fosfor en sink ook teenwoordig. Klein maar nie onbeduidend nie, maar die wonderwerk is as jy daardie klein saadjie in die grond druk en versorg raak dit tussen 1.8m en 6.1m. So baie potensiaal in so klein saadjie opgesluit.

Jou geloof wat soms vir jou so klein en nietig voel het die potensiaal om berge te versit. Daar is soveel gestoorde energie in die klein saadjie. Net so het ons klein bietjie geloof ook die gestoorde energie van die Vader in die saadjie opgesluit. Klein bietjie geloof van my en jou kant af het groot impak nie oor ek en jy so gelowig en oulik is nie, maar omdat God so GROOT is!

Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. (Heb. 11:1) Geloof is om in die oë van Jesus te staar omdat jy weet dat jy dit sonder Hom nie sal kan doen nie. Geloof is om ‘n mosterdsaadjie in die grond te druk sonder om te weet daar gaan ‘n plant van 6m opspring. ‘n Klein saadjie-begin met ‘n groot plant-uiteinde. Al wat die saadjie nodig gehad het is water, goeie grond, lig en lug. Ons geloof het ook nodig om te groei. Ons het die Woord van God nodig, tyd saam met Hom, gelowiges wat ons omring- dan groei ons geloof ook mooi. Jou en my geloof het potensiaal om te groei, berge te versit en mense se lewens te verander.

Geloof is trane. ‘n Roep na God. ‘n Woordelose geskreeu om hulp. Geloof is my hulpeloosheid. My magteloosheid wanneer mense smekend na my opkyk, vraend, wagtend. En ek smekend na God opkyk. En my uitsig na God is wasig deur die trane van magteloosheid. En ek skrik vir die twyfel en die kleingeloof. Geloof bly ‘n wonder. Dit gebeur met jou. Dis genade. (Johan Smit)

 

2 Replies to “Krummeltjie Geloof.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *