Plekkie in die Son.

Ons was vroeër vanjaar in die Kgalagadi Transfrontier Park vir ‘n paar dae. Ons gesinnetjie van vier het eintlik heel uiteenlopende belangstellings en  is half dieselfde, maar ook heel verskillend. So hou ek die spulletjie dop en besef eintlik ‘n baie belangrike ding. Ons almal kyk vir presies dieselfde goed maar vanuit elkeen se unieke oogpunt lyk die Park en die wêreld om ons heel anders.

Kleinsus is die grond-kyker, sy kyk letterlik (meestal) in ‘n radius van 2m om die bakkie. Met die gevolg sy sien al die muise, grond eekhorings en meerkatte raak. Goeie, skerp ogies, haar naam beteken nie verniet fyn waarnemer van die lewe nie. Ousus sit met die verkyker, sy is die roofdier-spotter wat op die kliprandjies soek vir leeus, luiperds en jagluiperds. Ons was baie gelukkig en het sommer al drie gesien.

Manlief, ja wel soos baie mans wat jag, sien hy die bokke raak, die horings, watter tipe skoot sal die bul plattrek en die lekker biltong. Ek weer stel amper uitsluitlik net belang in die voëls, so ek kyk nie baie verder as die bome in die veld nie. Ek word altyd beloon deur die mooiste voëltjies langs die pad te sien, ek voel altyd bederf, voorgetrek. Wanneer jy in die Park rondrits en jy sien ‘n klomp motors bymekaar staan dan kan jy maar weet daar is ‘n leeu of ‘n roofdier wat in die lang gras wegkruip of sommer net langs die pad na jou sit en staar met gelerige, wantrouige oë. Die Girls spot lekker met my, hulle sê ons is die enigste voertuig wat ‘n noodstop doen, lense uitpluk en … ‘n piepklein voëltjie afneem!

Nou vra ek myself af? Wie se standpunt, se uitkykpunt is die regste? Wie sien reg? As iemand se uitkykpunt dan reg is impliseer dit mos dat 3 mense in die bakkie se oë hulle bedrieg en hulle sien mos dan heel verkeerd, glad nie wat hulle behoort te sien nie!

Ek sien uit oë wat al 44 jaar se lewens ondervinding agter die blad het, wat ‘n geskiedenis het, ervarings deurgemaak het wat ander dalk nie het nie, en sekere ervarings nog glad nie beleef nie. Ek sien wat ek wil sien omdat dit is wie ek is en die persoon wat deur ‘n sekere verlede/ondervindings gevorm is.

Hoekom dink jy liewe vriendin wil ons dan hê almal moet na die lewe kyk deur ons se ogies? Hoekom wil ons hê almal moet soos ons dink, doen wat ons doen en selfde opinie as ons hê? God is immers nie in die besigheid van ‘copy’ en ‘paste’ nie. So is elkeen van ons uniek-anders geskape. Met ons geite en dinge. Ek is nie soos jy nie, en jy is nie soos ek nie. Dankie tog daarvoor, hoe saai en eentonig sou ons die die lewe gevind het nie?

Ek kan mos nie heeltyd met my gesin raas en sê, los die bokke, verkykers en muise uit nie! Kyk vir die voëls, dis die regte uitkyk. Reg volgens wie? Myself? Ek en jy het albei ‘n positiewe bydrae om te maak tot die lewe, ek op my manier en jy op jou manier.

Ek dink volgelinge van Jesus is dit so belangrik om elkeen sy plekkie in die son te gun, om op te hou om mense te veroordeel en te oordeel op grond van hulle uitkyk op die lewe. Luister, meeste van die tyd ken ek en jy die persoon wat oorkant ons staan se storie van geen kant af nie. Elke outjie en elke vroutjie is sekerlik ‘entitled to their own opinion’, jy hoef nie eers saam te stem nie, moet nie met almal gaan verskil omdat jy ‘n voëlkyker is en nie ‘n bok kyker is nie.

God het jou gemaak wat jy nou is. (Ef. 2:10) Hy ken jou gedagtes nog voor dit by jou opkom. Hy is goed bekend met al jou paaie. (Ps. 139:2-3) Ek en jy is die werk van Sy hande. (Jes. 64:8) God het jou lief net soos jy is, met Sy eie hande het Hy jou gemaak en gevorm. (Ps. 119:73) Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken. (Jer. 1:5) Hoe mooi is dit? Jy word geken deur Hom wat jou gemaak het, nie van geweet nie, maar intiem geken.  Jou uitkyk en invalshoek gaan niks verander aan die feit dat God jou bitterlik lief het nie. Die geheim is om vir almal ‘n plekkie in die son te gun, want dis wat ons Vader wat in die hemel is van my en jou verwag.

 

4 Replies to “Plekkie in die Son.”

  1. Ek stem saam met Plekkie in die Son, en ek is bly ONS is nie almal dieselfde NIE, en ONS behoord almal AAN God. Die wonderlikste is dat ONS Vader God ONS vergelyk met mekaar of met profete NIE. Wanneer God na ons kyk, sien Hy NIE jou NIE, maar Jesus in jou want ñiemand Kom na die Vader maar alleen deur Jesus Christus!

  2. Liewe Genade…slat jy die hammer op die kop. Mens en veral ons vrouens oordeel tog so maklik en vergelyk jouself met n ander vrou gedurig. Dankie vir die mooi herinnering dat ons uniek is en tog is dit so maklik vir ons om ons kinders dit te leer maar soms vergeet ons as vrou dat ons ook uniek is.

  3. Sjoe… Spot-on… En hoe baie gebeur dit nie dat ons veral rakende Godsdiens ons sienings op mense afforseer of dalk nie so kras, jou oortuiging rakende ‘n punt baaaie duidelik maak.. Soms moet ons ook dalk na die bokke of muise kyk.. Miskien kry dinge in jou eie lewe betekenis omrede jy nie net op kyk vir die voëls nie.. Stunning stukkie.. Sommer met ‘n paar vriendinne gedeel.. Blessed week..

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *