Met jou Kop in die Hemelwolkies.

Ek het ‘n klomp versies en aanhalings in die binnekant van my kruidenierskas. Ek dink as ek so besluitloos voor die kas staan oor wat ons vanaand gaan eet, dan het ek ten minste ietsie om te doen. Tussen al die aanhalings het ek ene neergeskryf wat ek tannie Joyce Meyer eendag oor die radio hoor sê het. Net nou die dag vang my oog die aanhaling: You are so heavenly minded that you’ve got no earthly use. Ek het gaan opsoek dis eintlik ‘n aanhaling van ene Oliver Wendell Holmes Sr.

So loop ek nou al vir paar dae met die aanhaling in my kop en kou en herkou so bietjie aan die woorde. Ek het ‘Heavenly Minded’ gaan opsoek en dit sê die volgende: In Christian Spirituality to be heavenly minded means to attempt to create, via behavior, character and right treatment of others, the spiritual atmosphere of heaven on earth. Gits en toe weet ek nou skielik nie of dit ‘n goeie of slegte ding is nie.

Ek dink toe sommer onwillekeurig aan die woordjie te, alles met te aan is gewoonlik of  veels te min of heel oorbodig, jy weet mos: te veel, te min, te vet, te maer… jy kry die prentjie. Behalwe tevrede, dis mos net reg. Amper soos Gouelokkies. Nietemin, glad nou nie die punt wat ek wou maak nie. So miskien kan ons so te hemel gebonde leef dat daar ‘n gevaar aan is.

Allereers gaan dit tog oor die Koninkryk van God. Dit moet die begin punt en die eindbestemming hier op aarde wees. Alles vir God. Ek het ‘n wonderlike boek gelees van Rick Warren, Purpose driven life, en alhoewel ek nou nie veel kan onthou van die boek self nie, sal ek nooit die eerste 5 woordjies van die boek vergeet nie: It is not about you! Dit gaan mos nie oor my en jou nie, dit gaan oor Hom en Hom alleen.

Voel vir my daar is ‘n bittere fyn lyn tussen te ‘heavenly minded’ en ‘no earthly use’. Tog sê Kolossense 3 vers 2 so duidelik: Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie. Kyk na alles en almal om jou met ‘n ewigheids perspektief. Ek wil ook graag in die hemel wees, maar vir nou is ek en jy op die aarde en ons het ‘n werkie hier. ‘n Koninkryks werkie om vir ander mense ‘n stukkie van Jesus te wys. Sy hart, Sy omgee, Sy liefde…

Ek is altyd bang die ‘heavenly mindedness’ (dis nou die te veel van ‘n goeie ding weergawe) maak dat mense dink jy is net te weird vir woorde. Nou kyk, moet vir my nou glad nie verkeerd verstaan nie, vir Jesus sal ek enige iets wees, as dit weird is, is dit ook nou maar goed en reg met my. Maar wat ek nie wil wees nie is so weird dat ek mense afskrik van Jesus, dat hulle net mooi die teenoorgestelde rigting loop… wegger van Jesus as wat hulle nog ooit was.

Omdat ek en jy kinders van God is en Hy ons liefhet, moet ons Sy voorbeeld volg. (Ef. 5:1) God is liefde en Sy hart is lankmoedig, geduldig, vol liefde, vergewensgesind teenoor ALLE mense. Miskien is dit ‘n mooi gewoonte om eers met God oor die mens te gaan praat en dan met die mens oor God te gaan praat. Jy weet party outjies se pad met Jesus is splinternuut, hulle het nog soveel om te ontdek en te leer, sjoe ek kry sommer hoendervleis en dis so opwindend… maar miskien is dit juis hoekom ek so bietjie oor hierdie aanhaling moes dink, want ek en jy moet met sensitiwiteit met ander praat, minder afskrik, meer bid, minder eie ek opinies hê en meer van God se liefde wys.

Ons kan so besig raak met die dinge van die Here, met soveel passie en goeie bedoelings, maar as ons vergeet om soms  net stil te word voor die Lewende God van die hemel en aarde, kan ons soms die Here van die dinge skoon misloop.

Ons oë moet gefokus bly op Jesus en Jesus alleen. Ek is op ‘n stadium in my lewe wat ek baie min ander mense se opinies oor God lees. Ek luister en lees deesdae met onderskeiding. Hoekom? Want ek wil hoor wat Hy vir my wil sê, persoonlik. Soms is die goedjies wat God vir my sê iets wat ek deel en soms nie. Ek en jy moet ook met onderskeiding en wysheid God met ander kan deel sonder om daai persoon uit te ‘freak’, of nog erger bang te maak. Vrees kom nie van God af nie, en ek en jy het geen reg om deur die goed wat ons soms kwytraak vrees in ander se harte te veroorsaak nie. Ons ‘heavenly mindedness’ moet nie in die pad kom van die redding van ander siele nie.

Soms herinner ek myself weer aan die versie in Job 42:7: Nadat Hy met Job gepraat het, het die Here vir Elifas die Temaniet gesê: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende, want julle het nie die waarheid oor My gepraat nie.” My gebed my liewe vriendin in Jesus is dat ek en jy altyd die waarheid sal praat oor Jesus met insig en wysheid wat ons afbid van God in die hemel. My gebed is dat ek en jy die fyn lyn sal aanvoel en sien tussen ‘Heavenly mindedness’ en ‘no earthly good’. Dat ons magnete sal wees vir die Koninkryk. Dat ons mense sal aantrek, nadertrek na God se hart en nooit ooit die rede wees hoekom hulle holderstebolder in die teenoorgestelde rigting sal vlug nie.

 

4 Replies to “Met jou Kop in die Hemelwolkies.”

  1. So ongelooflik waar!!! Nou sal ek weer ekstra versigtig wees en ‘n wag voor die mond plaas. Stukkies elke week is so waardevol.

Leave a Reply to Jossy Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *