Die Fluistering in die Windstilte.

Donderdae oggende is my jaag oggende. Nee ek weet nou nie presies hoekom nie, maar dit voel meestal soos ‘n: op-jou-merke-gereed-gaan, dag. So is daar nie tyd vir wonder wat om aan te trek nie, mits ek die girls met ‘n nat kop en sonder grimering (wat jy nooit sal sien nie!) wil gaan aflaai nie.

So ek gryp toe vanoggend eerste die Wees stil tekkies- want ek maak mos hoeka reg vir ‘n gehollery! Ek het die tekkies by ‘n vriendin gekoop en laat druk, om my deurentyd te herinner dat ek moet leer om stil te wees en te vertrou. Dat waar my voete gaan, met of sonder die Wees stil tekkies aan, daar is God. Langs my. In my. Om my. Agter my. Bo my. Onder my… oral…En net daar in die besig, gryp-en-gaan oomblik praat God met my.

Luister Ps. 46:10 is al soos ‘n refrein in my kop- tipe van ‘n mantra. Oorbekend en besonders geliefd. Surrender your anxiety! (uitroepteken want dis ‘n opdrag nie ‘n voorstel nie) Be silent and stop your striving and you will see that I am God. (So in die stilte gaan ons sien Hy is God) (Ps. 46:10 TPT) Nie in die gespoeg en gespartel om jou kop bo die water te hou nie.

Daar is nog so verskriklike mooi versie wat my aan my hart en siel gryp en dit staan in 1 Konings 19:11-12: Skielik was daar ‘n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar’n aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. Na die aardbewing was daar ‘n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar ‘n fluistering in die windstilte.

Hoor jy waar God nie is nie, hoor jy waar God wel is? … in die windstilte. In die stilte is dit makliker om God te hoor en te beleef in die stilte sal Hy jou inwag. En vanoggend toe ek klaar maak dink ek sommer aan ‘n paar mensies.

Ek dink aan ‘n klein babadogtertjie wat op 6 weke aan Covid dood is… die pad van smart wat haar ouers en familie moet loop, maar dis nie ‘n alleenpad nie, dis ‘n pad waar die Here, in Sy drie-eenheid, stil-stil langs hulle opdaag, inval  en saamstap.

Ek dink aan die 3 gesinne wat se lewe onherroeplik verander het ‘n jaar terug in die Kalahari, niks sal ooit weer vir hulle dieselfde wees nie, maar ek lees ook die wees stil en weet dat Hy God is oomblikke vervleg in ‘n storie van pyn en aanvaarding.

‘n Vriendin se moed en uithouvermoë en haar vermoë om stil te wees en te vertrou verstom my… en dit terwyl haar huwelik aan skerwe by haar voete lê. Van moed opgee is daar nie sprake nie, sy het ‘n afspraak met die God wat in die windstilte is.

Hoor wat God vanoggend vir jou sê in die windstilte liewe vrou na aan Sy hart: Bly jy maar kalm liefste dogter, Ek sal vir jou veg. (Eks. 14:14) Vertrou in stilte op My, (Ps. 37:7) kom stort jou hart voor My uit. (Ps. 62:9) Wag geduldig op My, kom vind rus en kalmte by My. Kom wees tevrede by My. (Ps. 131:2-3) Liewe kind, jy wat reg doen, sal vrede hê; jy wat volhard in regdoen sal vir altyd rus en sekerheid geniet. (Jes. 32:17) Waar lê jou krag my liewe kind? Jou krag lê in stil wees en vertroue en (Jes. 30:15) wanneer jou krag op is en jy swak voel is My genade vir jou genoeg! My genade was nog altyd vir jou genoeg. (2 Kor. 12:9) Ek maak die stormwind stil en laat die golwe van die see bedaar… ook vir jou. (Ps. 107:29) Kom soek My in die fluistering van die windstilte.

My liewe vriendin, ek ken nie die detail van jou lewe, of die storie van jou seer of teleurstelling, of jou trane van vreugde of krete van oorwinning nie. Maar ek ken wel die God van die stiltes. Die God wat opdaag, onderskraag, dra en ondersteun. Wees stil voor die Here, (Sag. 2:13) liewe vriendin, Hy is in Sy heilige tempel: ek en jy hier op die aarde moet in Sy teenwoordigheid stil wees! (Hab. 2:20)

 

 

2 Replies to “Die Fluistering in die Windstilte.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *