Dankie, maar Nee Dankie!

Jy weet kinders sal mens nooit ooit ten volle kan verstaan nie, een dag wil jy hulle plat veeg met die aarde om net die volgende oomblik te dink jy kan hulle sommer opeet so oulik is hulle. Nie te lank terug sê ek so in die verby loop vir my twee girls dat ek vandag die kombuis gaan uitpak, skoonmaak en regruk. Is iemand lus om my te help? Nie verpligte oefening nie, maar ek sal dit darem so waardeer! Ousus stem dadelik in want sy hou van regpak en organiseer. (En sy voel altyd woes sleg om my alleen te laat werk) Kleinsus was nou nie oordrewe opgewonde oor die vooruitsig nie, maar stem toe maar in, jy weet groepsdruk en al.

So pak ons die takie met ywer, lap en Domestos aan en lekker tiener musiek wat die hele huis deur blêr. So vier ure later is die kombuis silwerskoon en elke kassie is uitgepak, gestof, gewas en teruggepak. Harde werk hoor! Ek troos sommer vroeg al as ons klaar is popcorn en fliek ons sommer en ons kan mos maar dis dan vakansie! Ek haal so stilletjies vir elkeen ‘n geldjie uit en gee dit vir hulle toe ons klaar gewerk het. Nogals heel verontwaardig sê hulle asof uit een mond, dankie mamma, maar nee dankie. Ons het mamma gehelp omdat ons vir mamma lief is, nie omdat daar moontlik ‘n betaling sou wees nie!

Stomgeslaan… dis nou ek, want watter tiener sê nee vir ‘n blou geldjie? Nietemin en daar praat God met my oor gee en ontvang. Oor gee en doen sonder om iets terug te verwag. Want wat kan ek en jy gee? Ons tyd, geld en ons kan ons gawes en geskenke van Bo met ander deel! Hoe moet gee lyk?

Verantwoordelik is beslis die eerste woordjie wat sommer in my kop opkom. Om onverantwoordelik te gee is om vir iemand van die wal af binne in die sloot in te stoot en jy klop jouself mooi netjies op die skouer en weet nie jou geld raak alkohol of dwelm geld nie. Ai! Gee as gevolg van skuldig voel is nie altyd ‘n goeie gee nie.

Hoe wil God hê moet my en jou gee lyk? Ek dink sommer nou aan party mense se gee. Hulle gee vir iemand ietsie soos kos of klere en dan neem hulle ‘n video of ‘n foto’tjie en plaas dit so ewe op FB. Gaan lees bietjie Matteus 6:1-4 die opskriffie daar: As julle armes help. Dit gaan juis om gesien te word, as almal op aarde jou op die skouer klop en prys daar in die comments, dan het jy klaar jou beloning weg.

Matteus 6:3 sê dit so duidelik: Nee, as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou goeie daad verborge kan bly. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon. Gee ongesiens met liefde en genade in jou handeling, moenie die ontvanger laat klein voel nie.

Dis baie moeilik om te ontvang van God se oorvloedige seëning reguit uit die skatkamers van die hemel as jou hande vol wêreldse goeters en dinge is. Vol hande kan nie ontvang nie. Wie mededeelsaam is word geseën. (Spr. 22:9)

Jy my liewe vriendin in Jesus, jy is geseën om tot seën te wees vir ander. (Gen. 12:2) As jy dink ek praat van geld, dan is geld die heel laaste ding waaraan ek dink. As jy geld het is dit moontlik die maklikste gee. Nee ek praat van effort. Seën iemand vandag met ‘n glimlag en opregte belangstelling hoe dit regtig gaan. Seën ‘n ou tannie en help haar haar inkopies uitlaai uit haar trollie. Help die verlore kleuter in die mall om haar mamma te soek. Nou het ons nog niks geld uitgegee nie, net aandag, liefde, geduld en tyd vrylik uitgedeel.

Daar is mense wat vrylik uitdeel en tog steeds meer het, daar is ander wat suinig is en tog arm word. Wie ‘n ander voorspoed gun, sal self oorvloed hê. Wie die dors van ander les, sal self genoeg kry as hy dors is. (Spr. 11:24-25) Jy hoor nê?

Maak jou skatte in die hemel bymekaar. (Matt. 6:21) Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet. (Matt. 10:8) Deel genade, tyd, jou talente en gawes en liefde verniet uit, moenie ‘n klop op die skouer verwag nie.

Onthou liewe kind, elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. (Jak.1:17) Om te gee, maak mens gelukkiger as om te ontvang. (Hand. 20:35) Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dit is die offers wat vir God aanneemlik is. (Heb. 13:16)

Gee omdat jy God liefhet, gee omdat jy ietsie wil doen wat Sy hart sal bly maak, want God het die blymoedige gewer lief. (2 Kor. 9:7) Wees Jesus se hande, voete en hart hier op aarde, nie omdat jy vriendelik verplig voel deur die Woord of die kerk nie, maar doen dit omdat jy diep dankbaar is vir ganade onbeskryflik groot aan ‘n Houtkruis op Golgotha. Doen dit omdat jy Jesus bitterlik lief het.

 

4 Replies to “Dankie, maar Nee Dankie!”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *