Liefde in Onbeantwoorde Gebede…

As ‘n dogtertjie van 12 jaar oud, was ek klaar broeis, regtig! Ek wou opsluit my eie babatjie hê, gits op daardie stadium het ek nie eers geweet ‘it takes two to tango’ nie. Dit was my hartsbegeerte… dit het gehelp dat my ma ‘n dagsorg by die huis bedryf het, man ek het lekker pop gespeel! Ek is so bly God het nie my gebed beantwoord om op 12 al ‘n mamma te wees nie.

Tydens my opleiding as jong verpleegstudent het ek in Universitas se SSE eenheid gewerk, dis ‘n Spesiale Sorg Eenheid vir premature babas. Sjoe!  Daar het ek eers lekker pop gespeel, van daai klein baba-lyfies was so bitter klein en cute en oulik. Ek praat van minder as 1,5kg klein. ‘n Skamele botter en ‘n half. Dit was die lekkerste ding om hulle te voed, en te bad en te versorg. Dis soos om ‘n kleuter in ‘n speelgoedwinkel of lekkergoedwinkel vrye teuels te gee. Ek het gebid dat ek ook eendag so klein babatjie kon hê, sjoe ek is so dankbaar God het besluit om my versoek te ignoreer en vir my ‘n meisiekind wat twee keer plus soveel weeg af te lewer.

Voor ousus se geboorte wou ek bitter graag ‘n tweeling hê, twee sussies wat mekaar se beste maatjies kan wees, saam-saam die lewe aandurf en oorwin. Ek het nie gedink dis ‘n onredelike gebedsversoek nie… daar was tweelinge in beide my en Jannie se familie, so beslis nie ‘n onmoontlike versoek nie. Hier is die ding… na ousus se geboorte het my vra-gebed vir ‘n tweeling verander in ‘n smeek-gebed dat die volgende ene tog net groot asseblief nie twee moet wees nie. Ek was diep dankbaar vir ‘n God wat beter geweet het, wat nie vir my gegee het wat ek gevra het nie, maar my eerder gegee wat ek nodig gehad het.

Sommige van God se onbeantwoorde gebede raak juis soms ons grootste gekenke, wanneer jy weet God behandel jou nie soos ‘n bedorwe brokkie wat alles kry wat jou en my hartjie begeer nie, maar dat Hy te lief is vir ons om net te gee…

Onbeantwoorde gebede is nie stilstuipe van God se kant af nie. Daar is soveel liefde en genade opgesluit in onbeantwoorde gebede. Onbeantwoorde gebede is gebede wat God aanhoor, maar nie noodwendig met jou saamstem oor hoekom en waarom nie. Dis wanneer ek en jy in Sy Godheid en goedheid moet berus, want Hy is God! God is altyd goed, in alle en elke omstandigheid. God weet altyd beter… Hy weet altyd wat die beste is vir jou en wat nie.

God hoor elke versoek, smeekgebed wat jy voor sy voete uitstort. 1 Johannes 5 ver 14 sê so mooi: En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat ons gebede verhoor as ons enigiets volgens Sy wil vra. Ja, miskien word al die begeertes van my hart nie vervul soos wat ek wil nie, maar die feit bly staan, ek kan met vrymoedigheid by my Pa se paleis in loop en al my begeertes, behoeftes en versoeke tot Sy hart rig. Weet Hy nie in elk geval wat ons gaan vra nog voor ons ‘n woord uiter nie. U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. U is met al my paaie goed bekend. Daar is nog nie ‘n woord op my tong nie, of U here weet wat dit gaan wees. (Ps. 139: 2-4)

Die Here sorg vir die opregtes en luister na hulle hulpgeroep. (1 Pet. 3:12) God sien. God weet. God gee om. God luister.

Weet jy wie in die Bybel se benoude-smeekgebed is ook nie beantwoord nie? Jesus in die tuin van Getsemane. “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.” (Matt. 26:39) As dit van menslike emosies afgehang het was daar dalk nooit ‘n kruis nie. Besef jy die implikasie vir my en jou vir hierdie onbeantwoorde gebed van Jesus? Dit sou maklik gewees het vir Vader om Sy enigste Seun se gebed te beantwoord, Hom te red uit die kloue van die mensdom. Maar wat dan van my en jou?

Jesus bid eintlik dan: Laat My wil en wat U wil een dieselfde ding wees. Miskien moet dit my en jou gebed wees. Om in God se wil te leef. Daar is nie ‘n beter, veiliger plek om te wees as in die wil van God nie!

Ek bid Psalm 25:5-7 (TPT) vir jou en oor jou my liefste vriendin in Jesus,

  • Escort me along the way, take me by the hand and teach me.
  • I have wrapped my heart into Yours!
  • Give me grace, Lord! Always look at me
  • Through your eyes of love-
  • Your forgiving eyes of mercy and compassion.
  • When you think of me, see me as one you love and care for.
  • How good you are to me!
  • Amen!

2 Replies to “Liefde in Onbeantwoorde Gebede…”

  1. Ag hoe wens ek nou ek was ook daar. Ons het altyd in Knysna of Plet gaan vakansie hou. Maar alle goeie dinge gaan verby. Julle moet dit BAIE geniet. Liefde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *