Sproetjies.

Sjoe! Dankie Kleinsus vir Sproetjies. Ek eer die Here vir die talent waarmee Hy jou vir nou toevertrou het!

Ek is mal oor musiek. Ek luister omtrent altyd na musiek. Sonder musiek sal ek nie ek wees nie! Ek luister die meeste Christelike musiek, maar regtig enige musiek kan gaan. (Behalwe klassiek, boeremusiek en die Briels, daar trek ek ‘n defnitiewe streep) Die beste geskenk wat Jannie nog ooit vir my gegee het, is ‘n draagbare speaker. (Dankie my engel!) Ek vat die speaker oral saam waar ek gaan. As ek skryf, stryk, wasgoed ophang… die werke. Die ergste is ek sing kliphard saam… Jannie sê hoeka ek klink soos ‘n kat op ‘n warm sinkplaat… arme bure!

Gister is ek oppad skool toe vir my daaglikse me-time. Dis nou die 30-minute wat ek voor die Hoërskool sit en boek lees! Oppad luister ek Sproetjies. Ek raak sommer nostalgies, want dit is mos musiek waarmee ons grootgeword het. Ek raak sommer so bietjie opstandig en ongeduldig met Sproetjies wat haar self nie deur sy oë gesien kan kry nie. Ai en dis mooi goed hoor:

“Sproetjies, daars ‘n reënboog in jou oë, almal wil graag soos jy wees, want jy’s pragtig, lieflik”. En die jare stap aan en Sproetjies verander van ‘n lelike eendjie in die mooiste swaan, ‘n swaan wat kan dans ook nog, met ‘n gehoor wat sy bekoor, maar wat sê Sproetjies? “Ek wens ek kon my deur jou oë sien…”

Ai Sproetjies… wat is jou probleem? En weet jy wat, daar vra God vir my… Martha wat is jóú probleem, hoekom sukkel jy so om jouself deur my oë gesien te kry? Vriendin is dit nie maar ons almal se probleem nie? Is ons nie maar, ieder en elk die Sproetjies in ons eie song nie? Ons bekyk, oordeel en veroordeel onselwers deur ons eie oë en basta met die res. Einde van die storie.

Ek lees ‘n artikel van bekende en minder bekende vrouens, en almal sê teen 60/70 het hulle eers vrede gemaak met wie hulle is. Was hulle eers tevrede! Moet ek en jy nog 20 of 30 jaar net so voortploeter… onseker wie ons is? My en jou selfbeeld en sekerheid behoort nie te lê in hoe ons lyk of wat die skaal vir ons skree as ons dit durf waag om op te klim nie! Of ons gesig rond is, vol plooie, of lank en maer nie.  Of jy gemaklik moet raak in ‘n appel-, peer-, reguit of uurglas vorm… Wees net lief vir jouself toe, net soos jy is… sonder die lysie van alles wat minder perfek en goed is.

God wil so graag hê dat op jy hierdie oomblik jouself net vir ‘n slaggie, net vir ‘n moment deur Sy oë bekyk net bietjie sien wat Hy sien…

Jy is My kind, ja dit maak jou My dogter. (1 Joh. 3:1) Ek het jóú lief. (Joh. 15:9) Jy is ‘n oorwinnaar want My liefde vir jou sal altyd wen. (Rom. 8:37) Jy liefste dogter behoort aan My, afgesonder vir My. (1 Pet. 2:9) Ek kies jou! (Joh. 15:16) Oor en oor, weer en weer…

Jy is werklik vry. (Joh. 8:36) Jy my liefste kind is baie werd, baie meer as edelstene. (Spr. 31:8) Ek sien dwarsdeur jou, Ek ken jou! (Ps. 139:1) Ek het jou op ‘n wonderbaarlike wyse geskape, jou gevorm in die skoot van jou moeder. (Ps. 139:13-14) Voor Ek jou in jou moederskoot gevorm het, het ek jou reeds geken! (Jer. 1:5) Ek het jou na My beeld geskape. (Gen.1:27)

Jy is vir my kosbaar en Ek ag jou hoog. (Jes. 43:4) Ek veg namens jou. (Eks. 14:14) Vir jou, liefste dogter, sal Ek nooit verlaat nie, nooit in die steek laat nie. (Heb. 13:5) Ek gee aan jou lewe, en asem, en alles. Deur My lewe jy, beweeg jy en bestaan jy. (Hand. 17:25,28)

Ek skenk aan jou alles in oorvloed sodat jy van alles genoeg kan hê. (2 Kor. 9:8) Ek seën jou met al die seëninge van die Gees. (Ef. 1:3) Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo, kom van My. (Jak. 1:17) Ek hoor jou gebede. (Ps. 54:4) Ek is geduldig met jou. (2 Pet. 3:9)

Ek is liefde. Bly in My liefde, liefste dogter. (1 Joh. 4:16) My liefde vir jou is sterk, aan My trou is daar geen einde nie. (Ps. 117:2) Ek is lig, in My is daar geen duisternis. (1 Joh. 1:5) Moenie bang wees nie, Ek sal jou help. (Heb. 13:6)

Ek is jou krag en beskermer, Ek gee aan jou genade en eer, Ek sal die goeie nie van jou weerhou as jy reg lewe nie. (Ps. 84:12) Ek sal jou help. (2 Kron. 32:8) Dag na dag dra ek jou. (Ps. 68:20) Jy is veilig liewe kind, Ek dra jou teen My bors, naby My hart. (Jes. 40:11)

Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde. (Openb. 22:13) Ek is genadig en regverdig. Kom tot rus, Ek het goed aan jou gedoen. (Ps. 116:5,7) Ek is ‘n goeie goeie God en Vader en jou Vriend. (Joh. 15:14)

Ek sal jou ‘n onverdeelde hart en ‘n vaste koers gee. (Jer. 32:39) Moenie vergeet nie, Ek is vir jou, nie teen jou nie. (Rom. 8:31) Ek het jou naam in My handpalms gegraveer… (Jes. 49:16) Selfs die hare op jou kop is almal getel. (Luk. 12:7) Ek, die Here jou God, is by jou, Ek die Krygsman wat jou red. Ek is vol vreugde oor jou, Ek is stil-tevrede in My liefde vir jou. Ek jubel en juig oor jou My liefste liefste Sproetjies… (Sef. 3:17)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *