Plafon-vasslaan-gebede.

Weet julle wat doen ek vanoggend? Ek kook vleis van die Gemsbok bene af om pasteie te maak, harde werk. Maar weet jy wat is die lekker deeltjie? Die stoompot vat 2 ure om 4 pakkies vleis af te kook so ek sit ‘n spulletjie vleis in, en dan sit en skryf ek so tussen in (met my voorskootjie aan- tog te ge- domesticated) met die stoompot wat sy eie eentonige deuntjie op die stoof sing.

Soms raak die lewe bietjie erg nê, tye wat jy ver van God af voel. Tye wat dit kompleet voel of jou vroeë-wakker-lê gebede teen die plafon vasslaan en jou mooi netjies teen die voorkop tref. Voel jy soms so? Voel jy dalk presies op die oomblik so? So asof daar ‘n onsienbare, onoorkombare muur tussen jou en God ingeskuif het, ongenooid, ongevraag.

Ek dink sommer nou aan die versie in Jeremia 17:9 dit sê: Die hart is bedriegliker as enigiets  … wat ons dink en voel oor God en waar Hy tans is, is soms so bedrieglik en ek dink soms dis ‘n lekker wapen wat die vyand teen ons kan gebruik. Weet dit… waak daarteen. Ons ‘hart’ is ‘n menslike orgaan, menslike emosies van onsekerheid, vrees en verlatenheid kan tog so maklik daar kom nesskop en huismaak en die oorhand kry.

Dit los nog nie die probleem op met die wakker lê en plafon-vasslaan-gebede nie. Wanneer jou gebede in die plafon wil loop vasslaan gryp na die Woord van God wat op jou bedkassie lê. U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad. (Ps. 119:105)

Miskien is daar ‘n muur tussen jou en God? Ene wat jy sommer self gebou het, sonder bouplanne, sonder goedkeuring. Dit is julle oortredeinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God. (Jes. 59:2) Miskien is die muur se naam sonde, skaamte, of ‘n gevoel van nie goed genoeg nie? Dan moet ek en jy ‘n tien pond hammer aanskaf en ons skewe muurtjies van sonde en skaamte plat vee met die grond. Vergifnis pleit en dan die wonderlike gawe van genade-vergifnis aanvaar en ons eie maak en ophou om te doen wat die muur in die eerste plek laat opspring het. Ek en jy moet onsself vergewe. My en jou geheue is kort, ons bly bietjie vergeet dat die bloed van Jesus die voorhangsel van die tempel geskeur het en dat ek en jy vrye toegang het tot ons Pa in die hemel.

Onthou my liewe vriendin in Jesus. God is getrou en regverdig. Hy vergewe ons sondes en vergeet daarvan. Ag moenie dat die vyand langer van jou steel nie. Jy is witter as sneeu my liewe  vriendin  op die bed met jou starende oë gerig op die plafon!!

Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy die wat Hom soek beloon. (Heb. 11:6) Miskien is dit juis in die middel van die donker nag dat ons God moet opsoek wanneer ons fyner ingestel is op hoor en luister. Wanneer die geraas van die lewe bietjie afneem en in die agtergrond verdwyn. Miskien raak dit nie slapelose nagte  van bekommernis en wroeg nie, maar intieme gesprekke en tye met die God van die hemel en aarde, maar ek en jy luister eerder na die fluistering van die donker om ons as die LIG binne ons.

God het vir my ‘n baie besige verbeelding gegee, en ek gebruik dit sommer graag. Wanneer God ver voel en die nag is donker, sien ek hoe Hy by die kamer instap en langs my op die rand van die bed kom sit met Sy hand op My kop, soos jy maak met jou bang kindertjies in die nag, met ‘n vraag in Sy liefdevolle oë, wat is fout? Is jy okay?

God sluimer nie en Hy slaap nie. (Ps. 121) Wanneer jy snags wakker skrik met ‘n kloppende hart, gesels maar net met Hom, Hy is wakker en daar by jou. Los maar die skaap tellery, praat met die Herder van Psalm 23. Hy is altyd gretig om te hoor wat jy te sê en Hy wil so graag met jou gesels. God is alomteenwoordig…

Wanneer vrees soos sweetdruppels op jou lyf uitslaan in die middel van die nag. Onthou: Jesus wil hê ek en jy moet vry wees van sorge. (1Kor. 7:32) Jesus het ons nie ‘n gees gegee van vrees nie, die Gees wat God ons gegee het vul ons met liefde, krag en selfbeheersing. (2 Tim. 1:7) Vrees kom nie van die Here af nie! Miskien moet ek dit weer sê: As jy tans in vrees leef, dit kom nie van die Here af nie!

Liefste vriendin onthou altyd… skryf dit op jou hart, niks kan jou van die liefde van God skei nie! Niks! Verseker nie ‘n plankdun plafon nie. Weet jy wat doen ons nog, miskien is ek veral daar skuldig, ons gee alles vir God, ons probleme, ons versugtinge, ons versoeke… maar wanneer ons in die diepte van die donker nag wakker skrik, dan gaan haal ons dit weer by Hom, daar by Sy voete waar ons dit gelos het. Ons is nog nie klaar bekommerd gewees en getob oor ons menslike probleme nie.

Ek praat graag met God in die nag en wanneer ek klaar gesê en geluister het dan sê ek hierdie versie oor en oor tot ek weer saggies aan die slaap raak… Nou sal ek ONBESORG gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want Here, U ALLEEN, laat my veilig woon. (Ps. 4:9)

4 Replies to “Plafon-vasslaan-gebede.”

    1. “Our prayers may be awkward. Our attempts may be feeble. But since the power of prayer is in the one who hears it and not in the one who says it, our prayers do make a difference.” Max Lucado

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *