Die afgelope paar dae, amper weke loop en stoei ek so bietjie met die Liggaam van Christus en hoe dit my raak. Wat beteken dit regtig? En ek moes myself bietjie afvra: Waar pas ek in die liggaam in? Funksioneer ek optimaal? Doen ek wat ek wil of doen ek wat God wil? Is ek die liggaamsdeel waarvoor ek geskape is, of het ek sommer self besluit in my eie-wysheid waar ek beter inpas?
Christus is die hoof van die kerk. (Ef. 5:23) Die hart is een van die belangrikste dele van die liggaam, daar is ook net een hart. Jesus is die hart wat bloed voorsien aan elke liggaamsdeel, kos en lewens noodsaaklike suurstof. Weet jy wat gebeur met ‘n vinger wat met ‘n vleissaag afgesaag word? As die vinger nie baie vinnig na amputasie terug gewerk word nie gaan die vinger dood. Hoekom? Want die bloedtoevoer word onderbreek. In die Liggaam is ons aan mekaar en aan Jesus verbind deur Sy bloed. Sy bloed wat aan die kruis op Golgotha van Sy kop afgedrip het nadat ‘n mensgemaakte doringkroon daarop geforseer is.
Jesus self sê vandag vir jou: Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie. (Joh. 6:35) Jesus is die bron van my en jou krag. Die liggaam kort kilojoules sodat die hart kan klop, jou oë kan knip en jou voete kan loop. Sonder kos gaan jy dood. Sonder Jesus is jy dood lank voor jy nog hier op aarde gesterf het. Jesus is letterlik die brood wat my en jou aan die lewe hou.
Al is ons baie, saam is ons een liggam. (1 Kor. 10:17) Een liggaam, ek dink ons moet mooi dink wat dit beteken. As een deel van die liggaam van Christus ly, ly die hele liggaam, dan funksioneer die eenheid nie optimaal nie. Elke deel van die liggaam is anders met aparte funksies. Diversiteit en andersheid is sommer die woorde wat in my kop opkom. As jy nie deel is van die liggaam van Christus nie, sal jy nooit optimaal funksioneer as volgeling van Jesus nie. Dis nie ‘n ekstra opsionele tipe situasie nie. Wie gaan jou optel as jy val as jy nie deel is van die groter prentjie nie?
Dele van die liggaam besluit nie wie is belangrik en wie nie. Daar is verseker dele wat meer sigbaar is as ander dele, maar luister, onsigbaar beteken nie onbelangrik nie. Elke deeltjie van die liggaam is relevant, vitaal belangrik om die liggaam as ‘n geheel optimaal te laat funksioneer. Ek dink sommer nou aan die stiebeuel, ‘n bitter klein, onsigbare beentjie in jou middeloor, as die beentjie skade kry kan jy nie hoor nie. Dis nie ‘n sigbare groot ‘in your face’ tipe beentjie nie. Stil-stil doen daai beentjie sy werk as deel van die groter prentjie.
Jy doen nie goed aan jou liggaam wat jy voor jou siel weet is sleg vir jou nie. Jy kyk na jou liggaam, versorg jou liggaam. Net so as lede van een liggaam is lede vir mekaar verantwoordelik. Ons moet ondersteun en help waar ons kan. Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar. (Rom. 12:5) Jy moet daai vriendin van jou optel as sy struikel jy moet ondersteun, onderskraag, help heelmaak want wanneer sy struikel, struikel jy ook as deel van die liggaam van Christus.
Elke deel van die liggaam het sy aparte funksies. Jy het jou gawes ek het myne. Ons verskil, maar ons het Jesus in gemeen en dit verbind ons tot ‘n eenheid- die Liggaam van Christus. Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie” (1 Kor. 12:21), in die liggaam van Christus is daar nie plek vir beterweterigheid nie. So broodnodig soos wat ons Jesus het so nodig het ons mekaar. Ek het nodig om te vra: “Sal jy saam met my bid?” Ons het mekaar nodig om te oorleef in die wêreld van vandag en as jy jouself oortuig het jy het niemand nodig behalwe Jesus nie, dan jok jy vir jouself en jy mis uit.
Wil jy weet hoe die liggaam van Christus behoort op te tree, hoe jy behoort op te tree? Gaan lees 1 Konrintiërs 13. Geduldig, vriendelik, nie afgunstig, nie grootpraterig, nie verwaand nie. Handel nie onwelvoeglik, is nie self-behep nie, nie liggeraak nie, HOU NIE BOEK VAN DIE KWAAD NIE. Die liefde bedek immers alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.
Wanneer ‘n klompie mense as ‘n eenheid saamwerk is daar altyd menslike onderstrominge en emosies. Ons is immers nie robotte nie. Ons het lewende kloppende harte, nie ‘n ‘microchip’ wat geprogrameer kan word nie. Die liggaam van Christus gaan ook nie oor jou denominasie, kerk, tradisies en wie sit waar in die kerk nie. Dit gaan oor Jesus. Net Jesus. Altyd net Jesus. Een liggaam, een Gees, een Jesus.